Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-studenteraad so reg soos ʼn roer vir 2018

Gepubliseer op: 2 Februarie 2018

Akademia se studenteraad (SR) wat einde 2017 aangekondig is, is slaggereed om hul medestudente te ondersteun nadat hul ʼn beplanningsprogram, vanaf 26 tot 27 Januarie 2018, by die Akademia-hoofkantoor in Centurion bygewoon het. Na ʼn gasvrye verwelkoming deur Akademia-personeel, het die strategiese beplanning begin en is elke SR-lid se portefeuljes toegeken en rolle duidelik uiteengesit.

Die SR het groot doelwitte vir die jaar gestel, om sodoende die studentelewe te bevorder en ʼn akademiese ondersteuningsraamwerk te skep. Die doelwitte sluit in om studente aan te moedig om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak, en om studiegroepies te vorm en werkswinkels by te woon.

Sunel Combrinck, SR-koördineerder en Vakhoof: BCom Ondernemingsbestuur, is baie opgewonde oor vanjaar se SR en beskryf hul as ʼn dinamiese groep wat mekaar op ʼn unieke en besonderse manier aanvul. “Die SR-lede het hulle portefeuljes onmiddellik aangegryp en strategieë beraam om vanjaar se studentelewe onvergeetlik te maak en kommunikasiekanale tussen Akademia en studente te vergemaklik,” vertel Combrinck.

Die SR poog om vanjaar Akademia se eerste joolddeelname suksesvol af te skop en het reeds bestaande en nuwe studente betrokke hierby gekry. Die jool vind plaas op 9 Februarie by Cowhouse Market in Pretoria. Ander aksies waarna studente kan uitsien is ‘n damestee, ’n golf-kompetisie, erfenisvieringe en Meneer, Mejuffrou en Mevrou Akademia.

Die portefeuljes en areas is soos volg toegeken:

  • Suné Samons – Voorsitter, verantwoordelik vir die studiesentrums in Boksburg en Namibië.
  • Runé James – Adjunkvoorsitter, verantwoordelik vir die studiesentrum in Centurion.
  • Carlissa Kuun – Akademie, verantwoordelik vir die studiesentrums in George en Port Elizabeth.
  • Danile Basson – Sport, verantwoordelik vir die studiesentrum in Krugersdorp.
  • Danielle Kleyn – Kultuur, verantwoordelik vir die studiesentrum in Pretoria Lynnwood.
  • Clarissa de Lange – Bemarking, verantwoordelik vir die studiesentrum in Vanderbijlpark.
  • Veronica Stigling – Sosiaal, verantwoordelik vir die studiesentrum in Centurion.
  • Terrance Robin – Tesourier, verantwoordelik vir die studiesentrums in Bellville, Somerset-Wes en Paarl.
  • Alicia Groenewald – Sekretaresse, verantwoordelik vir die studiesentrum in Pretoria Moot.
  • Zandré Jansen van Rensburg – Gemeenskapsontwikkeling, verantwoordelik vir die studiesentrum in Bloemfontein.

 

Samons, ʼn finalejaar bestuursrekeningkunde-student, verduidelik waarom sy besluit het om by Akademia te studeer: “By Akademia is studente deel van ʼn gemeenskap wat bystand en motivering bied aan mekaar, terwyl hul in hul moedertaal gehalte hoër onderwys ontvang. Om nou as die voorsitter vir die SR te dien, beteken dat ek, saam met my mede SR-spanlede, kan bydra tot die groter prentjie, om te help bou aan die Afrikaanse studentegemeenskap.”

Samons se raad aan nuwe Akademia-studente: “Raak betrokke by die aktiwiteite wat deur die loop van die jaar plaasvind. Leer hard en vertrou op die Here. Hy sal jou dra en met jou wees in alles wat jy doen.”

Met ʼn dinamiese en talentvolle SR soos vanjaar, gaan elke student, oud en jonk, landswyd en in Namibië, voel of hy of sy deel is van Akademia se hartklop. Die 2018 akademiese jaar beloof om groot opwinding vir studente in te hou