Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia skep hoop vir Namibiërs

Gepubliseer op: 16 Februarie 2018

Akademia se nuwe studiesentrum in Windhoek is Saterdag, 10 Februarie 2018 amptelik in gebruik geneem. Hierdie studiesentrum is een van dertien studiesentrums wat die geleentheid aan studente bied om in hul moedertaal hoër onderwys te ontvang.

Die oprigting van die Namibiese studiesentrum het voortgespruit uit versoeke vanuit Namibië se Afrikaanssprekende geledere om ’n studiesentrum in die buurland te open. Akademia se hoëtegnologie-onderrigleermodel, wat dosente en studente in ’n virtuele studieruimte bymekaarbring, het die uitbreiding na Namibië moontlik gemaak. Na-uurse klasse word vanaf die ateljee in Centurion, Suid-Afrika, na alle Akademia-studiesentrums uitgesaai.

Paul Vogel, operasionele bestuurder van Akademia, meen dat die uitbreiding na Namibië ’n groot mylpaal vir dié hoër onderwysinstelling is. “Nou kan ons vir nóg meer studente ’n beter toekoms skep deur nie net hoë gehalte onderrig te bied nie, maar ook by te dra tot hul vorming as mens en hul betrokkenheid in hul gemeenskap.”

Akademia het in oorlegpleging met NAQA (Namibian Qualification Authority) ooreengekom dat geakkrediteerde Suid-Afrikaanse kwalifikasies deur middel van die unieke verspreide leermodel aangebied kan word. Akademia is by die Suid-Afrikaanse Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoër onderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997.

“Die opening van Akademia se studiesentrum in Namibië is ʼn opwindende gebeurtenis, waarop uitgebou word om die visie van uitnemende moedertaalonderrig na al nuwer hoogtes te neem,” vat Vogel saam.

Aansoeke om gedurende die 2019 akademiese jaar by Akademia te studeer, open op 1 Maart 2018.