Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-studente begin opvoedkundige speelruimte by Filadelfia Ark

Gepubliseer op: 9 September 2019

Vyf Ondernemingsbestuurstudente in hulle finale jaar by Akademia het op Vrydag 6 September die rooi lint geknip tydens die amptelike opening van die nuutopgerigte Speelgrot by ʼn sorgsentrum in die weste van Pretoria. Hierdie sentrum, genaamd Filadelfia Ark, verskaf skuiling en voedsel aan ongeveer 500 persone, waarvan 140 kinders is, wat nie andersins ʼn heenkome sou hê nie.

Hierdie studenteprojek, die Speelgrot, bied ʼn veilige speelruimte vir kinders tussen die ouderdomme van vyf en nege wat by die sorgsentrum woon. Die doel van hierdie gemeenskapsprojek is om hierdie kinders bloot te stel aan opvoedkundige speelgoed en hulle sodoende toe te rus met lewensbelangrike intellektuele en fyn motoriese vaardighede. Hierdie speelruimte sal gedurende skoollesse en pouses deur onderwysers by Filadelfia Ark gekoördineer word.

Die groepslede van hierdie projek – Marlette Smit, Minette Nel, Nadine Slump, Franco Smith en Yolandi Kruger – is baie trots op die eindresultaat van die Speelgrot. “Na nege maande se harde werk en deursettingsvermoë kon ons die projek ʼn werklikheid maak en ʼn leë kamer transformeer in ʼn ingerigte speelkamer,” sê Kruger. “Dit was absoluut die moeite werd gewees toe ons die glimlagte en opgewondenheid op die kinders se gesigte sien toe ons die deure van die Speelgrot vir die eerste keer oopmaak.”

Kruger meen dat elke kind verdien om te speel en te leer. “Ons wou die kinders graag blootstel aan opvoedkundige speelgoed – nes toe óns jonger was – sodat hulle ook die geleentheid het om te kan eksperimenteer en daardeur hulle vaardighede ontwikkel en verbeter.”

Dirk van Vuuren, die bestuurder van Filadelfia Ark, verduidelik dat dit ʼn ongelooflike geskenk vir die kinders by die sentrum is. “Nou kan ons kinders ook deel aan die aktiwiteite waartoe ʼn gewone ou plaasskooltjie nie noodwendig toegang het nie. Ek glo hierdie Speelgrot sal die kinders se vermoëns vergroot, veral hulle koördinasie en die koppeling tussen speel en opvoeding.”

Hierdie groep studente vorm deel van die Elitebeursprogram aan Akademia en het sekere uitkomstes waaraan hulle moet voldoen om die program te voltooi. Een van hierdie projekte is om ʼn volhoubare projek op die been te bring wat werklik ʼn verskil in die lewens van die gemeenskap maak. Die groep is getaak om verantwoordelikhede en rolle onder mekaar te verdeel om die projek suksesvol te voltooi.

Volgens Elize-Mari Coetzer, koördineerder van hierdie program, het die studente na afloop van ʼn suksesvolle projek gedemonstreer waartoe hulle in staat is deur selfs méér te bereik as wat van hulle verwag is. “Die projek was op die ou einde meer as die bereik van ʼn uitkoms.  Die innerlike vervulling, dankbaarheid en liefde wat uit die projek gevloei het, is meer werd as die blote bereik van ʼn uitkoms. Ons is trots op die studente wat die ekstra myl geloop het in elke faset van die projek en dus bo verwagting presteer het.”

Smit, die groepslid wat verantwoordelik was vir die finansiële portefeulje, verduidelik dat hulle verskeie planne moes beraam en alternatiewe opsies moes oorweeg om genoegsame finansies en speelgoed in te vorder ten einde die Speelgrot ten volle in te rig. “Ons het meer as 700 pannekoeke gebak om te verkoop en die publiek het ook bydraes gelewer deur speelgoed te skenk.”

Finansiële donasies is van Akademia en die publiek ontvang, wat gebruik is om rakke op te sit en die speelkamer uit te verf. “SA Toy Trade was so gaaf om nuwe speelgoed te skenk en om ons te help om speelgoed volgens vaardighede te kategoriseer,” voeg Smit by. ʼn Speelarea is ook buite die Speelgrot ingerig met klimrame wat hulle as donasies van die Akademia-studenteraad ontvang het.

Alhoewel die Speelgrot reeds ingerig is, het die groep studente steeds planne om die volhoubaarheid van die speelruimte te verseker. Die groep beoog om deurlopend donasies in te samel sodat speelgoed ook afgewissel kan word. Daarbenewens bied SA Toy Trade eersdaags ʼn werkswinkel aan vir die onderwysers by die sentrum om sodanig aan hulle tegnieke te leer om die speelgoed optimaal te benut sodat dit van opvoedkundige waarde vir die kinders is.

Kontak vir Nadine Slump by 082 929 6896 of stuur ʼn e-pos na nadine@akademia.ac.za om by die Speelgrotprojek betrokke te raak.

Meer oor Filadelfia Ark

Filadelfia Ark is ʼn sorgsentrum geleë in die weste van Pretoria. Die sentrum is opgerig vir die gemeenskap deur die gemeenskap, om vir hawelose mense te sorg. Ongeveer 500 persone, waarvan 140 kinders is, woon gratis by die sorgsentrum in houtwonings en word voorsien met drie maaltye per dag. Inwoners hou hulleself besig met die instandhouding en ontwikkeling van die sorgsentrum en omliggende areas deur self te boer, hout- en staalwerk te doen, en om tuin te maak en te kook. Ongeveer honderd kinders tussen die ouderdomme van een tot agtien jaar oud woon ook op die perseel. Besoek Filadelfia Ark se webblad vir meer inligting oor die sentrum.