Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia hou eerste gróót opedag

Gepubliseer op: 5 September 2019

Met die eindeksamen vir matrieks wat al hoe nader kruip raak die realiteit groter oor wat hulle gaan doen na afloop van Graad 12. Sommige werkendes wonder weer wat hulle kan doen om hulle loopbaanmoontlikhede te verbreed. Akademia bied steeds geleenthede vir voornemende studente om uit te vind oor kwalifikasies wat hulle aan hierdie instelling kan voltooi. Aansoeke vir studies by Akademia in 2020 is nog oop.

ʼn Opedag word op 14 September vanaf 09:00 tot 12:00 by die studiesentrums in Centurion en George gehou. “Anders as die gewone inligtingsessies wat ons jaarliks hou, gaan hierdie program langer wees en meer omvattende inligting deurgee,” vertel Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia. “Die opedag bied voornemende studente die ideale geleentheid om dosente te ontmoet en vrae te vra oor kwalifikasies om jou te help om ingeligte studiebesluite te neem.”

ʼn Hoogtepunt op die opedagprogram is ʼn demonstrasie van hoe klasse by Akademia aangebied word. By hierdie instelling word klasse in ʼn virtuele leerruimte aangebied, deur vanuit die ateljee in Centurion waar dosente gesetel is, regstreeks na dertien studiesentrums landswyd en in Namibië uit te saai. “Klasse is sinkroon en interaktief en studente kan enige tyd hulle hand opsteek om ʼn vraag aan die dosent wat die klas aanbied te vra,” sê Vogel. “Hierdie model kan eerstehands by vanjaar se opedag ervaar word.”

ʼn Navraestalletjie sal beskikbaar wees om vrae te beantwoord oor roosteropsies vir werkendes en studente wat ver van hulle naaste studiesentrum woon. Voornemende studente sal ook blootgestel word aan moontlike dienste en produkte wat hulle studentelewe kan verryk, wat onder andere studielenings, studenteondersteuning en studentelewe insluit.

Familie, vriende en ander belangstellendes is welkom om hierdie opedag by te woon. Die radiostasies Lekker FM (in Centurion) en SFM (in George) gaan sorg vir die vermaak deur ʼn regstreekse uitsending by hierdie feestelike byeenkoms, en heerlike eet- en drinkgoed sal te koop wees.

Stuur jou loopbaan in die regte rigting deur al jou studiemoontlikhede te oorweeg. Besprekings vir die opedag word op die Akademia-webblad voltooi. Vir enige navrae, e-pos navrae@akademia.ac.za of skakel 0861 222 888.