Search
Close this search box.

Akademia-student werk en studeer vanuit Europa

Gepubliseer op: 27 Januarie 2023

Alida Jacobs, ʼn 21-jarige student, studeer tans vir die graad BCom (Ondernemingsbestuur) deur middel van die nauurse afstandsmodel by Akademia. Sy het in Bloemfontein grootgeword en aan die Hoër Meisieskool Oranje gematrikuleer. Sy woon en werk tans in Hauset in België wat op die drie grense tussen België, Duitsland en Nederland geleë is.

Haar studiereis by Akademia het in 2020 begin toe die Covid-19-pandemie toegeslaan het. Sy het terselfdertyd as sekretaresse begin werk, aangesien sy via die e-leeropsie studeer het en dus bedags die geleentheid gehad het om werksondervinding op te doen. Haar droom was om al van jongs af oorsee te gaan werk. “Ek wou self ervaar hoe groot die wêreld eintlik is en wat alles daar buite lê. So dit was ʼn maklike keuse om oorsee te gaan au pair,” vertel Jacobs.

Haar vriendin het haar voorgestel aan die idee van au pair-wees. Volgens Jacobs is dit wonderlik om ʼn au pair te wees – sy kan haar eie geld verdien en onafhanklik wees. “Ek het besluit dat om oorsee te au pair vir my ideaal is omdat ek steeds aanlyn by Akademia kan studeer terwyl ek Europa verken en daar werk.”

Jacobs woon by ʼn gasheerfamilie in Hauset, waar sy vir ʼn jaar as au pair aangestel is. Haar werk as au pair behels gewoonlik so vier ure per dag, maar die familie se skedule verander gereeld en sy pas haar daarby aan. Sy reis ook gereeld saam met die gesin en was al binne haar eerste vyf maande van au pair-wees in Parys, München, Lièege, Oostenryk, Düsseldorf, Amsterdam, Brussel en Aachen. “Die familie is baie tegemoetkomend wat my studies betref en verstaan dat ek tyd nodig het om my klasse by te woon en te leer,” vertel Jacobs. Sy noem ook dat haar vorige werk as sekretaresse haar baie help, aangesien sy reeds weet hoe om haar tyd te bestuur.

Volgens Jacobs het haar studies haar uitkyk op die lewe verbreed. “Ek weet meer, verstaan meer en weet hoe om wat ek weet in alle dele van my lewe toe te pas. Al sou ek nie eendag in hierdie rigting werk nie, ek het baie geleer wat ek reeds in my daaglikse lewe gebruik en ook altyd sal kan gebruik.”

Haar grootste inspirasie om haar studies te voltooi, is om haar ouers trots te maak en ook om vir haarself ʼn goeie, standvastige lewe te bou. “Ek dink gereeld aan my doel en om my ouers se gesigte te sien wanneer ek my gradeplegtigheidshoedjie eendag by die kwalifikasieplegtigheid dra.”

Haar raad aan voornemende studente wat die wêreld wil sien, maar ook wil studeer, is om eers studies en werk in jou eie gemaksone te probeer balanseer voor jy dit oorsee probeer doen. Indien jy sien dat dit werk, stel sy voor dat jy dan jou vlerke sprei. Sy stel ook voor dat jy die druk verminder deur nie al jou vakke op een slag te neem nie, maar dit bietjie te versprei en dalk langer te studeer. “Om oorsee te werk en te studeer, neem goeie prioritisering en uithouvermoë, maar dit is die moeite werd. Mens besef nie altyd hoe groot die wêreld is tot jy dit self ervaar nie.”

“Om alleen in ʼn nuwe en onbekende plek te wees, stimuleer jou brein en menswees. Jy kan nie help om meer kreatief en gemotiveerd te wees nie,” sê Jacobs. Sy noem ook dat aangesien sy onafhanklik moet wees, sonder die nabyheid van haar familie en vriende, dit eintlik beteken dat sy harder wil werk en op haar eie wil presteer. “Om onafhanklik te wees, het my baie perspektief gegee oor wat ek as belangrik sien en wat ek uit die lewe wil hê. Ek het werklik gegroei in alle aspekte in my lewe, so ek dink elke student moet daaraan dink, al is dit net eenkeer in hulle lewe.”

Sy hoop om oor vyf jaar steeds in Europa of elders in die wêreld te werk, maar in die sakesektor. “Hierdie jaar as au pair is beslis net die begin van my reis. Die passie wat ek vir mense en nuwe plekke het, sal my lei na my toekoms toe,” sluit sy af. Akademia hou haar loopbaanreis en avonture met afwagting dop.

Alida Jacobs is ʼn trotse Fontie wat via die e-leeropsie vanuit verskeie lande by Akademia studeer.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.