Gepubliseer op: 23 Oktober 2025
Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe sal vanaf 2026 aan honneursstudente die geleentheid bied om hulself verder in die filosofie te verdiep. Die toevoeging van die BAHons (Filosofie)-program tot dié fakulteit se programverskeidenheid is op Donderdag 23 Oktober 2025 tydens ʼn spesiale glasieklinkgeleentheid op die instelling se Leriba-kampus in Pretoria aangekondig.
Volgens prof. Danie du Plessis, dekaan van die fakulteit, spreek dié toevoeging nie net tot die instelling se voortgesette verbintenis tot die doelgerigte uitbreiding van sy nagraadse programaanbod nie, maar ook tot die fakulteit se dinamiese groei. Dié groei sluit vanjaar se bekendstelling van die BA (Taalstudies)– en BAHons (Media en Kommunikasie)-programme in, met die BA (Algemeen)-program wat ook in 2026 sy eerste inname van studente sal hê.
“As ʼn studietuiste waar filosofiese denke en navorsing binne ʼn Afrikaanse en klassieke hoëronderwysomgewing gedy, heers daar groot opgewondenheid oor die geleenthede wat hierdie nuwe program tot Akademia se eie studente sowel as dié van ander instellings sal ontsluit,” sê Du Plessis. Hy voeg by dat die groter Filosofie-aanbod die instelling se vormingsideaal duidelik beliggaam, en dat dit waarlik tot die denke én hart van studente spreek.
“Filosofie leer studente om krities, sistematies en verantwoordelik oor die werklikheid na te dink. Hierdie vermoë verteenwoordig ʼn noodsaaklike vaardigheid in ʼn tyd van komplekse sosiale, politieke, tegnologiese en etiese uitdagings. ʼn Nagraadse program verdiep hierdie vermoë en vorm denkers wat nie nét vrae stel nie, maar ook op ʼn roepingsbewuste en beginselvaste wyse oplossings oorweeg,” verduidelik Du Plessis. Op hierdie manier word filosofiesgerigte denkleiers ontwikkel wat met insig, bewustheid en integriteit tot die gemeenskap kan bydra.
Meer oor die BAHons (Filosofie)-program
Dié program, wat by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied sal word, word op ʼn NKR-vlak 8 geposisioneer en het dit ten doel om honneursstudente toe te rus met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritiese vaardighede.
Verpligte modules sluit in:
Navorsing (metodologie asook ʼn navorsingsprojek)
Ná die suksesvolle voltooiing van die program sal studente in staat wees om ʼn verskeidenheid werk-, loopbaan- en leierskapsposisies in die uiteenlopende en veranderende politieke en sosio-ekonomiese landskappe te vul. Gedagtig hieraan sal afgestudeerde studente hulself in staatsinstellings, internasionale en multilaterale organisasies, die korporatiewe sektor, die mediabedryf of die burgerlike samelewingsektor kan vestig. Wat beroepsmoontlikhede in die akademie betref, kan diesulke studente verdere studie op ʼn meesters- en later ʼn doktorale vlak voortsit om akademici op die gebied van filosofie (of enige verwante dissipline) te word.
Die program kan oor een jaar voltooi word en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van dié program is drie jaar. Studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar word nou reeds ingewag. Indien jy meer inligting oor dié program verlang, registreer vandag nog vir die aanlyn inligtingsessie wat op 26 November om 18:00 aangebied sal word.
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.