Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia steek kers op by klassieke opvoedingsuniversiteite in VSA

Gepubliseer op: 23 Oktober 2019

Akademia wil die beste uit die wêreld na Afrikaans bring en die beste uit Afrikaans na die wêreld neem. Dié hoëronderwysinstelling bereik hierdie doelstelling onder andere deur akademiese bande met veral internasionale universiteite te smee.

Verskeie bestuurslede en akademici van Akademia het vanaf 8 tot 14 Oktober ʼn studietoer na die Verenigde State van Amerika (VSA) aangepak. Hierdie was die instelling se tweede studietoer na Amerika, nadat ʼn soortgelyke reis in 2017 afgelê is. Tydens die onlangse toer is drie prominente selfstandige universiteite in die Klassieke onderrig besoek met die oog op wederkerige toekomstige akademiese meewerking.

Die studietoer is aangepak deur Akademia se besturende direkteur (Marthinus Visser), direksievoorsitter (Henk Schalekamp), akademiese hoof (prof. Danie Goosen), en drie dekane (dr. Saretha Brüssow, prof. Hannes Rautenbach en prof. Pieter Duvenage), saam met ander prominente lede van susterinstellings in die Solidariteit Beweging.

Die akademiese besoek het afgeskop met ʼn kampustoer aan Hillsdale College in Michigan, gevolg deur ʼn studiereis aan Grove City College in Pennsilvanië, en Patrick Henry College in Virginië. Hierdie universiteite staan bekend as drie van die mees vooraanstaande klassieke opvoedingsuniversiteite (liberal arts colleges). Alhoewel die name verwys na “kolleges”, verduidelik prof. Goosen dat daar in Amerika nie streng tussen die begrippe “universiteit” en “kollege” onderskei word nie.

Verskeie gesprekke met bestuurslede en akademici van hierdie universiteite het plaasgevind om te help dink, praat en droom oor Akademia as gemeenskapsuniversiteit, en om dié instelling nog verder in die klassieke opvoedingsideaal te verdiep. Prof. Goosen verduidelik dat die belangrikste oogmerke van die besoek was om die nuwe dekane van Akademia eerstehands aan die klassieke opvoedingsuniversiteite bloot te stel, asook om goeie verbintenisse met internasionale akademici verder uit te bou.

Beide oogmerke is met groot sukses bereik. Die afvaardiging van Akademia is “oorweldig” deur die talle uitnemende eienskappe van hierdie universiteite, insluitende die wyse waarop ʼn sin vir gemeenskap onder studente en dosente gekultiveer word, die lewensbeskoulike grondslae, die sin vir tradisie wat gekweek en met nuanse oorgedra word, asook dosente se uitnemende klasaanbieding. Hierdie eienskappe word nie net in die klaskamers aangemoedig nie, maar ook prakties op sportvelde, in koshuise en in onderlinge verhoudinge op kampus.

Studente aan al drie opvoedingsuniversiteite word geleer om grondig en selfstandig te dink en hulleself nie deur die jongste intellektuele giere en modes te laat beïnvloed nie. Prof. Goosen reken dat studente wat hulle kwalifikasies aan enigeen van die bogenoemde voltooi het, in staat is om by die diepste intellektuele bronne van ons geestelike erfenis aan te sluit. “Nog meer, hulle weet hoe om hedendaagse intellektuele modes met die nodige kritiese voorbehoud te hanteer.”

Akademia is juis verbind tot hierdie klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit in tradisionele universiteitswese na vore getree het. In die hart van die klassieke opvoedingsideaal staan die gedagte dat studente nie net spesialiste binne ʼn bepaalde dissipline sal wees nie, maar dat hulle tegelyk insig in die geheel van dinge sal hê. Daarom is Akademia toegespits om afgeronde studente – vakkundig onderrig en in interdissiplinêre samehang opgevoed – aan Suid-Afrikaanse gemeenskappe te lewer.

“Dit was ʼn geweldige voorreg en ʼn besonders leersame besoek,” meen prof. Goosen. Die afvaardiging van Akademia is diep getref deur die vriendelikheid en openhartigheid van hierdie universiteite. Meer as een van die dosente en leiersfigure aan hierde universiteite het die hoop uitgespreek om Akademia in die toekoms te besoek, en wil graag op verskillende wyses betrokke raak en hulle ondersteuning bied. Die moontlikheid dat Akademia in die toekoms sowel studente as dosente met genoemde universiteite sal ruil, het met hierdie besoek ʼn selfs groter werklikheid geword.

Die akademiese besoek skop af met ʼn kampustoer van Hillsdale College in Michigan.