Gepubliseer op: 25 Junie 2025
Prof. Gawie du Toit, nuutaangestelde kampushoof van Akademia se Paarl-kampus, glo daarin om op ʼn roepingsgedrewe manier altyd gereed te wees. Hierdie ingesteldheid word in Du Toit se baanbrekerloopbaanreis van méér as 35 jaar weerspieël en sal ook vanaf 2026 sy nuwe hoofstuk in die Wes-Kaap verlig. Dit volg nadat hy vanaf 2019 as die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde diens gedoen het.
Du Toit en sy vrou Erna – ʼn gerekende onderwyskundige in eie reg, sal hulself in die tweede helfte van die jaar in die Paarl vestig. Oor hierdie vooruitsig sien Du Toit met gróót afwagting uit en vertel hy dat hy oor die bestek van sy lewe geseënd was om verskeie nuwe loopbaanmomente te kon ervaar. Hierdie hoogtepunte sluit in diens as navorser, departementshoof, kurrikulumontwikkelaar, programdirekteur, senior bestuurder, dekaan en voortaan óók as kampushoof.
Só sien die rol van kampushoof daarna uit
Volgens Du Toit sal hy in sy nuwe hoedanigheid die aard en wese van die Paarl-kampus, gedagtig aan die hart van Akademia, help vestig en versorg. In dié lig verduidelik Du Toit dat ter bevordering van institusionele eenheid en verantwoordelike bestuur, die kampushoof ʼn tweeledige fokus het.
Eerstens om ʼn verbondenheidsverhouding en funksionele skakeling tussen die instelling se Pretoria- en Paarl-kampusse te verseker, en tweedens om met sorg en sensitiwiteit die unieke aard, kultuur en belewenis van die Paarl-kampus te help ontwikkel. Laasgenoemde sluit in die bedieningsimpak van die instelling in die Wes-Kaap op die plaaslike gemeenskappe.
“Die funksie van kampushoof sal ʼn deurslaggewende en rigtinggewende rol op kampusvlak speel en só help om te verseker dat die nuwe dinamiek wat deur die vestiging ontsluit word nie in isolasie voortbestaan nie, maar eerder deur die gevestigde Akademia-kultuur onderskraag en verryk sal word,” sê Du Toit.
Wat sy droom vir dié nuwe kampus betref spreek Du Toit die hoop uit dat die kampus – in samehang met die groter Akademia-familie, ʼn onbeskaamd Christelike en Afrikaanse studietuiste sal wees, getrou aan die klassieke idee van die universiteitswese. Hiermee saam voorsien hy dat die kampus plaaslik relevant sal wees terwyl dit as ʼn wêreldklas akademiese ruimte sal funksioneer.
Die opwinding van ʼn nuwe begin
“Daar is iets ongelooflik lewenskragtig aan die begin van iets nuuts. En om deel te mag wees van die vestiging van ʼn nuwe kampus, met ál die moontlikhede wat dit inhou, is vir my soos om weer aan die begin van ʼn loopbaan te staan,” vertel Du Toit.
Vir hom is dié energie aansteeklik en sien hy daarna uit om as’t ware ʼn nuwe lewensfase binne te stap. “Ek sien hierdie nuwe hoofstuk nie as ʼn afsluiting nie, maar as ʼn verdieping en ʼn geleentheid om die kennis en wysheid van jare in diens te stel van jongmense, kollegas en ʼn splinternuwe akademiese gemeenskap. Dit is ʼn vreugde om nie net te bou nie, maar óók om as ʼn mentor deel te wees van iets veel groter,” sê Du Toit.
Die Akademia-hartklop
Oor sy loopbaan by Akademia as dekaan, staan veral drie groot hoogtepunte vir hom tot dusver uit.
Hy verduidelik dat in die hoëronderwyskonteks akademiese programme die grondslag vorm waarop enige instelling funksioneer. Met hierdie in gedagte was dit eerstens vir hom ʼn groot voorreg om beide binne en buite fakulteitsverband ʼn bydrae te kon lewer tot toekomsgerigte programontwikkeling. Hierdie prosesse het nie nét die ontwerp van kurrikulêre inhoud behels nie, maar ook die visionêre beplanning van leerervarings wat sinvol en relevant tot die hedendaagse hoëronderwyslandskap is.
Tweedens het dit hom besonder na aan die hart gelê om programme daar te stel wat nie slegs kennisoordrag ten doel het nie, maar wat die student se holistiese vorming as mens vervul. Laasgenoemde fokus op verstandelike verdieping, karaktervorming en roepingsbewustheid.
ʼn Derde groot hoogtepunt was Du Toit se rol as mentor, veral ten opsigte van akademici wat hulself vir die eerste keer in hoër onderwys bevind het. In dié verband is die fokus geplaas op die ontwikkeling van diegene se akademiese identiteit en praktyk.
Wense vir ʼn hoopvolle en verbonde toekoms
En watter boodskap het hy aan voornemende Fonties* wat óók op die vooraand van ʼn nuwe lewensfase staan?
“Akademia is ʼn instelling wat nie nét akademiese uitnemendheid nastreef nie, maar óók vorming ernstig opneem. Ons bou nie net aan kampusse nie. Saam bou ons hoopvol en verbonde aan gemeenskappe, aan karakter, en aan die toekoms,” sluit Du Toit af.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.