Akademia se nuwe BA (Algemeen)-program spreek tot denke én hartstog

Gepubliseer op: 20 Mei 2025

Is jy nuuskierig en lief daarvoor om nuwe ontdekkings te maak oor die deurslaggewende idees van die wêreld waarin jy jouself bevind? Miskien is jy nóg nie seker oor die loopbaan wat jy wil volg nie, maar sien daarna uit om ʼn groot lewenstaak te vervul. Hoe dit ook al sy, Akademia se splinternuwe BA (Algemeen)-program is pasgemaak vir diegene wat die skoonheid van die studie van die vrye kunste wil ontsluit.

Dié driejaargraadprogram sal vanaf 2026 voltyds op die instelling se Centurion-kampusse aangebied word, en sal binne die Fakulteit Geesteswetenskappe gesetel wees. Alida Kok, koördineerder van hierdie program, verduidelik dat die program ʼn versinnebeelding van beide hartstog en roeping verteenwoordig. “ʼn Voornemende student moet ʼn begeerte hê om ʼn persoonlike – konkrete óf abstrakte, doelwit te bereik. Hierdie begeerte sal daartoe lei dat die student mettertyd by wyse van verskillende moduleopsies spesialiseer ten einde ʼn loopbaanbad uit te kerf,” verduidelik Kok.

ʼn Klassieke benadering gepas vir ʼn moderne tyd

Gedagtig hieraan is die program (wat op NKR-vlak 7 aangebied word) op só ʼn wyse saamgestel dat studente ʼn breë begronding in die eerste jaar van studie ontvang, en daarna in die tweede en derde jaar van studie ʼn méér gespesialiseerde fokus ontwikkel. Laasgenoemde sal studente toerus met kennis en vaardighede wat nodig is vir indiensneming óf vir verdere studie op honneursvlak. Volgens Kok plaas Akademia voorts die klem op klassieke vorming in sy BA (Algemeen)-program en in hierdie konteks verwys hierdie begronding na ʼn soeke na die ware, die goeie en die skone. In kort: ʼn studie van die vrye kunste én die groot denkers van die Westerse kanon.

Maar hoe berei dié program studente voor in ʼn tyd waarin die tendens van ultra-spesialisasie en die grootskaalse gebruik van generatiewe kunsmatige intelligensie (KI) oënskynlik die botoon voer? Volgens Kok sal daar in die aanbieding van die program daarop gefokus word om studente te begrond in die veel ouer tradisie waaruit die deurslaggewende idees, beeldskone kultuurskatte en groot instellings van die wêreld ontwikkel het. Hierdie benadering sal Akademia-studente in dié program onderskei en in staat stel om temas wat dikwels die uitsluitlike fokus van ultra-spesialisasie in verhouding met die groter geheel te kan plaas.

Die versinsel van ultra-spesialisasie en KI

“ʼn Deel van die krisis wat so tekenend van die moderne wêreld is, is juis dat studente nie meer in kurrikulums opgelei en gevorm word om die dele in verhouding met die geheel te plaas nie,” meen Kok. Sy voeg by dat die ongelukkige werklikheid is dat studente wat uit ʼn stelsel gelewer word waarin daar te vroeg gespesialiseer word, maklik deur ideologieë en politieke getye meegesleur kan word. Hierdie meesleuring het veral twee baie negatiewe gevolge:

  • Ultra-spesialisasie in akademiese dissiplines gee aanleiding tot ʼn gefragmenteerde en meganistiese wêreldbeeld. Laasgenoemde staan dikwels in die agtergrond van onregmatige konflik en hedendaagse magsvergrype.
  • Die oormatige gebruik van generatiewe KI veroorsaak dat studente nie meer met belangstelling en begrip kan lees óf elegant kan skryf nie. Hierdie onvermoë lei daartoe dat studente se innerlike dialoog oppervlakkig is en hul intieme binnewêreld nie verbeeldingryk is nie.

Volgens Kok kan die volgende kenmerke toegeskryf word aan studente wat in die vrye kunste onderlê is:

  • Verbeeldingryke en analitiese denke;
  • Die vermoë om patrone en tendense te kan ontleed;
  • Oefen gepaste keuses uit aan die hand van goeie oordeel;
  • Neem dapper en berekende risiko’s;
  • Effektiewe kommunikeerders wat kan beïnvloed en begeester;
  • Implementeer praktiese wysheid; en
  • Openbaar leierskap wat herstel, hervorm en herlewing aanmoedig.

Die werksomgewing is ontvanklik vir begronde graduandi

“Dit is ʼn versinsel van ons tyd dat ultra-spesialisasie nodig is vir ʼn student om van ʼn werk, ná afloop van sy/haar studie, verseker te wees,” sê Kok. Sy verduidelik dat dit eerder die geval is dat ʼn student met ʼn breë begronding en wye blootstelling in staat gestel word om die wêreld beter te verstaan en goeie oordeel aan die dag te lê.

Die klem op klassieke vorming stel Akademia se BA (Algemeen)-program direk in verhouding met die wêreld van werk. Graduandi vanuit hierdie program sal waardevolle werknemers wees, veral in ʼn konteks waar dit belangrik is vir werknemers om inisiatief en eienaarskap van hul werk te kan neem,” sê Kok.

In terme van beroepsmoontlikhede dek die program die tafel vir ʼn groot verskeidenheid dissiplines. Kok verduidelik dat die program só saamgestel is dat ʼn student toegang tot ʼn voorgraadse opleiding in sielkunde, visuele kultuurstudies, mediastudies, politiek, geskiedenis en filosofie kan kry. Gevolglik kan ʼn afgestudeerde student aansoek vir toelating tot gelykmatige honneursprogramme in hierdie dissiplines doen.

Die program kan ook loopbaanmoontlikhede binne die volgende velde ontsluit:

  • Navorsing;
  • Ontleding en risiko-ontleding;
  • Letterkunde;
  • Die kunste;
  • Politiek, diplomasie, politieke sielkunde en politieke kommunikasie;
  • Geskiedenis in praktyk en erfenisbewaring;
  • Konsultasiewerk; en
  • Media, joernalistiek, die advertensiewese asook die skrywerswese.

“Die BA (Algemeen)-program is die vertrekpunt op ʼn opwindende ontdekkingsreis na méér as net toekomstige loopbaanvervulling. Dit bied aan studente die geleentheid om hulself, hul leefwêreld én die polsslag van die vrye kunste te ontdek,” sluit Kok af.

Aansoeke vir die 2026- akademiese jaar is reeds oop. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademia se nuwe BA (Algemeen)-program is pasgemaak vir studente wat die skoonheid van die studie van die vrye kunste wil ontsluit. Studieaansoeke vir dié splinternuwe program word vir die 2026- akademiese jaar ingewag.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.