Search
Close this search box.

Akademia se eerste Loopbaanweek help studente om die toekoms oop te breek

Geskryf deur Kayla Roets, Fontiepos-joernalis

Akademia se eerste Loopbaanweek het vanjaar vir studente op die Centurion-kampus die geleentheid gebied om verskeie loopbaanopsies verken en direk met professionele persone in hul gewenste velde te kommunikeer. Dit bied ʼn unieke geleentheid vir Fonties om hul professionele netwerke uit te brei, industrie-insigte te verkry en moontlik toekomstige indiensneming te verseker. Met meer as 30 maatskappye wat deur die week stalletjies en spreekbeurte aangebied het, was hierdie loopbaanskou ʼn waardevolle ervaring vir beide voornemende werknemers en werkgewers.

Die loopbaanskou het oor vyf dae gestrek, met verskillende sprekers wat uiteenlopende beroepsvelde verteenwoordig. Een van die hoogtepunte van die Loopbaanweek is die uitgebreide reeks stalletjies wat ʼn wye verskeidenheid maatskappye verteenwoordig het. Fonties kon hierdie stalletjies besoek om inligting in te samel, vrae te vra en meer te wete te kom oor moontlike werksgeleenthede, internskappe en loopbaanvordering in hierdie organisasies. Deur aktief met maatskappyverteenwoordigers te skakel, kon studente ʼn blywende indruk laat en moontlik deure oopmaak vir toekomstige indiensneming.

Om Fontie-deelname aan te moedig, het die Loopbaanweek ʼn opwindende kompetisie gehou. Studente wat al die stalletjies besoek het en die verskillende praatjies bygewoon het, het ʼn kans gestaan om ʼn gesogte prys te wen – ʼn stylvolle leerskootrekenaarsak. Hierdie aansporing het vir ʼn element van opwinding en motivering gesorg en studente aangemoedig om die stalletjies aktief te verken en die beskikbare geleenthede te benut. Die sak is eindelik deur Myrtle Endley gewen.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte, is die Loopbaanskou ʼn belangrike inisiatief vir die instelling wat vir studente ʼn platform skep om met potensiële werkgewers te skakel, hul netwerke uit te brei en verskeie loopbaanpaaie te verken.

Deur uiteenlopende maatskappye en professionele persone in die bedryf bymekaar te bring, is hierdie geleentheid ʼn manier vir studente om hul eerste treë na ʼn suksesvolle professionele toekoms te gee. Akademia se verbintenis tot die bevordering van studentesukses blyk duidelik deur inisiatiewe soos die Loopbaanskou, wat studente toerus om ingeligte beroepskeuses te maak en ʼn belowende professionele reis aan te pak.


Fonties op die Centurion-kampus het waardevolle loopbaanadvies en blootstelling gekry tydens die eerste Loopbaanweek.

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.