Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia-program bied stewige fondasie in sake- én regswêreld

Gepubliseer op: 24 Junie 2021

Geskryf deur prof. Hermie Coetzee, departementshoof van regsgeleerdheid aan Akademia.

Die Baccalaureusgraad in Ekonomie en Regte word as voltydse kontakprogram op Akademia se Centurion-kampus aangebied, as nauurse program by studiesentrums, asook via die e-leeropsie. Die program se fokus op ekonomie én regte spreek die toenemende interdissiplinêre behoefte aan om graduandi te lewer wat die vermoë het om ʼn voortdurend veranderende plaaslike en internasionale ekonomie te betree.

Hierdie program bied breë formatiewe onderrig deur studente in ’n verskeidenheid van velde binne die sake- en regsomgewing in te lei. Studente word met grondslagvormende kennis, asook met analitiese en probleemoplossingsvaardighede toegerus. Hoewel die kwalifikasie nie tot bepaalde loopbaanuitkomste lei nie, is dit juis hierdie kenmerk wat die kwalifikasie so gesog maak; dit rus graduandi toe om suksesvolle loopbane in die breër sake- en/of regswêreld te bou. Dié graad bied ook ʼn ferm onderbou vir nagraadse studie in ekonomie of om die LLB-program suksesvol te voltooi. Laasgenoemde studierigting is beroepsgerig en dien as ʼn voorvereiste om as regspraktisyn te kwalifiseer en as sodanig te praktiseer. Sou ʼn BCom (Ekonomie en Regte)-graduandi vir die LLB-program registreer, word ʼn minimum van twee jaar benodig om die LLB te voltooi.

Die modules in die BCom (Ekonomie en Regte)-program fokus onder meer op ekonomie, asook op die geskiedenis en filosofie van ekonomie. Ander modules in ekonomiese en bestuurswetenskappe sluit finansiële rekeningkunde, finansiële bestuur en persoonlike finansiële bestuur, statistiek, ondernemingsbestuur en internasionale handel in. Kernregsmodules word hoofsaaklik uit die privaat- en handelsregdissiplines saamgestel, waarby inleiding tot die reg, personereg, familiereg, kontraktereg, erfreg, deliktereg, sakereg, ondernemingsreg, arbeidsreg en volhoubaarheid en verantwoordelike burgerskap ingesluit is. Wyl studente in kerndissiplines ingelei word, bly Akademia se opvoedingsideaal van primêre belang en streef die instelling daarna om studente op te lewer wat integriteit het, deugsaam en verantwoordbaar is en oor goeie oordeel beskik.

Prof. Hermie Coetzee, departementshoof van regsgeleerdheid aan Akademia.