Akademia-kundiges dra by tot internasionale publikasiereeks oor forensiese linguistiek

Gepubliseer op: 30 Julie 2025

In die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal breek twee Akademia-kundiges, Karien Brits en Natasha Venter, ʼn gróót lansie vir Afrikaans as akademiese- en regstaal. Bydraes van Brits, ʼn dosent in Tale en Kultuurwetenskappe, en Venter, ʼn dosent in Publiek- en Prosesreg, is albei opgeneem in Courtroom Discourse: Practical Insights from Legal Linguists soos uitgegee deur African Sun Media.

Dié publikasie maak deel uit van ʼn omvattende publikasiereeks van ses aflewerings wat die noodsaaklike rol van taal in die reg binne meertalige en multikulturele milieus ondersoek. Hierdie ondersoek vind plaas aan die hand van verskeie gevallestudies vanuit Suid-Afrika, Malawi, Kameroen en Oostenryk en fokus op onder meer:

  • hoftolking;
  • die afneem van polisieverklarings;
  • die voorkoms van inheemse tale in regsinstellings;
  • die magsdinamika tussen prokureurs en getuies;
  • regsopleiding; en
  • taalkundige uitdagings kenmerkend van die hofsisteem.

Die titel van Brits se bydrae (ter ondersteuning van dr. Annelise de Vries, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns – SAAWK) tot die publikasie is: “Do not lay words in my mouth: Linguistic analysis as part of the testimony in a dispute resolution case”.

Venter se bydraes is getiteld: “Language usage in the SAPS in relation to language rights; the language of record policy and criminal investigations: Linguistic challenges regarding A1 statements and the implications of poorly constructed statements”.

Afrikaans as regstaal en hoopgewende voorbeeld

Die ontwikkeling van die Afrikaanse taal omarm volgens Venter tot soveel méér as bloot ʼn klemverskuiwing vanaf ʼn spreektaal tot ʼn akademiese taal. Dit spreek óók tot die uitbouing en stawing van regsterminologie. In die lig hiervan verduidelik sy dat alle regsbeginsels en
-konsepte volledig in die Afrikaanse taal aangeteken is en tot en met 2017 saam met Engels as die taal van rekord in Suid-Afrikaanse howe gedien het. Hierdie regstatus van Afrikaans maak, volgens Venter, van dié taal ʼn hoopgewende voorbeeld vir ander inheemse tale wat die ontwikkeling van ʼn volledige regsleksikon betref.

Akademia se verbondenheid tot taal én akademiese uitnemendheid

“Deur publikasies en reekse soos hierdie word die konsep van meertaligheid in howe, en daarom ook die herinstelling van Afrikaans as hoftaal, bepleit,” sê Venter en voeg by dat Akademia, as ʼn trotse Afrikaanse hoëronderwysinstelling, passievol verbind is tot die bevordering van die taal op alle vlakke. Die herinstelling van Afrikaans as taal van rekord in die plaaslike regsomgewing sal nie net die verdere ontwikkeling van die taal bevorder nie, maar ook tot groot voordeel van die instelling se regstudente binne die LLB-program wees.

Op haar beurt meen Brits dat die publikasie van groot waarde is, nie nét vir regslui en forensiese linguiste nie, maar ook vir nagraadse studente in welke velde ook al wat met aspekte van die reg en taal handel. Sy voeg by dat Akademia se deelname aan diesulke gesprekke nie nét getuig van die instelling se verbondenheid tot taal nie, maar óók tot akademiese uitnemendheid. “Dit is my hoop dat my bydrae tot hierdie publikasie Akademia se jong taalkundiges in die BA (Taalstudies)-program sal inspireer vir die rol wat hulle as toekomstige taalkundiges en navorsers kan speel. Forensiese linguistiek as dissipline is nog in sy kinderskoene in Suid-Afrika, maar dit is goed om te weet dat Akademia-kundiges deel van hierdie opwindende en dinamiese ontwikkelingsreis is,” meen Brits.

Akademia-kundiges, Karien Brits (dosent: Tale en Kultuurwetenskappe) en Natasha Venter (dosent: Publiek- en Prosesreg), is albei opgeneem in ʼn nuwe internasionale publikasie oor die rol van taal in die reg binne meertalige en multikulturele milieus.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.