Gepubliseer op: 15 November 2024
Fonties in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het onlangs die besonderse geleentheid gehad om skouers te skuur met hul Belgiese eweknieë tydens die instelling se eerste Internasionale Week. Tydens hierdie geleentheid, wat vanaf 4 tot 8 November 2024 plaasgevind het, het die Leriba-kampus in Centurion gasheer gespeel vir ʼn groep van agt studente vanaf die École Pratique des Hautes Études Commerciales – of EPHEC soos dié hoëronderwysinstelling meer algemeen bekend staan. Hierdie studente is almal besig met hul tweede jaar van studie in verskeie rigtings soos e-besigheid, bemarking en die regte.
Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof: Bestuurswetenskappe aan Akademia, het hierdie inisiatief dit ten doel om die besigheidsontwikkelingsproses prakties vir studente oop te breek vanuit ’n globale perspektief. Sy verduidelik dat daar tydens elke dag se sessies aandag aan ʼn bepaalde tema uit dié proses gegee is en dat ’n Akademia-dosent gevolglik getaak was om hierdie tema teoreties en vanuit ’n Suid-Afrikaanse konteks te begrond. Elke dag het ook ’n gespreksessie met ’n kundige vanuit die bedryf ingesluit wat praktiese advies vanuit sy/haar ervaringsveld gedeel het. Kundiges wat aan hierdie gesprekke deelgeneem het, sluit in dr. Thommie Burger (besigheidskonsultant en stigter van JTB Consulting), Theuns Botha (medestigter van Thyme Bank en hoof: besigheidsontwikkeling by SFD), Thebe Ikalafeng (stigter van Brand Africa), Francois van Vuuren (direkteur: Eiendomme by Kanton) en dr. René de Klerk (uitvoerende direkteur: WAS).
Deelnemende studente het elke dag die teorie én praktyk in groepsverband bespreek waarna hulle ’n praktiese opdrag moes voltooi onder die leiding van ’n Akademia-mentor. Hierdie aktiveringselement het oor die loop van die week opgebou tot voorleggingsgeleentheid op die laaste dag waartydens studente ’n besigheidsprobleem, ’n oplossing (by wyse van ’n innoverende idee) asook ’n bemarking- en volhoubaarheidsplan moes voorlê.
Coetzer verduidelik dat alhoewel die Internasionale Week ’n splinternuwe inisiatief vanuit die fakulteit is, dit nie Fonties se eerste kennismaking met die internasionale besigheidsarena is nie. ’n Afvaardiging van Akademia het verlede jaar aan ’n jaarlikse samewerkingsweek van die Artevelde Universiteit vir Toegepaste Wetenskappe in Gent, België, deelgeneem.
Volgens Coetzer was dit baie opwindend om te sien hoe die studente se onderskeie aanbiedings die week se inhoud “lewend” gemaak het, en hoe hulle die inligting en praktyksadvies ter harte geneem het en prakties toegepas het. Sy vertel voorts dat vanuit die studente se terugvoer dit duidelik was dat hulle die insette van die onderskeie akademici en die gassprekers as waardevol ervaar het. Hulle het voorts hul waardering uitgespreek vir die gulhartigheid waarmee hulle ontvang is. “Die sukses van hierdie inisiatief moet vierkantig voor die deur van elke deelnemende lid van die fakulteit geplaas word,” sê Coetzer. “Die Akademia-span is ’n gedugte span en dit is altyd lekker wanneer kollegas soos ’n gevestigde familie funksioneer,” sluit Coetzer af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.