Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia hou beroepsvoorligtingkonferensie vir Graad 11’s en 12’s

Gepubliseer op: 13 Oktober 2020

Op skool word jy dikwels oorweldig deur die reusebesluit oor wat jy na skool gaan doen. Leerders skryf psigometriese toetse en hoor van voorgestelde kwalifikasies wat hulle aanleg- en persoonlikheidsprofiele pas. Onsekerheid heers dikwels oor wat hierdie kwalifikasies behels en watter loopbaanroetes jy met só ʼn kwalifikasie kan betree.

Skoliere hoef nie meer te wonder nie! Akademia bring akademie en praktyk bymekaar met ʼn gratis virtuele beroepsvoorligtingkonferensie wat vanaf 26 tot 29 Oktober bedags van 09:00-11:00 eksklusief vir Graad 11’s en 12’s gehou word.

Akademia het besluit om hierdie konferensie aan te bied om belangstellendes toe te rus met die nodige kennis om deurdagte toekomsbesluite te neem. “Dikwels besef studente eers in die middel van hulle studies dat ʼn kwalifikasie nie is wat hulle verwag het nie,” vertel Mareli Rall, projekkoördineerder van die beroepsvoorligtingkonferensie. “Met hierdie konferensie hoop Akademia dat ons kan help om onsekerhede sommer vroegtydig al op te klaar.”

Akademia se voltydse akademiese aanbod vir 2021 word tydens die konferensie van alle kante bekyk. Akademici gaan onderskeie kwalifikasies deurtrap terwyl uitgesoekte persone vanuit die praktyk hulle persoonlike beroepservarings gaan deel. Boonop kry belangstellendes die geleentheid om beroepsrelevante vrae aan hierdie persone te rig.

Beroepsvoorligting hou talle voordele in. Rall meen dat behalwe dat jy presies weet wat jou beroep gaan behels wanneer jy afstudeer het, kan hierdie blootstelling ook help om nuwe kontakte op te bou. “Jy ontmoet dalk net die regte persoon en word later ʼn uitstekende pos aangebied. Of wie weet, dalk prikkel die konferensie ʼn nuwe beroepsbelangstelling en voor jy jou oë uitvee het jy ʼn kwalifikasie in hierdie rigting voltooi.”

Belangstellendes kan vir een of meer van die volgende sessies registreer.

  • BA (Kommunikasie en Joernalistiek) – 26 Oktober
  • BSc (Wiskundige Wetenskappe) – 26 Oktober
  • BCom (Ekonomie en Regte) – 27 Oktober
  • BCom (Ondernemingsbestuur) – 28 Oktober
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) – 29 Oktober
  • BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) – 29 Oktober

 

Hierdie beroepsvoorligtingkonferensie is net een van die maniere hoe Akademia bydra daartoe om afgeronde studente aan gemeenskappe te lewer. “By Akademia wil ons nie net studente akademies oplei nie, maar ook opvoed sodat hulle gereed is vir hulle loopbane”, sê Rall. “As ek voor ek studeer het die geleentheid gehad het om waardevolle beroepsvoorligting te ontvang, het ek dit beslis met albei hande aangegryp.”

Belê hierdie skoolvakansie in jou toekoms! Bespreek jou aanlyn sitplek vir een of meer van die sessies hier.