Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia Uitgewery

Gepubliseer op: 7 Oktober 2020

Deur Theunis van Staden, vryskutjoernalis vir die studentenuusbrief

Vir die filosofiestudente behoort dit nie nuus te wees dat Akademia haar eie uitgewery het nie. Boeke soos die Verdediging van Sokrates deur Piet Boshoff en die tweevolume Middeleeuse Filosofie deur Johann Beukes is beslis ʼn aanwins vir enige studenteboekrak.

Hierdie publikasies (en ander) word hoofsaaklik op die Die Winkel verkoop, maar is ook by ander boekhandelaars soos Protea Boekwinkel beskikbaar. Ons wou meer uitvind oor hierdie opwindende Akademia-inisiatief en het vervolgens die voorreg om ʼn paar vrae aan die publikasiebeampte van Akademia Uitgewery, Gerdus Senekal, te stel.

1. Gee asseblief vir ons ʼn kort agtergrond van die ontstaan van Akademia Uitgewery.

Die idee agter dié uitgewery gaan reeds so ver terug as 2017, en was die breinkind van Piet le Roux, voormalige akademiese hoof van Akademia. Die ontstaansrede daarvoor was terselfdertyd gestaltegewing aan akademiese en intellektuele arbeid, asook die handhawing en uitbouing van Afrikaans as wetenskaps- en navorsingstaal.

2. Wat maak Akademia Uitgewery anders as ander uitgewers?

Mens moet vandag ver soek om uitgewers te kry wat akademiese en intellektuele werke in Afrikaans uitgee. Politieke en ekonomiese omstandighede maak dat dit byna Herkuleaanse inspanning verg om sodanige publikasie lewensvatbaar te maak.

Deur aansluiting by Akademia se 1) niewinsgewende aanslag en 2) gemeenskaps­ingesteldheid is dit vir Akademia Uitgewery moontlik om bogenoemde uitdagings wel die hoof te bied.

Wat 1) aanbetref maak ons nie boeke met die oog op wins nie, maar omdat ons glo in die belang daarvan om hierdie artefakte aan die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap beskikbaar te stel. (Die reaksie tot dusver getuig ook van mense se behoefte hieraan – lesers is telkens verbaas oor ons aanbod, omdat hierdie tipe boeke eenvoudig nêrens anders beskikbaar is nie.)

Sover dit 2) aangaan is ons ook bevoorreg om te kan steun op organisasies en vriende wat ons doelstellings deel. Veral die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verdien hier ʼn opregte woord van dank en erkenning vir deurslaggewende betrokkenheid by ons uitsette tot dusver.

3. Wat is die toekomsverwagting van Akademia Uitgewery?

Ons sal beslis voortbou wat die aard en inhoud van ons huidige katalogus aanbetref; dit wil sê akademiese en intellektuele werke in Afrikaans. Sover is daar ʼn toevallige neiging na filosofiese en besinnende werke, maar is ons stal glad nie tot hierdie tipe manuskripte beperk nie.

Benewens die uitbreiding wat verteenwoordige vakgebiede aanbetref, is ons ook in gevorderde stadium van beplanning en manuskripwerwing wat die publikasie van Afrikaanse handboeke aanbetref.

4. Watter interessante boeke het Akademia Uitgewery al agter haar naam?

Ons katalogus is op hierdie stadium nog beskeie, maar myns insiens is al die publikasies daarin besonders. Tans publiseer ons, sover my kennis strek, die enigste hedendaagse Afrikaanse weergawe van Plato se Verdediging van Sokrates (uit die Grieks vertaal deur dr. Piet Boshoff).

Die huldigingsbundel Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen is besonders met inagname van die uiters prominente bydraers daartoe, beide vanuit plaaslike en internasionale oorde.

Wat Middeleeuse Filosofie aanbetref verdien dié stel erkenning weens die omvang daarvan (byna 1 800 bladsye in twee volumes gepubliseer oor ongeveer ʼn millennium se filosofie en geskiedenis), die oorspronklike navorsing en insigte daarin vervat, asook die feit dat Afrikaanse verskyning daarvan eintlik vir ons taal ʼn wêreldgebeurtenis is.

5. Dalk ʼn woord van hoop wat ons kan oordra?

Tradisioneel beskou – ten minste in lig van die klassieke universiteitwese – is dit byna onmoontlik om ʼn universiteit in te dink wat nie ook self publikasies, ongeag intellektuele werke of handboeke vir haar eie en ander studente, kan uitgee nie. Akademia Uitgewery moet daarom beskou word as ʼn spesifieke verlenging van Akademia self, wat ten doel het om skrywers en lesers te dien deur gehaltepublikasies, uitnemend in inhoud en aanbieding, met integriteit in Afrikaans te lewer.

Akademia is ʼn Afrikaanse universiteit van eerstes – ʼn instelling om op trots te wees – en Akademia Uitgewery is net nog ʼn voorbeeld hiervan. Ondersteun gerus die uitgewery deur besoek af te lê by winkel.akademia.ac.za en een van hierdie opwindende publikasies aan te skaf.