Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia dra by tot die Wildbedryf Suid-Afrika Konferensie 2019

Gepubliseer op: 9 April 2019

Op Saterdag 6 April 2019 het die jaarlikse kongres van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se Internasionale Konvensiesentrum in Pretoria plaasgevind. Vanjaar se tema het gefokus op die ekonomie, biosekuriteit, klimaatsverandering, transformasie, en bemarking in die Suid-Afrikaanse wildbedryf. Meer as 300 afgevaardigdes het hierdie kongres bygewoon.

Wildbedryf Suid-Afrika (of Wildlife Ranching South Africa – WRSA) word oor die algemeen erken as die organisasie wat op nasionale sowel as internasionale vlak die belange van die wildbedryf in Suid-Afrika verteenwoordig. WRSA is ook by die teling, bewaring, produksie en bemarking van wild betrokke. Hierdie instelling verteenwoordig meer as 2 000 kommersiële wildboere en belanghebbendes wat by wildboerdery betrokke is.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, het die kongres bygewoon om ʼn referaat oor die impakfaktore van klimaat en klimaatsverandering op die Suid-Afrikaanse wildbedryf te lewer. Rautenbach, ʼn gerekende weerkundige, tree gereeld as spreker in veral die landbougemeenskap op, en is dikwels op Die Groot Ontbyt te sien. Vanjaar se referaat het klem op die historiese klimaat en toekomstige klimaatsveranderingprojeksies gelê, en het ook praktiese voorstelle gebied om die uitdagings van klimaatsverandering die hoof te bied.

“Akademia wil haarself nie net posisioneer as ʼn hoëronderwysinstelling van uitnemendheid nie, maar ook as ʼn instelling wat poog om ʼn leidende rol te speel om sodanig oplossings te vind vir die vele natuurwetenskapuitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar,” sê Rautenbach. “Samekomste soos die WRSA-kongres bied ʼn ideale platform vanwaar Akademia haarself as ʼn akademiese gemeenskapsgenoot kan aanbied wat daarna strewe om deur gehalte opleiding, opvoeding en navorsing in Afrikaans ʼn beter lewe vir almal in Suid-Afrika te skep.”

 
Adri Kitshoff-Botha, hoof- uitvoerende beampte van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), en prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, tydens die 2019 WRSA-kongres wat op 6 April 2019 by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) se Internasionale Konvensiesentrum plaasgevind het.
Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, lewer ʼn referaat oor die impak van klimaatsverandering op die Suid-Afrikaanse wildbedryf gedurende hierdie jaar se WRSA-kongres.