Gepubliseer op: 17 Februarie 2025
Akademia-alumnus, Chanté Kelder-Jansen van Rensburg (30), is van nature nuuskierig oor die wêreld rondom haar – mense, hul manier van doen en veral die redes waarom hulle op ʼn sekere manier optree al dan nie. In kort: sy hou daarvan om hoekom-vrae te vra. En laasgenoemde karaktereienskap pas haar soos ʼn handskoen, gegewe haar rol as mediaskakelbeampte by AfriForum.
Dié oud-Fontie, wat in 2022 die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-kwalifikasie suksesvol aan Akademia verwerf het, is ʼn gebore en getoë Pretorianer en het aan die Hoërskool Wonderboom gematrikuleer. “Ek is sonder twyfel ʼn lewenslange leerder, en benut elke geleentheid om myself akademies toe te rus,” sê Kelder-Jansen van Rensburg. Sy voeg by dat sy ná die voltooiing van haar eerste voorgraadse program aan die Universiteit van Pretoria (UP) opgewonde was om in 2019 via die nauurse afstandsmodel by die Akademia-familie aan te sluit.
Die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-program het nie net tot Kelder-Jansen van Rensburg se weetgierige aard gespreek nie, maar het haar ook die geleentheid gebied om denkegewys dieper in haar dinamiese en uiteenlopende beroepsveld te delf. “Omdat ek uit die aard van my werk baie met veral verskillende politieke perspektiewe en wêreldbeskouings gekonfronteer word, was dit vir my belangrik om myself met die nodige kennis toe te rus om myself met selfvertroue in dié omgewing te kan handhaaf,” meen Kelder-Jansen van Rensburg. Sy onthou veral prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, en Alida Kok, departementshoof: Sosiale Wetenskappe, se lesings en die manier waarop dié kundiges ingewikkelde konsepte vir studente kon oopbreek en só nuwe en alternatiewe gedagtes kon stimuleer.
Kelder-Jansen van Rensburg het aanvanklik by die destydse Lynnwood-sentrum ingeskakel, maar het ten tye van die koronaviruspandemie na die e-leeropsie oorgeskakel. Sy het haar eksamens egter by onderskeidelik die Centurion- en die Moot-sentrums afgelê. “Ek het daarvan gehou om by ʼn sentrum in te skakel, want dit verhef die studentweeservaring deur jou in aanraking te sit met medestudente en op dié manier bou jy nie net ʼn vriendekring op nie, maar ook ʼn goeie ondersteuningsnetwerk,” verduidelik Kelder-Jansen van Rensburg. Dit was veral hierdie gevoel van gemeenskap wat haar aangespoor het om in 2020 op die studenteraad (SR) te dien. Sy het die Kuns en Kultuur-portefeulje beklee.
As ʼn werkende student erken Kelder-Jansen van Rensburg dat dit soms baie uitdagend was om haar werksverpligtinge én studie te balanseer. Hierdie uitdaging is veral aan die einde van haar tweede studiejaar op die spits gedryf toe sy ʼn groot omwenteling in haar werksomgewing beleef het wat baie van haar tyd in beslag geneem het. “Gelukkig kon ek my studietydperk aanpas, en op hierdie manier my persoonlike verhoudings, werksvereistes én akademiese uitsette op ʼn méér gestruktureerde wyse bestuur terwyl ek nie oorweldig óf uitgebrand gevoel het nie,” onthou Kelder-Jansen van Rensburg.
Gedagtig aan haar eie werk-en-studeer-ervaring deel Kelder-Jansen van Rensburg haar topdriewenke met huidige Fonties wat nauurs oor afstand studeer:
Maak gebruik van die verskeie ondersteuningsnetwerke tot jou beskikking.
“Ek kan hoofstukke skryf oor hoe Akademia my vir my huidige beroepsrigting voorberei het,” sê Kelder-Jansen van Rensburg en voeg by dat sy nou weet hoe om die verskillende dele van ʼn groter geheel raak te sien én te waardeer. “Die instelling leer nie studente wat om te dink nie, maar eerder hoe om dieper te delf en krities na te dink oor alle aspekte van die lewe, hetsy persoonlik of professioneel. Ek gebruik hierdie vaardigheid elke dag en staan telkens verbaas oor die mate van insig wat op hierdie manier ontsluit word,” sê Kelder-Jansen van Rensburg.
Wat haar alma mater se uitbreiding na onder meer die Wes-Kaap betref, asook die vooruitsig van die vestiging van ʼn wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria in 2028, meen Kelder-Jansen van Rensburg dat dié groei musiek in die ore van Akademia-alumni is. “Die dae is lank verby waar mense nog kopgekrap het en gewonder het oor die instelling. Fonties is deesdae op almal se lippe en dit is só lekker om met Akademia se prestasies en roepingsgedrewe impak te mag spog, veral as alumnus,” sê Kelder-Jansen van Rensburg. Sy sluit af deur te sê dat dit haar wens is dat Akademia steeds méér en méér studente sal lok en dat sy status as voorkeur- onafhanklike en Afrikaanse hoëronderwysinstelling verder sal uitkring. En méér nóg, dat die instelling sal bly voortbou op die grondslag van die ware, die skone en die goeie.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.