Search
Close this search box.

Aanlyn inligtingsessie fokus op nagraadse diplomastudie in 2025

Gepubliseer op: 22 Oktober 2024

In vandag se snelveranderende werksomgewing kan ʼn nagraadse diploma deurslaggewend wees vir diegene wat hul loopbaantrajek wil bespoedig én/of hul kundigheid wil verbeter. Die realiteit is dat verskeie industrieë toenemend na diesulke gespesialiseerde kenniswerkers soek wat hulself by wyse van voortgesette opleidiing mededingend posisioneer en onderskei.

In die lig hiervan bied Akademia op Saterdag 16 November 2024 ʼn aanlyn inligtingsessie oor nagraadse diplomastudie aan met die oog op die 2025- akademiese jaar. Dié inligtingsessie, wat vanaf 09:00 tot 10:30 plaasvind, sal die fokus op die nagraadse diplomas in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde en Belasting by Akademia laat val. Hierdie programme word via die nauurse afstandsmodel vanuit die instelling se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied.

Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde

Die doel van die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde is om bekwame professionele persone voor te berei om as bestuursrekenmeesters hul plek met selfvertroue in die werksplek vol te staan. Dié program rus persone toe met dieperliggende insig met betrekking tot finansiële bestuur vanuit ʼn korporatiewe én individuele perspektief terwyl die klem deurgaans op verbeterde besluitneming rus.

Vir diegene wat hulself as geoktrooieerde bestuursrekenmeesters wil vestig, bied die program voorts toelating tot die eksamens op strategiese vlak van die Chartered Institute of Management Accountants (CIMA).

Nagraadse Diploma in Belasting

Die Nagraadse Diploma in Belasting is bedoel vir persone wat ʼn loopbaan as ʼn belastingkenner wil volg. Inhoudelik rus dié program persone met spesialiskennis en vaardighede toe om organisatoriese en invididuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Nasionale Tesourie te verseker.

Hierdie program geniet akkreditasie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belasting (SAIT), wat die grootste van die professionele belastingliggame in Suid-Afrika is. Dié instituut het dit ten doel om die belastingberoep te bevorder deur standaarde in opleiding, nakoming, monitering en prestasie te ontwikkel.

Meer oor die aanlyn inligtingsessie

Indien jy daarin belangstel om een van die bostaande programme in 2025 via die nauurse afstandsmodel by Akademia te studeer, is die interaktiewe aanlyn inligtingsessie pasgemaak vir jou.

Volgens Jeanmarie van Niekerk, leier: Bemarkingsadviseurs by die instelling, bied geleenthede soos dié inligtingsessie aan studente die geleentheid om eerstehands inligting te bekom en só ingeligte besluite oor hul voortgesette studiereis te kan maak. “Nóg ʼn waardevolle toevoeging tot hierdie sessies is die interaksie wat voornemende studente met huidige studente én dosente geniet. Op hierdie manier kan verwagtinge bestuur word en kan daar openlik gesels word oor uitdagings, en praktiese en bewese maniere, om dit aan te pak,” meen Van Niekerk.

Die program vir die sessie sien as volg daaruit:

  • ʼn Oorsig van Akademia
  • ʼn Oorsig oor die twee nagraadse diplomas
  • Klasbywoning
  • Toelatingsvereistes en die aansoekproses
  • Erkenning van professionele liggame
  • ʼn Interaktiewe vraag-en-antwoord-sessie

Bespreek vandag nog jou plek vir dié sessie hier.

“Kom sluit by ons aan vir dié sessie en kom vind meer uit oor die Akademia-netwerk. Dit is ʼn dinamiese netwerk van kennis, vriende en geleenthede,” sluit Van Niekerk af.

Die aanlyn inligtingsessie oor Akademia se nagraadse diplomas, in onderskeidelik Belasting en Bestuursrekeningkunde, sal jou toerus met die nodige inligting om weldeurdagte studiebesluite te neem.