Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Match in Africa, Kaapstad 2020 Vertoonvenster van ons tegnologiese uitnemendheid

Gepubliseer op: 20 Februarie 2020

Geskryf deur Riana Crafford, ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

Een van die opmerkings wat ek gedurig by my Bedryfsinligtingstelsel-studente hoor is “Suid-Afrika is mos agter op die tegnologiese gebied”.

Alhoewel ek dit my missie gemaak het om studente te help verstaan hoe ver van die waarheid hierdie stelling is, sluk hulle maar moeilik aan die moontlikheid dat Suid-Afrika ʼn uitstekende poel van vindingryke IT-spesialiste kan hê en dat ons IT-dienste wêreldklas kan wees.

Die IT-praktisyns in Suid-Afrika is nie pampoenkoppe nie, en is gesog deur ondernemings regoor die wêreld. Suid-Afrika is immers die teelaarde vir die Elon Musks van hierdie wêreld. Die tegnologie wat in Suid- Afrika ontplooi word, kan maklik kers vashou by die res van die wêreld.

As jy saam met my in die Kaapstad-stadion gesit het tydens die Match in Africa, sou jou hart ook trots in jou borskas geklop het. Ons Suid-Afrikaners kán maar…

Neem nou maar die baanbrekersaanwending van die reeds gevestigde Hawk Eye-tegnologie. (Selfs dié van julle wat nie gelukkig genoeg was om in Kaapstad te kon wees nie, het seker ook gesien dat daar geen lynregters was nie.) Nee, dit was nie omdat dit ʼn vriendskaplike wedstryd was en die spelers nie regtig omgegee het wat die telling was nie. Allermins!

Vir die eerste keer is die uitgebreide toepassing Hawk Eye Live gebruik, eerder as die tradisionele Hawk Eye wat al meer as tien jaar in gebruik is. Dit beteken dat elke lynbeslissing gemaak is deur tegnologie. Wanneer die bal buite die speelarea gebons het, het ʼn elektroniese stem dit binne 0,3 sekondes so via die skeidsregter se oorfone aangedui.

Die hele wedstryd lank het hierdie proses seepglad verloop. Welgedaan, George Phiri en die tegniese span! Daar was dus geen rede vir die spelers om met die skeidsregter te stry nie. Hulle vertroue in die proses was volkome – nie een keer het die spelers die beslissing bevraagteken nie.

Dis nie die enigste keer waar Suid-Afrikaanse uitnemendheid uitgestraal het nie. Ek kan aan verskeie voorbeelde dink waar tegnologie tydens die verloop van hierdie liefdadigheidsveldtog die proses ondersteun en vergemaklik het.

Dink maar aan die dag, maande gelede, wat die kaartjiekantoor oopgemaak het. Binne minute was al die kaartjies uitverkoop. Hoe sou ons dit sonder die gebruik van aanlyntegnologie reggekry het? As ons tegnologiese infrastruktuur dan so minderwaardig sou wees (volgens van my studente), was dit dan seker ʼn eenmalige wonderwerk (oftewel ʼn vloekskoot). Inteendeel, die sentrale aanlynkaartjiestelsel het ons deurentyd goed bedien, van die skakeling met die bankstelsels om elektroniese betalings te doen, tot waar die kaartjies gedruk en versprei is na meer as 50 000 ondersteuners. (En so van bankstelsels gepraat, ons s’n kan saamspeel met die bestes wêreldwyd!)

Nog ʼn mooi storie is toe ek die dag voor die tyd my Parkeer-en-Ry-kaartjies aanlyn deur Computicket aankoop. Ek gaan haal dit toe af by Checkers in Bayside Mall. Maar was ek nie ontsteld toe ek in die winkelsentrum aanland en beurtkrag het ingeskop nie!? Probleem? Geen probleem! Binne die skemerige winkel is my kaartjies sonder enige probleme uitgedruk. Welgedaan, Computicket en Checkers! Julle gebeurlikheidsplan het gehelp om my betyds by die stadion te kry. (Ons sê nou maar niks oor Eskom nie.)

Dink bietjie aan die volgende statistieke: Meer as 50 000 mense het saamgetrek in die stadion. As elkeen net vir twéé vriende of familielede ʼn foto of selfie gestuur het toe die wedstryd begin het, het ons selfoonnetwerke binne minute 100 000 beelde versend. Nou praat ons nie eers van video’s nie. Terselfdertyd het mense mekaar heen-en-weer gebel (“Waar is jy nou? Ek is by Ingang 3.”) Die Kaapse lugruim het uit sy nate gebars, maar elke sein is versend en ontvang en Suid-Afrikaners kon hierdie grootse geleentheid vreugdevol met mekaar deel.

Daar is nog vele ander voorbeelde van Suid-Afrikaanse tegnologiese uitnemendheid: jy moes maar net saam met die 50 000 ander toeskouers by die stadion se hekke ingestroom het, om te sien  hoe die tegnologie ons flink bedien het; die videograwe en die groot skerms wat die mooi geleentheid meer aanskoulik gemaak het; die lewendige uitsendings (sodat die res van Suid-Afrika en die wêreld wat nie so gelukkig was om daar te wees nie, dit ook kon sien); die klankstelsels …  Ek dink die leser kry die idee. Suid-Afrika staan op inligtingstegnologiese front nie ʼn sentimeter terug vir ander lande nie. (Wel, op baie ander fronte ook nie, maar dit is nie nou in hierdie artikel ter sprake nie.)

Suid-Afrikaners, julle is wenners. Ek is so trots op julle!

Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia