*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Van eerste onsekere tree tot loopbaansukses: boustene vir jong werkendes

Gepubliseer op:  27 November 2026

Geskryf deur Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia

Die oorgang van die studentelewe na die beroepswêreld is ʼn besonderse mylpaal. Ná jare se studie, eksamens, opdragte en persoonlike groei staan jong afgestudeerdes op die drumpel van ʼn nuwe en opwindende hoofstuk. Die vraag bly egter: Hoe bou ʼn mens ʼn loopbaan én ʼn sinvolle lewe waarop jy met trots kan terugkyk?

Tydens ʼn onlangse finalejaarsfunksie by Akademia het ek oor hierdie vraag nagedink en raad wat ek oor die jare heen van oudstudente ontvang het, wat reeds goed in hul loopbane vorder, gedeel. En hoewel elkeen se loopbaanpad anders lyk, is daar tog sekere beginsels wat telkens na vore kom. Dit is dan juis hierdie boustene waarop ʼn stewige professionele grondslag berus.

  • Wees altyd bereid om verder te leer

Jou eerste werk is nie jou eindbestemming nie, maar dien as ʼn belangrike leerskool. Gedagtig hieraan moet jy die werksplek met nuuskierigheid, nederigheid en ʼn opregte leergierigheid betree. Lees wyd, leer die instelling ken en doen moeite om die beleide en werkswyses te verstaan.

Vra vrae wanneer jy onseker is. Dit is veel beter om betyds duidelikheid te kry as om stilweg aannames te maak. Moet ook nie jou leergeleenthede beperk tot dit wat formeel van jou verwag word nie. Leer by mense wat langer as jy in die beroep staan, en wees bereid om hul ervaring en insig ter harte te neem. Kennis word immers nie nét in handboeke en lesingslokale opgedoen nie; dit word ook deur waarneming, kritiese gesprekke en ervaring verwerf.

  • Bou doelgerig aan jou reputasie

ʼn Goeie reputasie word nie oornag gevestig nie. Dit word dag ná dag doelgerig opgebou deur betroubaarheid, ʼn goeie werksetiek en die voortdurende bereidheid om meer te doen as wat bloot van jou verwag word.

Doen die werk wat aan jou toevertrou word na die beste van jou vermoë. Onthou om ook aandag aan die klein dingetjies te gee en streef daarna om selfs eenvoudige take buitengewoon goed uit te voer. Mense let op wanneer jy jou woord gestand doen, verantwoordelikheid aanvaar en konsekwent tot gehalte verbind is.

Jy moet ook van meet af besef dat jou werk nie nét oor take en doelwitte gaan nie. Dit gaan oor mense. Verhoudings maak saak en die manier waarop jy met kollegas, kliënte en ander belanghebbendes omgaan, help om jou professioneel te vorm. Op dié manier bou jy nie net aan jou eie loopbaan nie, maar dra jy ook doelbewus by tot die sukses en welstand van die instelling waarvan jy deel is.

  • Laat jou karakter jou loopbaan rig

Suksesvolle loopbane word nie uitsluitlik deur akademiese prestasie of tegniese vaardighede bepaal nie. Jou karakter speel ʼn ewe belangrike rol.

Wanneer jy foute maak, wees bereid om die feite eerlik te erken voordat jy daaruit probeer leer. Verantwoordbaarheid is nie ʼn teken van swakheid nie, maar eerder ʼn belangrike voorvereiste vir groei. Wees tegelykertyd taakgerig én mensgerig. Streef na uitnemendheid, maar moenie vergeet dat mense méér as bloot middele tot ʼn doel is nie.

Onthou: Kennis en bekwaamheid is waardevol, maar dit is jou ingesteldheid, integriteit en omgang met ander wat uiteindelik bepaal hoe jy daardie kennis aanwend. Bly ook weg van gedrag wat ander afbreek. Skinderpraatjies kan vertroue en verhoudings onherroeplike skade berokken, selfs wanneer dit na onskuldige gesprekke lyk. Wees eerder iemand wat vertroue bevorder, met respek praat en ʼn positiewe bydrae tot die werksomgewing lewer.

  • Vyf beginsels uit my eie ervaringsraamwerk

Benewens hierdie praktiese raad, wil ek graag ook vyf bykomende beginsels beklemtoon wat vir my persoonlik besonder belangrik is.

  • Leef deur geloof

Leer om die Here te vertrou, ook wanneer die pad vorentoe onseker lyk. Geloof beteken nie dat alle vrae onmiddellik beantwoord sal word óf dat uitdagings sal verdwyn nie. Dit beteken dat jy jou lewe met vertroue kan leef, selfs te midde van onsekerheid. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, is ʼn kosbare anker wanneer die lewe nie volgens plan verloop nie.

  • Bly fiks – fisies én geestelik

Die gesegde dat ʼn gesonde liggaam ʼn gesonde gees huisves is inderdaad waar. Sorg vir jou liggaam, voed jou denke en maak tyd vir dit wat jou geestelik verkwik. Lees soveel as wat jy kan, en bly nuuskierig oor die wêreld en sy mense. Jou ontwikkeling eindig nie die dag wanneer jy oor die verhoog tydens die kwalifikasieplegtigheid stap nie; dit is ʼn lewenslange reis.

  • Onthou dat niks groot begin nie

Groot dinge word sorgsaam en oor tyd gebou, een tree en een bousteen op ʼn slag. Moenie die waarde van geringe beginne onderskat nie. Jou eerste pos is dalk nie jou droomwerk nie, en jou eerste een of twee werke mag bloot geleenthede wees om ervaring op te doen, jou vaardighede te slyp en jou loopbaanrigting beter te verstaan. Jy hoef nie jou hele toekoms reeds aan die begin uit te werk nie. Wees getrou aan die geleenthede wat vandag aan jou toevertrou word.

  • Beoefen die klassieke deugde

Streef deurgaans na wysheid om goeie besluite te neem, dapperheid om die regte dinge te doen wanneer dit moeilik is, geregtigheid om ander billik te behandel en selfbeheersing om jou optrede verantwoordelik te rig. Hierdie deugde is nie bloot abstrakte ideale nie; dit word sigbaar in die keuses wat jy elke dag maak.

  • Kies doelbewus om nie aan destruktiewe gedrag deel te neem nie

Moenie skinder nie en moenie skindergesprekke aanvuur nie. Wees iemand wat bou eerder as breek, wat hoop eerder as wanhoop saai en wat ander se menswaardigheid respekteer. Die kultuur van ʼn instelling word immers óók gevorm deur die alledaagse keuses van die mense wat daar werk.

Bou met die oog op die toekoms

Terwyl jy jouself gereedmaak vir die volgende hoofstuk, wil ek jou as afstuderende student aanmoedig om verder te kyk as die eerste salarisstrokie, die eerste bevordering of die ideale posisie. Vra ook watter soort mens jy wil wees, watter bydrae jy wil lewer en watter waardes jy deur jou werk en lewe wil uitleef.

ʼn Betekenisvolle lewe word nie bloot aan prestasies gemeet nie, maar ook aan die karakter waarmee jy leef, die verhoudings wat jy koester en die verskil wat jy in ander se lewens maak.

Mag jy ʼn betekenisvolle lewe lei. Mag jy met geloof, wysheid en moed aan jou toekoms bou, een bousteen op ʼn slag. En mag jy, te midde van al die moontlikhede en uitdagings wat voorlê, altyd onthou waar die diepste bron van hoop en rigting lê.

Akademia het onlangs saam met finalejaar-Fonties in George en Pretoria die voltooiing van hul studiereis gevier. Die geleentheid het finalejaarstudente die kans gegee om hul prestasies te vier, terwyl hulle saam met die instelling se alumni kon kuier en skouers skuur.
Marthinus Visser, besturende direkteur: Akademia, meen dat daar sekere boustene is wat, ongeag elkeen se eie loopbaanreis, waarde tot ʼn stewige professionele grondslag voeg.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.