*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Woordeboeke: die skatkamers én boustene van ʼn lewende taal

Gepubliseer op:  16 Oktober 2026

Geskryf deur Anriné Oerlemans, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Internasionale Woordeboekdag word jaarliks op 16 Oktober gevier ter herdenking van die geboortedag van Noah Webster, die invloedryke Amerikaanse leksikograaf wat in 1758 gebore is. Dié dag vestig opnuut die aandag op die besonderse waarde van woordeboeke as bewaarders, beskrywers en boustene van taal.

Leksikografie is die teorie én praktyk van woordeboeksamestelling – van die beplanning en ontwerp tot die uiteindelike vervaardiging daarvan. Dit behels die noukeurige en sistematiese optekening asook beskrywing van ʼn taal se woordeskat, oftewel sy leksikon. Só word woorde nie bloot versamel nie, maar ook ontsluit, verklaar en bewaar vir huidige én toekomstige geslagte.

In vandag se digitale leefwêreld is inligting met die druk van ʼn knoppie binne almal se bereik, en kan die betekenis van ʼn woord binne sekondes nagespoor word. Tóg ontstaan ʼn belangrike vraag wanneer mense goedsmoeds die eerste bron wat in ʼn aanlyn soektog verskyn, sonder meer as gesaghebbend aanvaar: Is digitale inligting altyd só betroubaar soos die noukeurige leksikografiese navorsing wat die oorsprong, betekenis en gebruik van ʼn woord ontsluit?

Woordeboeke as taalbewaarders en -stryders

Woordeboeke is veel meer as net ʼn onmisbare deel van elke taalonderwyser se boekrak; dit is ʼn grondslag waarop ʼn taalgemeenskap sy taal koester, ontwikkel en bewaar.

Die besonderse waarde van woordeboeke lê in hul tweeledige rol as rigtingwysers én draers van ʼn taal se voortbestaan:

  • Enersyds bevorder woordeboeke taalstandaardisering deur as gesaghebbende verwysingsbronne te dien wat rigting gee aan die korrekte en konsekwente gebruik van ʼn taal. Terselfdertyd verryk dit taalgebruik deur woordeskat uit te brei, leesbegrip te bevorder en kommunikasievaardighede te versterk.
  • Andersyds dra woordeboeke by tot die groei en voortbestaan van ʼn taal deur nuwe woorde en veranderende taalgebruik op ʼn sistematiese wyse op te teken en te verwerk. Deur voortdurende bywerking weerspieël woordeboeke die dinamiese aard van taal en help dit verseker dat ʼn taal tred hou met die veranderende wêreld waarin sy sprekers leef.

Dit is daarom duidelik dat sonder volgehoue leksikografiese werk ʼn taal se woordeskat nie na behore gedokumenteer en uitgebou word nie, wat die taal se ontwikkeling en gebruik nadelig kan beïnvloed en beperk.

Woordeboeke as meer as net naslaanbronne

Woordeboeke verteenwoordig daarom veel meer as blote naslaanbronne: Dit is lewende dokumente wat die groei, verandering en voortbestaan van ʼn taal van geslag tot geslag help vaslê.

Die Afrikaanse woordeboektradisie het in 1926 ʼn belangrike mylpaal bereik met die aanvang van ʼn projek om ʼn omvattende naslaanbron vir die Afrikaanse leksikon saam te stel. Die doelwit was om sowel die algemene woordeskat as die woorde uit informele en streeksvariëteite op te teken.

Hierdie ambisieuse onderneming het uiteindelik gelei tot die ontstaan van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), wat steeds aktief uitgebrei en bygewerk word.

Die WAT is veel meer as ʼn versameling woordverklarings. Soos dit in sy voorwoord gestel word, bied hierdie woordeboek ʼn goeie aanduiding van die denkpaaie wat Afrikaanssprekendes in die verlede geloop het terwyl dit terselfdertyd denkstene vir die hede en die toekoms neerlê. Só bewaar die WAT nie net die spore van Afrikaans se taalverlede nie, maar help dit ook om Afrikaans se voortgesette ontwikkeling toekomsgedrewe te rig.

Kernboustene in taalontwikkeling

Woordeboeke speel gevolglik ʼn kardinale rol in taalontwikkeling, aangesien dié leksikale bronne ʼn belangrike bydrae tot die voortbestaan, verdere ontwikkeling en standaardisering van ʼn taal lewer.

Die WAT som hierdie rol treffend op: “Woordeboeke is die troffel en die waterpas van elke taalgebruiker. Hulle is die taalinstrumente wat gebruik word om die mens se taalvermoë uit te bou. Met ʼn fyngeskakeerde woordeskat kan elke gedagte in die regte voeë gelê word en kan elke mens sy aangebore vermoë ten beste benut.”

Onderskei só tussen woordeboeke

Daar is egter ʼn paar belangrike onderskeide om in gedagte te hou wanneer ʼn woordeboek gekies word. Die geskiktheid van ʼn woordeboek hang immers af van die doel waarvoor dit gebruik gaan word:

  • Etimologiese woordeboeke: ʼn Etimologiese woordeboek verskaf inligting oor die historiese oorsprong van woorde en verleen inligting oor die taal óf tale waaruit woorde afkomstig is.
  • Vertalende woordeboeke: ʼn Vertalende woordeboek is ʼn naslaanbron wat vir vertalingsdoeleindes gebruik word en wat dit moontlik maak om die ekwivalent van ʼn woord in ʼn ander taal te vind. Daar kan voorts tussen tweetalige en meertalige vertalende woordeboeke onderskei word.
  • Omvattende woordeboeke: ʼn Omvattende woordeboek is ʼn uitgebreide naslaanbron wat ʼn groot gedeelte van die leksikon van ʼn taal opteken en breedvoerige inligting oor die woorde verskaf. Die vernaamste omvattende woordeboek van Afrikaans is die WAT.
  • Standaardwoordeboeke: ʼn Standaardwoordeboek is ʼn algemene tipe woordeboek wat as naslaanbron dien vir inligting oor die normatiewe gebruik van ʼn taal. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is ʼn voorbeeld van een van die vernaamste Afrikaanse standaardwoordeboeke.
  • Pedagogiese woordeboeke: ʼn Pedagogiese woordeboek, ook bekend as ʼn skoolwoordeboek, word primêr vir opvoedkundige doeleindes gebruik. Hierdie woordeboeke bevat gespesialiseerde woordeskat en is spesifiek ontwerp om voorsiening te maak vir leerders se ontwikkelende taalvaardighede en taalvlakke.
  • Beperkte woordeboeke: ʼn Beperkte woordeboek dien as ʼn vinnige naslaangids en bied ʼn afgebakende woordeskat. Woordeboeke wat as “beknopte woordeboeke” of “sakwoordeboeke” geklassifiseer word, val in hierdie kategorie.
  • Sinoniemwoordeboeke (tesourus): ʼn Sinoniemwoordeboek dra by tot woordeskatontwikkeling deur die voorsiening van alternatiewe woordkeuses en sinonieme vir ʼn bepaalde woord.
  • Ensiklopedie: ʼn Ensiklopedie is ʼn naslaanbron wat sistematies inligting oor ʼn spesifieke veld oordra. In teenstelling met ʼn woordeboek, wat hoofsaaklik op woorde en hul betekenisse fokus, fokus ʼn ensiklopedie op ʼn bepaalde vakgebied en verskaf dit omvattende inligting oor die onderwerpe binne dié gebied.

Die rol en plek van woordeboekgebruik in die taalklaskamer

Maar watter plek beklee die ontwikkeling van woordeskatvaardighede deur woordeboekgebruik vandag nog in taalkurrikula? Word woordeboeke werklik doeltreffend in die taalklaskamer benut óf dien dit bloot as boekrakversiering?

Hoewel woordeboekgebruik ʼn integrale deel van die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV)-taalkurrikulum vorm, bly die vraag of hierdie waardevolle leerinstrument in die klaskamer ten volle tot sy reg kom. Veral in die digitale era waarin inligting met enkele klikke op ʼn selfoonskerm beskikbaar is.

Onderwysers spreek dikwels kommer uit oor uitdagings met leerders se spelvaardighede, maar dalk is woordeboeke en die eksplisiete onderrig van naslaanvaardighede juis ʼn antwoord om dié struikelblokke te oorkom. ʼn Aanbeveling sal wel wees dat onderwysers begin met die onderrig van woordeboektipologie. Laasgenoemde sal leerders toerus met die kennis oor die tipes woordeboeke wat daar is om só duidelikheid te hê oor wáár inligting bekom kan word.

Nóg ʼn waardevolle onderwyspraktyk sal die onderrig van woordeboekuitleg behels sodat leerders weet hóé om inligting te vind en hóé om effektief daarmee om te gaan. Dit wil sê, om self te kan bepaal watter inligting relevant vir ʼn spesifieke naslaandoel is.

Woordeboekonderrig bied talle voordele:

  • Die vermoë om taalvaardighede selfstandig uit te bou;
  • kritiese denke te bevorder; en
  • om met groter taalbewustheid en selfvertroue te kommunikeer.

Só word ʼn belangrike grondslag gelê vir die ontwikkeling van vaardighede wat in die 21ste eeu onontbeerlik is.

Die sukses van woordeboekonderrig hang egter in ʼn groot mate af van die waarde wat onderwysers self aan woordeboekgebruik heg asook die voorbeeld wat hulle in die klaskamer stel. Word leerders doelbewus gewys hoe om woorde na te slaan, betekenisse binne konteks te verstaan en inligting krities te beoordeel – hetsy met behulp van ʼn gedrukte of aanlyn woordeboek?

Miskien bied Internasionale Woordeboekdag juis aan ons die geleentheid om opnuut stil te staan by die ontsaglike taalskat wat in woordeboeke opgesluit lê. Wanneer ons ʼn kind ʼn nuwe woord leer, verruim ons sy woordeskat; wanneer ons hom egter leer hoe om ʼn woordeboek te gebruik, rus ons hom toe om selfstandig die skatkamer van taal te ontsluit – ʼn vaardigheid waaruit hy lewenslank waarde sal kan put.

Anriné Oerlemans, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat woordeboekgebruik leerders toerus om selfstandig die skatkamer van taal te ontsluit – ʼn vaardigheid waaruit hy lewenslank waarde sal kan put.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.