*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 13 Oktober 2026
Geskryf deur Monica Mynhardt, voorsitter van Akademia se alumni-komitee vir die 2024-2026-termyn
Toe ek en my medekomiteelede twee jaar gelede (in 2024) as Akademia se eerste alumni-komitee* na vore getree het, het ons as’t ware voor ʼn oop plein van moontlikhede gestaan. Daar was geen bestaande resep of gevestigde tradisie om bloot voort te sit nie. Ons taak was om nuut te dink, te beproef en krities te verken om só saam aan iets nuuts te begin bou.
Wanneer ʼn mens iets nuuts bou, moet elke steen met groot omsigtigheid en oorweging neergelê word. Elke idee en inisiatief is immers in wese méér as net ʼn eksperiment. Dit kan die begin van ʼn nuwe tradisie, ʼn nuwe verbinding of selfs ʼn nuutgevonde institusionele hoeksteen wees. Laasgenoemde was, in ʼn neutedop, die uitdaging én voorreg wat ons gedurende ons termyn opgelê is.
Die neerlegging van ʼn stewige fondasie
As komitee het ons eerstens gepoog om ʼn stewige fondasie te lê, terwyl ons terselfdertyd die groter prentjie vir die instelling se alumni-gemeenskap begin teken het. Ons het deurentyd gedink terwyl ons gebou het, en gebou terwyl ons gedink het! Nie alles het altyd volgens plan verloop nie. Soms was die pad onseker, maar met elke tree het ons al hoe duideliker tot die besef gekom dat dit uit en uit die moeite werd is om aan iets te bou wat uiteindelik groter as jouself is.
ʼn Alumni-komitee kan egter nie in isolasie funksioneer nie. Sonder die betrokkenheid en ondersteuning van alumni bly ʼn komitee bloot ʼn administratiewe projek. Wanneer ʼn gemeenskap egter saam begin bou aan ʼn kultuur van verbondenheid, voortgesette deelname en ʼn gedeelde toekomsvisie, kry dit ʼn betekenis wat veel verder as ʼn enkele termyn strek.
Met hierdie gewaarwording in gedagte kan ons nou met dankbaarheid dié dienstaak aan ʼn nuwe komitee oorhandig. Nie omdat ons elke doelwit volmaak bereik het nie, maar omdat ons glo dat die sukses van ʼn eerste komitee nie gemeet moet word aan ʼn voltooide bouwerk nie. Dit moet eerder gemeet word aan die fondasie wat dit vir diegene wat volg nalaat. Laasgenoemde sluit ten nouste aan by een van Akademia se kernwaardes, naamlik verbondenheid tussen geslagte.
Die strewe na voortgesette verbondenheid
Hierdie waarde herinner ons daaraan dat geen geslag in afsondering bestaan nie. Ons ontvang altyd iets van diegene wat voor ons gekom het – kennis, kultuur, beginsels, instellings en tradisies. Hiermee saam ontvang ons ook die verantwoordelikheid om te bewaar, verder te ontwikkel en om ʼn erfenis na te laat.
Dieselfde beginsel geld vir elke alumni-komitee wat nog ons geliefde alma mater sal verteenwoordig. As alumni is ons elkeen deel van ʼn groter en steeds ontwikkelende verhaal. Ons ontvang wat voor ons gebou is, voeg ons eie boustene by, en gee dit dan weer oor aan die geslagte alumni wat ná ons kom.
Dit is met trots én ʼn gevoel van diepe nederigheid dat ons terugkyk op ʼn tweejaartermyn en kan sê: Ons het probeer om dit wat aan ons toevertrou is, te bewaar en verder te ontwikkel. Ons kon dit doen danksy die genade van die Here en die betrokkenheid van alumni wat saam met ons aan hierdie gemeenskap bou.
Nou is dit tyd om die aflosstokkie oor te gee.
Saam word daar aan ʼn alumni-erfenis gebou
Mag die volgende komitee verder bou op die grondslag wat gelê is, nuwe ruimtes van verbondenheid skep en met dieselfde vrymoedigheid nuwe moontlikhede verken. Want uiteindelik gaan dit nie oor wat een komitee in twee jaar bereik het nie. Dit gaan oor wat ons saam oor geslagte heen aan die bou is.
En dit is dalk die mooiste nalatenskap wat ons kon nalaat: nie ʼn voltooide gebou nie, maar ʼn stewige fondasie waarop die volgende geslag verder kan bou.
Besoek gerus die instelling se webblad vir meer inligting oor Akademia se alumni-gemeenskap.
*Akademia se tweede alumni-komitee is onlangs aangekondig. Hierdie komitee se termyn sal strek vanaf 2026 tot en met 2028.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.