*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 6 Oktober 2026
Die gordyn het op Saterdagaand 3 Oktober 2026 op ʼn nuwe hoofstuk in Akademia se studentekultuur gelig toe Daai kleindorpiegevoel*, die instelling se eerste studentemusiekblyspel, tydens ʼn feestelike galapremière voor ʼn bykans stampvol Centurion Teater op die planke gebring is.
Wat maande gelede as ʼn nuwe kultuurinisiatief binne die instelling se studentelewe begin het, het met dié geleentheid ʼn betekenisvolle mylpaal bereik. Deelnemende Fonties (studente wat aan Akademia studeer) het nie nét die gehoor met ʼn produksie uit die boonste rakke vermaak nie, maar self in die kollig getree as akteurs, sangers, musikante, verhoogtegnici, stelontwerpers, én projekbestuurders.
Die resultaat was ʼn volwaardige teaterproduksie wat nie net die gehoor vermaak het nie, maar ook ʼn blik gebied het op die omvang van dit waartoe studente in staat is wanneer talent, toewyding en samewerking bymekaarkom.
Studente blom op die verhoog
Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het ná afloop van die vertoning sy lof én trots teenoor die studente uitgespreek.
“As ʼn hoëronderwysinstelling verbind Akademia homself tot die hoëordefunksies van die lewe, en dit het vanaand helder op die verhoog deurgeskyn. Van die musiek, die sang en danspassies tot die dramatiese vertolking, spreek hierdie musiekblyspel nie nét van ongelooflike talent nie, maar ook van volgehoue toewyding. Ek staan verstom, veral as jy in ag neem dat die deelnemende studente ook voltyds studeer, werk en ander belangstellings navolg,” sê Visser. Hy voeg by dat daar eenvoudig niks amateuragtigs aan die vertoning was nie. Inteendeel, dit het hom met heimwee gevul oor sy eie grootwordjare en ervarings in ʼn kleindorpie.
Dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake, beskou die produksie eweneens as veel meer as net ʼn aand op die teaterverhoog. “Op die einde van die dag gaan Daai kleindorpiegevoel oor soveel méér as net ʼn teaterproduksie, dit verteenwoordig ʼn besonderse geleentheid vir studente om hul talente uit te leef, nuwe vaardighede te ontwikkel en saam aan iets groter as hulself te bou. Die trots wat jy op elke student se gesig sien, getuig van die potensiaal wat deur harde werk, passie en toewyding ontsluit word,” sê Coetzee. Sy nooi die gemeenskap om gerus self te kom kyk wat alles by Stofpan aangaan.
Maak gereed om aangenaam verras te word
Die ervare lede van Inhoud Huis Musiek – wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling van dié studentemusiekblyspel – is dit ook eens: Daar gaan nog lank gepraat word oor die sukses van Daai kleindorpiegevoel.
Volgens Jannes Erasmus, wat die produksie behartig het, lê die sukses van dié musiekblyspel opgesluit in die feit dat die deelnemende studente nie drama- óf musiekteaterstudente is nie. Hulle is gewone Akademia-studente wat tussendeur hul akademiese verpligtinge en ander belangstellings met groot sukses aan ʼn eerste volwaardige teaterproduksie gewerk het.
“Dit is veral die werk wat agter die skerms gedoen is, wat my bybly. ʼn Mens moet jouself telkens deur die loop van die vertoning daaraan herinner dat hierdie nie professionele akteurs is nie, want dit is ongelooflik om te besef hoeveel hierdie groep in ʼn kort tydjie vermag het. Dit was ook besonders om te sien hoe die gehoor die produksie geniet het.” meen Erasmus.
Vir hom (Erasmus) was die galapremière nie net ʼn hoogtepunt van die produksie nie. Hy meen dit is ʼn bewys van die moontlikhede wat na vore kom wanneer studente die ruimte kry om hul talente buite die lesinglokaal te ontdek en te ontwikkel.
Nostalgie en heimwee
Die produksie se aantrekkingskrag lê volgens Jacomien de Wet, wat saam met Johan Vorster die konsep en storielyn ontwikkel het, in die herkenbaarheid van die karakters en die wêreld waarin die verhaal afspeel. Hoewel Stofpan ʼn fiktiewe dorpie is, sal gehore volgens De Wet waarskynlik iets van hul eie dorp, familie óf verlede daarin herken.
“Hierdie produksie spreek tot die groot liefde vir die Afrikaanse taal wat deur die groter kultuurgemeenskappe gehuldig word. Ons wil hierdeur mense op ʼn nostalgiese manier laat onthou wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Ek dink dit is een van daardie produksies wat jou sommer van die begin af intrek, nie net wat die humor betref nie, maar ook die sterk gevoel van nostalgie. Die karakters is herkenbaar, die storie is lig en toeganklik, en die musiek neem jou op ʼn reis terug na bekende plekke en herinneringe,” sluit De Wet af.
Stofpan wag op jou
Belangstellendes kan nog tot en met 10 Oktober die studentemusiekblyspel by die Centurion Teater geniet. Daar is middag- en aandvertonings. Kaartjies is vanaf R220 per persoon by die teater beskikbaar asook op die Quicket-kaartjieplatform.
Borge en vennote
Daai kleindorpiegevoel word in trotse samewerking met Virseker, OBARO, Lessing Konfyte en Bakkery asook Maroela Media – as mediavennoot – aangebied.
*Die musiekblyspel is deur Inhoud Huis Musiek ontwikkel, onder leiding van Johan Vorster en Jacomien de Wet, met Jannes Erasmus wat vir die teks en regie verantwoordelik was en Arnold de Wet en Vorster vir die musiekverwerkings. Vorster het ook die musiekregie behartig.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.