Gepubliseer op: 2 September 2026
Om te studeer hoef nie noodwendig te beteken dat jy jou werk, inkomste óf ander belangstellings moet prysgee nie. Akademia se nauurse afstandsmodel bied aan werkende studente die geleentheid om nauurs én oor afstand te studeer terwyl hulle terselfdertyd waardevolle werkservaring opdoen en ʼn inkomste verdien.
Finansieringsopsies tot jou beskikking
Die sleutel lê egter daarin om toegang tot gehalteonderrig op ʼn volhoubare en haalbare manier te vind. Dit is presies waar Akademia ʼn verskil maak. Die buigsame nauurse afstandsmodel, tesame met weldeurdagte beplanningsopsies en ondersteuning, bied aan voornemende studente praktiese oplossings vir die finansiële uitdagings van hoër onderwys. Dit alles, sonder om gehalte in te boet.
Werk en studeer
Studente wat reeds werk, kan hul inkomste gebruik om gedeeltelik of ten volle tot die delging van hul studiekoste by te dra.
Aanpasbare betalingsopsies
Akademia se betalingsplanne is veelsydig en bied aan jou die geleentheid om studiegelde op ʼn aanpasbare manier af te betaal. Binne hierdie konteks, kan jy die volgende keuses uitoefen:
Daar is ook merietebeurse vir onderskeidings wat deur 2026-matrikulante verwerf is.
Neem minder modules en versprei hierdie modules oor ʼn tydperk
Jy hoef nie noodwendig die maksimum aantal modules per jaar te neem nie. Deur jou modules oor ʼn langer tydperk te versprei, kan jy jou jaarlikse studiekoste verlaag en steeds met jou gekose program vorder.
Studieondersteuning
Voornemende studente kan ook vir finansiële ondersteuning aansoek doen. Studente kan onder meer vir ʼn rentedraende studielening by Konnek aansoek doen of deur die Solidariteit Helpende Hand Studietrust vir verdienstelike gevalle. Laasgenoemde verwys na rentevrye lenings.
Studie as ʼn belegging met ewigheidswaarde
Die belangrikste oorweging is om vroeg reeds te beplan en ʼn finansieringsopsie te kies wat by jou unieke omstandighede pas. ʼn Belegging in naskoolse studie verskil fundamenteel van ander tipe beleggings, omdat dit nie aan markskommelinge onderhewig is nie. Dit is ʼn belegging in jou eie vorming en professionele mondering. Binne die Suid-Afrikaanse konteks is werkloosheid onder gegradueerdes beduidend laer as onder diegene daarsonder en daar is sterk bewyse dat ʼn gehaltekwalifikasie ʼn persoon se inkomstevermoë en loopbaanvooruitsigte daadwerklik bevorder.
Hoewel die korttermynvooruitsig soms met onsekerheid gepaardgaan, bly die langtermynwaarde van naskoolse studie beduidend konsekwent. Onsekerheid kom en gaan, maar die kennis, vaardighede en vorming wat ʼn kwalifikasie tot gevolg het, sal jou ʼn leeftyd bybly.
Studieaansoeke vir 2027 is oop. Indien jy meer inligting verlang sluit by ons aan in September en Oktober vir verskeie inligtingsgeleenthede. Besoek gerus Akademia se webblad onder Nuus en Gebeure om jou plek te bespreek.
