*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Woordmeesters 2026: Wenners is trotse voorlopers vir Afrikaans

Gepubliseer op:  14 Augustus 2026

Die gewag is verby! Ná weke se afwagting is Afrikaanse Taaldag, 14 Augustus 2026, uiteindelik die dag waarop Akademia se woordmeesters vir 2026 aangewys word.

As ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling wat Afrikaans as akademiese taal koester, bevorder en uitbou, bied Akademia die jaarlikse Woordmeesters-taalkompetisie* aan as ʼn viering van kennis, identiteit en kultuur. Dié eiesoortige taalkompetisie word aangebied in trotse samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), en Die Papier as mediavennoot.

Rian Knoesen, Ildamari Botha en Morné van Rooyen het tydens die finaal, wat op die instelling se Leriba-kampus in Pretoria plaasgevind het, hul taalspiere na behore gebult en só méér as 1 000 ander deelnemers van dwarsoor die land in die stof laat byt. Hulle is onderskeidelik as die wenners in die skoolleerders-, studente- en publiekkategorie aangewys en is met ʼn rits pryse, insluitende kontant, bederf.

Elk van die wenners meen dat dié kompetisie by tye behoorlik hul kennis en vernuf getoets het, maar dat dit ʼn ongelooflike leerervaring was én hul boonop met selfvertroue toegerus het om taalambassadeurs te wees wat raakvat en voorvat.

In die aanloop tot die finaal moes deelnemers aanlyn via die Akademia-webblad registreer om aan dié vyf week lange kompetisie deel te neem en weeklikse taalwenke bestudeer.
ʼn Bonustaalwenk is weekliks in Die Papier gedeel en het gehelp om deelnemers voor te berei vir die aanlyn taaltoetse. Die deelnemers in elk van die kategorieë wat op dié manier na die finale ronde gevorder het, het soos volg daar uitgesien:

  • Skoolleerderskategorie (graad 10 tot 12)

Rian Knoesen, Die Hoërskool Menlopark
Amelia Minnaar, Hoër Meisieskool Paarl
Gerlú Mountany, Hoërskool Frikkie Meyer

Gerlú Mountany, Rian Knoesen en Amelia Minnaar.
  • Studentekategorie

Chanelle Beukes, Akademia
Ildamarí Botha, Universiteit van Pretoria (UP)
Megan Muller, Noordwes-Universiteit (NWU)

Ildamari Botha, Chanelle Beukes en Megan Muller.
  • Publiekkategorie

Crisna Bezuidenhout, Pretoria
Ranya van der Walt, Centurion
Morné van Rooyen, Bloemfontein

Ranya van der Walt, Morné van Rooyen en Chrisna Bezuidenhout.

Só verloop die finaal

ʼn Volgepakte Boerneef-lokaal het behoorlik gegons toe dié taalentoesiaste mekaar die stryd aangesê het. Die deelnemers se taalkennis is tydens die finaal getoets met alles van idiome en spelling tot betekenis, tegniese toepassing asook die fyner nuanses van Afrikaans.

Die bekende stemkunstenaar en aktrise Su-an Müller-Marais het as seremoniemeester opgetree en die dag het nie te kort geskiet aan energie óf gevatte woordspel nie. Die kompetisie het oor die bestek van drie uitdunrondes ontvou: blitsvrae, woordstryd en taalkennis.

Vyf ervare taalkundiges en taalpraktisyns, wat elk oor jare se akademiese en professionele ervaring beskik, het as beoordelaars opgetree:

  • Ansie Maritz, voltydse dosent in Afrikaanse Taalkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP), beskik oor ʼn meestersgraad in Afrikaanse Variasietaalkunde en ʼn doktorsgraad in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap.

  • George de Bruin, taalpraktisyn en toegepaste taalkundige, is ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se Taalkommissie sowel as die International Community Translation Research Group en beskik oor uitgebreide ervaring in toegepaste linguistiek.

  • Karien Brits, dosent in Taalpraktyk en Sepedi aan Akademia, is reeds meer as twee dekades in die universiteitswese betrokke en is ʼn ontvanger van die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekenning vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans.

  • Maureen van Helden, taaladviseur by VivA, bring meer as twintig jaar se ervaring as proefleser, redigeerder en vertaler na die beoordelaarspaneel. Sy het ʼn honneursgraad in Teologie (Vertaalkunde en Antieke Tale) en is aktief by taalkompetisies betrokke.

  • Suléne Pilon, beskrywende taalkundige by die Universiteit van Pretoria (UP), dien onder meer as moderator van die morfologieafdeling van die Afrikaanse Taalportaal, en van die sintaksisafdeling van VivA se Taalonderrigportaal. Sy is ook die voorsitter van die SAAWK se Taalkommissie.

Dr. George de Bruin, dr. Ansie Maritz, Karien Brits, Suléne Pilon en Maureen van Helden.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings by Akademia, weerspieël die ervaring en diepte van die beoordelaarspaneel die standaard waarna die Woordmeesters-taalkompetisie streef. “Woordmeesters wil deelnemers nie net beloon vir goeie taalgebruik nie, maar hulle ook uitdaag om die wetenskap, struktuur en rykdom van Afrikaans te ontdek. Daarom is dit vir ons belangrik dat die finaal deur kenners beoordeel word wat self ʼn diepgaande bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans lewer,” sê Swanepoel.

Van krag tot krag

Soos die gordyn op vanjaar se kompetisie sak, is dit duidelik dat Woordmeesters veel meer as ʼn taalkompetisie is: Dit is ʼn grootse viering van Afrikaans en van die mense wat kies om dié taal met trots te lééf.

ʼn Taal bly immers lewenskragtig wanneer dit nie nét gepraat word nie, maar met kennis en liefde beoefen, gekoester en voortdurend verder ontwikkel word. Deur hierdie en soortgelyke inisiatiewe word nuwe geslagte taalgebruikers uitgedaag om Afrikaans doelgerig en toekomsgedrewe te slyp, te verryk en met trots verder uit te dra.

*Die Woordmeesters-taalkompetisie skakel doelgerig in by Akademia se L-E-E-S!-projek. Dié projek verteenwoordig ʼn dinamiese samewerking met verskeie ander lede en inisiatiewe vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe ten einde leervaardighede en taalbegrip, veral onder skoolgaande kinders, te bevorder. Ander borge wat aan vanjaar se taalkompetisie  deelgeneem het, sluit in AfriForum, Afrikaans.com, Jonathan Ball Publishers, Penguin Random House South Africa, Stimulusmaksima en Weet.

En só glimlag ʼn woordmeester! Die wenners van vanjaar se Woordmeesters-taalkompetisie is, van links Morné van Rooyen, Ildamarí Botha en Rian Knoesen.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.