*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag: ʼn boek in die hand, en Afrikaans in die hart

Gepubliseer op:  14 Augustus 2026

Vrydag 14 Augustus is ʼn dubbeldoortaaldag. Nie nét word Afrikaansdag gevier nie, maar Afrikaanssprekendes word óók aangemoedig om aan die Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag – ʼn inisiatief deur die Vriende van Afrikaans – deel te neem. Laasgenoemde, ʼn afdeling van die ATKV, moedig boekwurms van alle ouderdomme aan om op dié dag Afrikaanse boeke aan te skaf en só verdere stukrag aan die taal te bied.

Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, meen die geskrewe woord verteenwoordig die polsende lewensaar van enige lewenskragtige taal, en is daarom van mening dat ʼn gesonde boekebedryf ʼn besliste aanduiding van die gesondheid asook die veerkragtigheid van ʼn taal is.

Maar hoe gemaak in ʼn wêreld waar inligting, insluitend stories, met die druk van ʼn knoppie beskikbaar is, en waar mense al hoe meer tyd agter skerms deurbring? Gedagtig hieraan deel Coetzer haar mening as bibliotekaris, en selferkende boekevraat, oor die waarde van dié dag en maniere waarop lesers hul steun tot die plaaslike boekebedryf kan gee.

Waarom is dit steeds belangrik om boeke aan te koop?

Om ʼn boek te koop spreek tot meer as net ʼn finansiële transaksie; dit is ʼn belegging in kennis, taal, kultuur én die toekoms. ʼn Boek in sy mees eenvoudige vorm, beloof ʼn ontdekkingsreis van idees, stories en ervaringe wat nie net die lig skyn op die verlede nie, maar ook daadwerklike toekomspotensiaal vir die leser ontsluit. Anders as baie ander aankope, kan ʼn boek herhaaldelik gelees word, met ander gedeel word en selfs van een geslag na die volgende oorgedra word.

Watter rol speel boeke in die bewaring en ontwikkeling van taal?

Elke taal leef deur die mense wat dit gebruik, maar ook deur die literatuur wat daarin geskep en gelees word. Boeke speel daarom ʼn onmisbare rol in die bewaring van ʼn taal se woordeskat, uitdrukkings, geskiedenis en kulturele identiteit.

Vir Afrikaans is hierdie koestering en uitbouing besonder belangrik. Elke keer wanneer ʼn Afrikaanse boek gekoop, gelees of bespreek word, word die taal versterk. Skrywers word aangemoedig om nuwe werke te publiseer, uitgewers kan in nuwe manuskripte belê en lesers kry toegang tot vars idees en perspektiewe vanuit hul moedertaal.

Terselfdertyd vervul boeke ʼn groot ontwikkelingstaak, en nuwe woorde, begrippe en uitdrukkings vind dikwels hul weg na die algemene taalskatkis by wyse van literatuur.

Wat sou jy sê gaan verlore wanneer daar net op ʼn skerm geblaai word en daar nie meer daadwerklik gelees word nie?

Wanneer lees vervang word deur voortdurende en dikwels ʼn doellose geblaai op ʼn skerm, kan belangrike vaardighede verlore gaan. Boeke stimuleer die verbeelding omdat lesers self karakters, plekke en gebeure in hul gedagtes moet skep, terwyl digitale inhoud dikwels reeds die beelde voorsien. Lees ontwikkel ook konsentrasie en fokus, aangesien dit volgehoue aandag vereis, anders as die vinnige en verkorte inhoud waaraan baie lesers – veral van die jongere geslag – gewoond is.

Hiermee saam bevorder lees kritiese denkvaardighede deur lesers aan te moedig om argumente te evalueer, verskillende perspektiewe te oorweeg en inligting op ʼn meer diepgaande wyse te verwerk. Gereelde lees dra verder by tot ʼn ryker woordeskat en sterker taalontwikkeling, terwyl stories lesers help om empatie en emosionele intelligensie te ontwikkel deur hulle in ander mense se ervarings en omstandighede te laat deel.

Stem jy saam met die stelling dat boeke nie onbereikbaar hoef te wees nie?

Beslis! Hoewel nuwe boeke dikwels duur kan wees, bestaan daar verskeie maniere om toegang tot leesmateriaal te vergroot sonder groot finansiële uitgawes.

  • Tweedehandse boekwinkels bied dikwels uitstekende boeke teen ʼn fraksie van die oorspronklike prys aan.
  • Boekklubs maak dit moontlik vir lesers om saam boeke te ontdek, gedagtes uit te ruil en leeservaringe te deel. Deelnemers hoef nie noodwendig elke maand nuwe boeke aan te koop nie, aangesien boeke dikwels tussen lede gesirkuleer word.
  • Gemeenskapsgebaseerde boekuitruilgroepe word al hoe gewilder. Lede bring boeke wat hulle klaar gelees het en ruil dit vir ander titels uit.
  • Biblioteke bly een van die belangrikste toegangspunte tot kennis en leesgenot. Met ʼn enkele lidmaatskap kry lesers toegang tot honderde of selfs duisende boeke, tydskrifte en elektroniese hulpbronne.

In ʼn digitale era is boeke nie ʼn luukse nie, maar ʼn noodsaaklikheid. Hulle vorm denkers, bou woordeskat, bewaar tale en ontwikkel verbeelding. Elke boek wat gekoop, gelees of gedeel word, dra by tot ʼn sterker leeskultuur en ʼn ryker taaltoekoms.

Die Akademia Uitgewery laat Afrikaans verder op akademiese vlak gedy

Die Akademia Uitgewery wil ook deur middel van akademiese publikasies Afrikaans laat gedy.

Volgens Jo-Ann Scholtz, senior taalpraktisyn en koördineerder van die Akademia Uitgewery, is die instelling passievol verbind tot uitnemende opleiding en uitstaande vorming in Afrikaans as een van die mees ontwikkelde universitêre tale van die moderne era. In die lig hiervan is dit die uitgewery se taak om Afrikaans in die akademiese en intellektuele werke wat publiseer word tot reg te laat kom en te gedy.

Al die publikasies is beskikbaar by Die Winkel, Akademia se aanlyn winkel. Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates vertaal deur Piet Boshoff en Ter wille van oorlewing, ideologie en geld geskryf deur Johannes D Froneman is beskikbaar by Exclusive Books in The Grove Mall in Pretoria, Aristata Boekwinkel in Hatfield, asook Wize Books.

Scholtz voeg by dat daar nie net ernstige akademiese publikasies beskikbaar is nie, maar ook ʼn aktiwiteitsboek vir die jongspan. Fontieland is geskik vir leerders van graad 4 tot 7. Hierin ontdek kinders die avontuur van Fontie-wees saam met Hennie en Stella terwyl prettige aktiwiteite soos ʼn blokkiesraaisel, vind die verskille, soek die Fonties en nog vele meer voltooi word. Die uitgewery is ook opgewonde oor die Afrikaanse vertaling van Homeros se Die Odusseia wat in September die lig sal sien. “Dié verwerkte vertaling sal deur studente gebruik word, maar is ewe gepas vir enige lid van die publiek wat ʼn liefde vir klassieke tekste koester,” sê Scholtz.

“Afrikaans is nie net lippetaal nie, maar word lewenskragtiger met elke boek wat geskryf en gekoop word. Voeg vandag die daad by die woord en koop ʼn Afrikaans boek,” sluit Scholtz af.

Lianda Coetzer, bibliotekaris, en Jo-Ann Scholtz, senior taalpraktisyn en koördineerder van Akademia Uitgewery, moedig leesgieriges aan om die jaarlikse Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag-inisiatief te ondersteun en só verdere stukrag aan die taal te gee.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.