*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia huldig pas verkose Pretoria-studenteraad vir 2026/2027 in

Gepubliseer op:  13 Augustus 2026

Op Woensdag 12 Augustus is Akademia se Pretoria-kampus se pas verkose studenteraad (SR) vir die 2026/2027-termyn op ʼn luisterryke wyse ingehuldig. Tydens dié geleentheid is daar ook op ʼn gepaste wyse afskeid geneem van die uittredende SR-lede. Verder is daar erkenning gegee vir die bydrae wat hierdie studenteleiers tot die voortsetting asook die uitbouing van die instelling se dinamiese studentelewe gelewer het.

Die jaarlikse inhuldiging* van ʼn nuwe SR verteenwoordig ʼn belangrike mylpaal op Akademia se studentelewekalender. Dit bied nie nét die geleentheid om die nuwe studentevoorlopers te verwelkom nie, maar óók om stil te staan by die besondere verantwoordelikheid en voorreg wat met studenteleierskap en studentwees gepaardgaan.

As verteenwoordigers van die studentegemeenskap word daar van die nuwe SR verwag om met integriteit, verantwoordelikheid en diensbaarheid leiding te neem. Hulle is terselfdertyd toekomsambassadeurs wat help om ʼn vormingsomgewing te skep waarin Fonties nie net akademies kan groei nie, maar ook kan behoort en die vreugde van studentwees ten volle kan beleef.

Juis daarom is dit die SR se strewe om die boustene van ʼn studentweeservaring te help neerlê waarin verantwoordelikheid en pret hand aan hand loop. Fonties word die ruimte gegun om hul talente te ontdek en doelgerig – met ʼn duidelike roepingsbesef – te ontwikkel, maar ook eenvoudig jonk te wees, pret te hê en die reis saam met ander te geniet. Só word Akademia se studentelewe ʼn verweefde tapisserie van groei, verbondenheid, vriendskap en ontdekking.

Leierskap wat bó alles dien

Studenteleierskap gaan oor veel meer as bloot die beklee van ʼn titel of posisie. Dit bied aan studente die geleentheid om hulself verder te vorm, verantwoordelikheid te aanvaar en ʼn tasbare verskil in die lewens van ander te maak, aldus dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake.

Gedagtig hieraan sal die nuwe SR daarom volgens Coetzee nie slegs as die stem van die Pretoria-studentegemeenskap optree nie, maar ook as medebouers van Akademia se eiesoortige studentelewe. Deur hul betrokkenheid by studenteaktiwiteite, gesprekke en inisiatiewe kan hulle help om ʼn omgewing te skep waarin studente nie net akademies ontwikkel nie, maar ook gemeenskaplik en sosiaal kan floreer, nuwe uitdagings kan aanpak en waardevolle lewenservaring opdoen.

“Die SR se rol is uiteindelik nou verweef met Akademia se strewe om studente holisties te vorm. Die studentelewe bied immers ʼn belangrike ruimte waar jongmense leer om saam met ander te werk, verantwoordelikheid te neem, konflik te hanteer, besluite te neem en hul gawes tot voordeel van die groter gemeenskap aan te wend,” sê Coetzee.

ʼn Nuwe hoofstuk vir die studentelewe

Aan die stuur van die nuwe SR staan Elsomé Thuynsma, wat as SR-voorsitter verkies is.

Thuynsma se medestudenteleiers sluit in:

  • Albert Cloete (nauurs)
  • Annerine Steyn
  • Carli Els (nauurs)
  • Frances Dreyer
  • Hendru Stiglingh
  • Hermann Pretorius
  • Katie Strydom
  • Megan Smit
  • Miamien van der Ryst
  • Nathalie Harding

Met dié nuwe span aan die stuur, word die eerste boustene van ʼn nuwe hoofstuk in Akademia se studentelewe neergelê.

Volgens Coetzee bring elke leier ʼn unieke steen na die groter bouwerk – die vermoë om te luister, die moed om nuwe idees aan te pak, die bereidwilligheid om ruimte vir ander te skep en die visie om te droom oor wat nog moontlik is. Die uitdaging is om hierdie boustene met sorg op mekaar te stapel: om voort te bou op dit wat reeds sterk staan, maar terselfdertyd nuwe fondamente te lê waarop toekomstige generasies studente kan voortbou. Só word studentelewe meer as bloot ʼn versameling aktiwiteite en inisiatiewe; dit word ʼn gemeenskap wat gevorm word deur mense, herinneringe, geleenthede en gedeelde ervarings – steen vir steen, student vir student.

Akademia wens Thuynsma en elke lid van die nuwe studenteleierskapstruktuur voorspoed toe met die termyn wat voorlê. Mag elkeen hierdie geleentheid aangryp om met moed, wysheid en diensbaarheid leiding te neem en saam met hul medestudente voort te bou aan die besonderse studentelewe wat Akademia kenmerk.

Koester jy ʼn studiedroom vir 2027? Jy kan ook deel hê aan Akademia se bruisende studentelewe, onder leiding van hierdie Fontie-leiers. Studieaansoeke word reeds ingewag.

*Lees meer hier oor die geskiedkundige eerste inhuldiging van Akademia se Paarl-kampus-studenteraad wat vroeër vandeesmaand plaasgevind het.

Elsomé Thuynsma is Akademia se nuwe studenteraadvoorsitter. Sy neem die leisels by Marzé Becker oor.
Die nuwe Akademia-studenteraad vir die 2026/2027-termyn, van links voor: Hendru Stiglingh, Albert Cloete, Annerine Steyn, Katie Strydom, Megan Smit, Elsomé Thuynsma, Carli Els, Miamien van der Ryst, Nathalie Harding, Frances Dreyer en Hermann Pretorius.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.