*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Stilte in die klas? Nee, taalonderrig moet leef, leer en vorm

Gepubliseer op:  12 Augustus 2026

Geskryf deur Chanéll Homann, dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Die klas is stil. Voor die leerders staan ʼn onderwyser wat sy of haar les deeglik beplan en voorberei het: dalk ʼn netjiese PowerPoint-aanbieding, die gebruik van ʼn interaktiewe slimbord om ʼn multimedia-aanslag moontlik te maak of sorgvuldig uitgewerkte werkkaarte. Tog blyk dit soms dat die lesinhoud – die reëls van byvoeglike naamwoorde of die tematiese ontleding van ʼn gedig – skaars die leerders se aandag trek, wat nog te sê dit behou. Die rede hiervoor is dat elke leerder iemand is met ʼn eie taalverhouding. Iemand met ʼn eie verhaal, uitdagings en vrae.

Meer as net nóg ʼn skoolvak

Nie alle leerders beleef taal dieselfde nie. Sommige het ʼn natuurlike aanvoeling daarvoor, terwyl ander reeds vroeg besluit dat hulle nie ʼn “taalpersoon” is nie.

En tog omvat taal soveel méér dat dit nie as net nóg ʼn skoolvak beskou kan word nie. Wanneer leerders nie die taal van ʼn vak verstaan nie, raak toegang tot die inhoud van daardie vak meer uitdagend. Gedagtig hieraan word taal toenemend as die voertuig van leer beskou. Óf ʼn leerder homself nou met Geskiedenis, Wiskunde of Wetenskap besig bly taal die goue draad wat deur die hele kurrikulum vervleg is.

Sonder ʼn sterk taalgrondslag sukkel selfs die mees bekwame leerders om kennis werklik oop te breek en te gebruik.

Juis om hierdie rede speel die taalklas ʼn kernbelangrike rol. Dit is nie bloot die plek waar grammatika, letterkunde of spelling behandel word nie. Dit is ʼn ruimte waarin leerders toegerus word om hulself uit te druk, krities te dink, vrae te vra en met selfvertroue deel te neem aan die wêreld waarin hul hulself bevind.

Navorsing toon voorts dat leerders beter begryp en leer wanneer hulle veilig voel om vrae te vra, idees uit te ruil en hul stem tot die groter gesprek te voeg. Die vraag is egter waarom sulke leerervarings steeds nie in elke taalklas die norm is nie.

Die uitdaging van leerderdeelname

Die rede vir die uitdaging kan nie alleenlik voor die deur van onderwysers gelê word nie. Om byvoorbeeld te sê dat onderwysers in dié verband nie hard genoeg werk nie of nie toegewyd is nie, is ver van die waarheid verwyder.

Die hartseer werklikheid is dat onderwysers, veral wat hul administratiewe werkslading betref, onder ʼn swaar las gebuk gaan. Bydraende faktore sluit in ʼn propvol kurrikulum- en assesseringsbeleidverklaring (KABV) en die toenemende stressor dat onderwysers voel dat hulle voortdurend onder ʼn vergrootglas werk.

Op die keper beskou, het taalonderrig oor die jare heen só inhoudsgedrewe geraak dat dit leerderdeelname na die agtergrond verskuif het. Maar hoe het ons op hierdie punt gekom, waar stilte in die klaskamer gelykgestel word aan goeie onderrigpraktyk? Die antwoord hierop kan wees dat stilte (of ʼn gebrek aan leerderdeelname) met leer vereenselwig word.

Tog is dit juis gesprek, deelname en samewerking wat daarop dui dat leer besig is om effektief plaas te vind.

Interaktiwiteit in die taalklas

Interaktiwiteit in die taalklas beteken egter nie by uitstek meer werk, toenemende chaos of verdere druk vir die onderwyser nie. Dit vra eerder dat daar anders en meer krities na bestaande praktyke gekyk moet word.

Eenvoudige veranderinge kan help om groter waarde te ontsluit. Hierdie veranderinge sluit onder meer in:

  • gespreksvoering in pare;
  • die keuse van interaktiewe leeraktiwiteite;
  • kreatiewe benaderings tot tekste; of
  • doelgerigte beweging in die klas.

Baie onderwysers is huiwerig om meer interaktiewe strategieë te probeer omdat hulle bang is dat dit dissiplineprobleme kan veroorsaak. Hoewel hierdie bekommernis verstaanbaar is, is dit belangrik om die onderskeid tussen stilte en dissipline asook gesprek en wanorde te tref.

Kinders word byvoorbeeld elke dag geleer hoe om in rye te staan, stil te sit en reëls na te volg. Gedagtig hieraan, waarom word hulle nie met dieselfde doelgerigtheid geleer om sinvol saam te werk, na mekaar te luister en idees met respek uit te ruil nie? Hierdie vaardighede ontwikkel nie vanself nie, dit word aangeleer. Soms begin dié leerproses met iets so eenvoudig soos ʼn gesprek oor ʼn teks tussen twee leerders.

Interaktiwiteit gaan immers nie daaroor om leerders besig te hou nie, maar om hulle anders te laat dink. Wanneer leerders gevra word om ʼn gedig in ʼn meem (meme) te omskep of karakters uit ʼn verhaal met mekaar op WhatsApp te laat gesels, is hulle nie bloot besig met ʼn lekker aktiwiteit nie. Nee. Hulle interpreteer, maak afleidings, motiveer hul standpunte en skep nuwe betekenis – en dit is waar diep leer begin.

Interaktiwiteit gaan daarom nie oor besig wees nie; dit gaan oor beter dink. Die doel is nie bloot om klastyd met speletjies of tegnologie te vul nie, maar om leerders meer geleenthede te bied om met taal te worstel, daaroor te redeneer en dit uiteindelik hul eie te maak. Wanneer laasgenoemde gebeur, word leerders se begrip van die inhoud verbeter en word taal lewendig.

Met bogenoemde in gedagte word dit duidelik dat die taalklas nie heeltemal herontwerp hoef te word nie. Verandering begin met ʼn eenvoudige eerste tree: ʼn sinvolle vraag, gespreksvoering, ʼn kreatiewe aktiwiteit of ʼn leerder wat die moed het om aktief deel te neem.

Miskien is die beste taalklas daarom nie noodwendig die stilste een nie, maar die een waarin elke leerder sy of haar stem met selfvertroue begin vind.

Chanéll Homann, dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat die effektiefste taalklasse nie noodwendig die stilste klas is nie, maar eerder die een is waarin leerders die ruimte kry om hul eie stem te vind.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.