*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia se eie Afrikaanse studentemusiekblyspel eersdaags op die planke

Gepubliseer op:  11 Augustus 2026

Akademia maak vanjaar trots sy buiging op die teaterverhoog met die Afrikaanse studentemusiekblyspel, Daai kleindorpiegevoel. Met hierdie opwindende vooruitsig voeg die instelling nie nét ʼn opwindende nuwe hoofstuk tot sy studentelewebelewenis nie, maar laat hy ook die eertydse musiekblyspeltradisie op hoëronderwysvlak herleef. Dié blyspel sal vanaf 3 tot 10 Oktober 2026 by die Centurion Teater opgevoer word.

Die produksie is ontwikkel deur Inhoud Huis Musiek*, onder leiding van Johan Vorster en Jacomien de Wet, wat ook verantwoordelik was vir die konsep en storielyn. Jannes Erasmus het die teks en regie hanteer, met musiekverwerkings deur Arnold de Wet en Vorster. Die musiekregie is deur Vorster behartig.

ʼn Storie wat diep tref

Daai kleindorpiegevoel is ʼn hartroerende verhaal van selfontdekking, liefde en gemeenskap.

Wanneer Pieter se motor buite die klein dorpie Stofpan teëspoed gee, het hy géén idee dat drie weke op Tannie Pompie se plaas sy hele lewe onherroeplik gaan verander nie. Wat begin as ʼn noodgedwonge wegbreek, ontvou gou in ʼn ontdekkingsreis gevul met romanse en tekenend van menswees. Tussen eksentrieke dorpenaars, ʼn bok met ʼn persoonlike vendetta, plaasuitdagings en ou liefdes wat weer opvlam, leer Pieter dat die belangrikste dinge in die lewe nie gekoop kan word nie.

Jy sien, Stofpan, is allesbehalwe stil. Terwyl ʼn slinkse burgemeester sy oog op meer as net Tannie Pompie se plaas het, moet Pieter besluit: keer hy terug na die lewe wat hy ken, óf waag hy die een wat hy nooit sien kom het nie?

ʼn Sterk Fontie-ensemble

Die musiekblyspel spog met ʼn sterk rolverdeling en weerspieël die ryke veelheid van talent wat Fonties (studente wat aan Akademia studeer) van die Pretoria-kampus aan die dag lê. Die rolverdeling sien soos volg daar uit:

  • Keynan Fox as Pieter, die stadsjapie;
  • Abigail de Villiers as Katrientjie, die boerenooi;
  • Veronique le Roux as Tannie Pompie;
  • Edo Collyer as Ronnie Bester, die dreigende burgemeester;
  • Eben du Plooy as Oom Bert, die motorwerktuigkundige;
  • Martin Munro as Marno, die jaloerse ekskêrel;
  • André Smit as Tjokkie; en
  • Tristin Minni as Spanner.

Studente druk hul stempel af

Wat Daai kleindorpiegevoel besonders maak, is die feit dat die hele produksie deur studente gedra word – van die rolverdeling tot die tegniese aspekte. Altesaam 85 studente is betrokke, waarvan 35 deel is van die toneelgemeenskap (met agt hoofkarakters) en 50 studente wat tegniese rolle vervul. Hierdie rolle wissel van verhoogbestuur, beligting en klank tot kostuums, grimeerwerk, dekor, bemarking en projekbestuur.

Die produksie is ook een van die min Afrikaanse musiekblyspele in onlangse jare wat op hoëronderwysvlak aangebied word, ʼn betekenisvolle mylpaal vir Afrikaanse kunste en akademiese kultuur.

Volgens dr. Heleen Coetzee, hoof: Studentesake, verteenwoordig die blyspel ʼn viering van studentwees en ʼn opwindende nuwe vormingsbousteen vir studente. Sy vertel dat die belangstelling wat die produksie betref onder die studente “aansteeklik” is, en dat meer as 60 studente vir die oudisies opgedaag het. Laasgenoemde het die projekbestuurder genoop om die oudisieperiode ná slegs drie uur te sluit. “Dit is ons droom om volgende jaar hierdie produksie na die Paarl-kampus te neem en só ook die Wes-Kaapse Fonties te betrek,” sê Coetzee.

Volgens Vorster, kreatiewe direkteur van Inhoud Huis Musiek, was dit ʼn voorreg om die studente se entoesiasme en dinamika tydens die oudisieproses te beleef. “Dit gaan nie altyd oor die beste sangers of akteurs nie, maar oor die regte groep (in dié geval studente) om die legkaart mee te bou. Ons is oortuig daarvan dat ons daardie wenkombinasie gevind het,” sê Vorster.

Vir Fox, wat die hoofrol van Pieter vertolk, beteken die produksie baie meer as net nog ʼn verhoogervaring. “Omdat dit my finale jaar by Akademia is, voel hierdie musiekblyspel soos ʼn wonderlike afsluiting van my naskoolse verhoogloopbaan. Om boonop saam met professionele kenners te werk, is ʼn ongelooflike leergeleentheid, en ek het ʼn gevoel dat hierdie produksie ʼn reusesukses gaan wees!” meen Fox.

En wat kan gehore verwag? Volgens Erasmus, die produksieregisseur, kan gehore uitsien na ʼn warm en opregte teaterervaring. “Ek wil hê gehore moet spontaan kan lag, verlief raak op Stofpan en sy mense, en met ʼn warm hart huis toe gaan. Daai Kleindorpiegevoel is propvol humor, romanse en musiek wat lank ná die ligte uitgedoof het, by jou sal bly,” sê Erasmus.

Teken solank die datums in jou dagboek aan

Belangstellendes kan solank 3 tot 10 Oktober in hul dagboeke aanteken. Daar sal middag- en aandvertonings wees en kaartjies sal binnekort by die Centurion Teater asook op die Quicket-kaartjieplatform beskikbaar wees vanaf R220 per persoon. Hou Akademia se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting.

*Inhoud Huis Musiek is die kreatiewe dryfveer agter bekende toneelspele soos Die Afrikaner maak só, Die kaplyn, Ons vir jou, Die gelofte en Semi-Soet.

Akademia-studente maak eersdaags hul buiging in die instelling se eerste musiekblyspel, Daai kleindorpiegevoel. Dié blyspel sal vanaf 3 tot 10 Oktober 2026 in Pretoria op die planke wees.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.