*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Wat maak wetenskapsonderrig uitmuntend?

Gepubliseer op:  4 Junie 2026

Geskryf deur Henning Blignaut, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Paarl-kampus

Ons lewe in ʼn tyd waar talle nuwe tegnologieë op ʼn amper daaglikse wyse ontwikkel word en só ons lewensgehalte verhoog. Hierdie tegnologieë het hul oorsprong in wetenskaplike navorsing en daarom is gehaltewetenskapsonderrig – plaaslik én internasionaal – van kardinale belang ten einde die volgende generasie van wetenskaplikes toe te rus.

Hierdie toerusting is belangrik, óf dit nou die ontdekking van byvoorbeeld ʼn inenting teen die volgende wêreldpandemie is, óf ʼn teleskoop wat tot by die verste punte van die heelal sal kan sien.

Wetenskaplike geletterdheid as ʼn kernbousteen

Vir leerders om effektief in wetenskap onderrig te word, moet die onderrig daarom getrou wees aan die aard van wetenskap en daar moet beoog word om wetenskaplike geletterdheid vroeg reeds by leerders te vestig.

Wetenskaplike geletterdheid behels die vermoë om wetenskaplike konsepte te verstaan, krities te bedink en gevolglik ingeligte besluite oor wetenskaplike inligting te kan neem. Om hierdie geletterdheid na wense te bereik, moet gehaltewetenskapsonderrig méér as blote lippediens behels, en moet daar roepingsgedrewe gevra word:  “Wat maak wetenskapsonderrig uitmuntend?”

ʼn Navorsingsblik op gehalteonderrig

In ʼn persoonlike studie wat ek in 2025 in Johannesburg uitgevoer het, het ek probeer bepaal in watter mate daar ʼn verskil in die gehalte van wetenskapsonderrig tussen staats- en privaat hoërskole bespeur kan word. Die resultate was beduidend.

Die studie het deelnemende onderwysers se sienings oor die gehalte van wetenskapsonderrig en -leer in die Natuurwetenskappe, Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe by hul onderskeie skole in ag geneem. Persoonlike ervaring in sinergie met die onderwysers se insette het drie hooffaktore geïdentifiseer waarvolgens gehaltewetenskapsonderrig gemeet kan word. Die drie faktore is soos volg:

  • die uitvoering van praktiese ondersoeke;
  • die vlak waartoe leerders voorberei word vir naskoolse en “regte lewe”-wetenskap; en
  • die wyse waarop daar ʼn liefde vir die wetenskapsvelde praktiese ondersoeke

Wetenskap as ʼn vak is ondersoekend van aard en daarom moet leerders toegelaat word om eksperimente of ondersoeke uit te voer en hul eie gevolgtrekkings op grond van hul waarnemings en resultate te maak. Op hierdie manier word leerders in staat gestel om wetenskapsonderwerpe nie nét te ken nie, maar ook konseptueel te begryp.

Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) vir Natuur-, Fisiese en Lewenswetenskappe maak voorsiening vir praktiese ondersoek by elke onderwerp waar dit van toepassing is. Die KABV vereis egter nie praktiese eksamens as summatiewe assessering op Verdere Onderwys en Opleidingsvlak (VOO)-vlak nie, waar die onafhanklike eksamenraad (IEB) dit wel by Fisiese en Lewenswetenskappe vereis.

Die realiteit is egter dat praktiese ondersoeke in baie skole (privaat sowel as staatskole) bloot net nie uitgevoer word nie. Die redes hiervoor sluit onder meer ʼn tekort aan praktiese vaardighede by onderwysers; ʼn gebrek aan hulpbronne en laboratoriums waar die eksperimente uitgevoer kan word; en te min tyd om die voorgeskrewe inhoud te behandel, in. Laasgenoemde veroorsaak dat praktiese ondersoeke afgeskeep word.

Die grootste rede is egter dat die meeste skole nie laboratoriumassistente beskikbaar het wat kan help met die opstel van eksperimente en die aankoop van toerusting nie. Die onderwysers moet dit dan self doen en probeer inpas in hul reeds besige skedules wat ook talle ander verpligtinge, soos buitemuurse aktwiteite, insluit. Sonder die uitvoer van praktiese ondersoeke verkry leerders ʼn eendimensionele begrip van onderwerpe, en wetenskapsonderrig is dus nie uitmuntend nie.

Die vlak waartoe leerders voorberei word vir naskoolse en “regte lewe”-wetenskap

Aangesien die wetenskapsonderrig by baie skole slegs die nodigste behels vir leerders om Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe op matriekvlak te slaag, veroorsaak dit dat baie leerders eerder opleiding in “Eksamenvraestel 101” ontvang. Die hartseer werklikheid is dat sommige onderwysers leerders slegs onderrig oor maniere hoe hul eksamenvraestelle behoort te beantwoord eerder as om te fokus op die konseptuele verstaan van begrippe.

Vanuit die onderwyseronderhoude wat deel gevorm het van my studie, was dit duidelik dat die IEB se kurrikulum by VOO-fase in Lewens- en Fisiese Wetenskappe dit regkry om leerders beter voor te berei vir naskoolse studie. As gevolg van ʼn groter gebruik van praktiese ondersoeke en meer toepassingsvrae in vraestelle, is dit vir leerders makliker om aan te pas by tersiêrevlakwetenskap, wat hoërordedenke en toepassing vereis. Die KABV-kurrikulum sluit wel praktiese toepassingsvrae by teoretiese eksamens in, maar praktiese eksamenvraestelle is nie meer ʼn formele vereiste nie.

Leerders wat gevolglik ʼn agterstand het, sukkel daadwerklik om aan te pas by die hoër NKR-vlakmodules wat tersiêr aangebied word. In sekere gevalle waar daar nie op konseptuele begrip gefokus word nie, is mispersepsies aan die orde van die dag. Hierdie wanpersepsies moet dan op naskoolse vlak reggestel word – iets wat studente se punte negatief beïnvloed.

“Regte lewe”-wetenskap verwys na wetenskap wat in die praktyk uitgevoer word. Baie leerders vind dit moeilik om in die praktyk ten volle te funksioneer juis vanweë ʼn tekort aan konseptuele begrip en die gepaardgaande praktiese prosesvaardighede wat reeds op primêre en sekondêre skoolvlak ontwikkel moes word.

Die kweek van ʼn liefde vir wetenskap

In enige vakgebied is dit belangrik dat daar ʼn liefde gekweek moet word vir die veld. Wanneer ʼn onderwyser uitstekende pedagogiese vakkennis sowel as ʼn passie vir die inhoud het, ontwikkel leerders makliker ʼn liefde vir die vak en presteer hulle ooreenstemmend ook beter.

Die wetenskapskultuur by ʼn skool speel in dié verband ʼn groot rol in die akademiese sukses van leerders. Bykomende aktiwiteite soos ekspo’s, uitstappies en ʼn algehele positiewe houding teenoor wetenskap dra uiteindelik grootliks by tot die liefde wat leerders vir wetenskap ontwikkel. 

Van al hierdie faktore speel praktiese ondersoeke die grootste rol in gehaltewetenskapsonderrig. Dit is belangrik vir wetenskapsonderwysers om te besef dat daar nie altyd onbeperkte hulpbronne nodig is vir sekere praktiese ondersoeke nie. Die volgende oorwegings is belangrik:

  • die gebruik van bekostigbare hernubare materiale om modelle te bou of voorstellings te maak; en
  • die benutting van talle gratis aanlyn simulasies waar ʼn onderwyser saam met die leerders tegnologie kan gebruik om ʼn ondersoek effektief uit te voer.

Só word wetenskapsonderrig uitmuntend

Ten slotte, en om die vraag oor wat wetenskapsonderrig uitmuntend maak te beantwoord:

  • Onderwysers wat uitnemend in wetenskap wil onderrig, moet effektiewe praktiese ondersoeke by alle toepaslike onderwerpe uitvoer.
  • Die fokus moet te alle tye op die verdieping van konseptuele begrip fokus, in stede van blote eksamenvoorbereiding.
  • Liefde vir wetenskap word gekweek deur onderwysers wat oor uitstekende pedagogiese vakkennis beskik.

Onderwysers met hierdie eienskappe en ingesteldheid kan berge versit vir leerders deur hulle effektief die wêreld in te stuur as wetenskapsambassadeurs.

Henning Blignaut, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Paarl-kampus, meen uitmuntende wetenskapsonderrig is die resultaat van passievolle onderwysers wat oor uitstekende pedagogiese vakkennis beskik en só die toepasbaarheid en potensiaal van wetenskap vir hul leerders ontsluit.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.