*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Die vorming van kritiese denke in die klaskamer van ʼn Christen-dosent

Gepubliseer op:  2 Junie 2026

Geskryf deur dr. Morné Diedericks, senior dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Dit bly ʼn besondere voorreg om as dosent binne ʼn Christelike begronde hoëronderwysinstelling soos Akademia te mag werk. In die groter Suid-Afrikaanse konteks, waar hierdie tipe instellings relatief skaars is, bring dit ʼn eenvoudige tog dringende vraag na vore: Wat onderskei ʼn Christelike hoëronderwysinstelling? Dit is belangrik om te besef dat hierdie vraag nie net by wyse van dokumente of beleidsraamwerke beantwoord kan word nie. Dit kry gestalte in die alledaagse werklikheid van die klaskamer en lesingslokaal.

Vir my lê die uniekheid van hierdie ruimte daarin opgesluit dat ek nie van my Christelike lewensvisie hoef weg te skram nie. Ek kan dit openlik stel. Ek kan vir studente sê dat ek glo in God, Drie-enig, Skepper van die hemel en die aarde. Ek kan ruiterlik erken dat die skepping nie toevallig is nie, maar georden is volgens vaste wette en norme. Ek kan ook eerlik wees oor die gebrokenheid van die wêreld en die mens. Maar meer nog: Ek kan heelhartig getuig dat die lewe in Jesus Christus nie ʼn bysaak is nie, maar die sleutel tot ʼn betekenisvolle lewe.

ʼn Grondslag met vele raakvlakke

Hierdie grondslag staan nie los van die modules wat ek aanbied nie. Dit vorm die manier waarop ek die werklikheid van onderrig en leer benader. In die veld van opvoedkunde werk ek nie bloot met onderrigbenaderings of -strategieë nie – ek werk met die werklikheid van hoe mense leer en hoe onderwys vormend inwerk op die lewe van ʼn leerder.

Daar is patrone en norme wat nie deur ons geskep word nie. Ons ontdek dit in die praktyk en besef dat geen kind in isolasie leer nie. Leer gebeur in verhoudings, deur taal en deur deelname. Onderwys is daarom nie bloot die oordra van inligting nie, maar eerder die verantwoordelike begeleiding van ʼn leerder op ʼn pad na volwassenheid.

Hierdie insigte is nie verwyderd van die geskiedenis van die modules wat ek aanbied nie. Invloedryke opvoedkundige denkers soos John Dewey, Paulo Freire en Lev Vygotsky het mettertyd waardevolle bydraes gelewer. As ʼn Christen-dosent kan ek met erns luister na wat hierdie voorlopers raakgesien het wat onderwys, en onderrig en leer betref. Tog bly my taak as dosent nie nét by waardering nie. Dit vra onderskeiding. Dit vra dat die insigte van dié denkers ook krities beoordeel word.

Kritiese denke en oop gesprekke

Kritiese denke staan daarom sentraal in die klaskamer. Studente moet leer om nie net die idees van diesulke denkers weer te gee nie, maar ook krities te beoordeel en vindingryk toe te pas. Dit begin by eerlikheid oor ons vertrekpunt. As ʼn Christen-dosent stel ek my eie grondslag duidelik en dan plaas ek dit langs die teorieë wat ons bestudeer. Ek doen dit nie om oortuigings op studente af te dwing nie, maar eerder om ʼn ruimte vir eerlike gesprek te skep. Dit is dan juis binne hierdie ruimte waar ons krities na denkers en teorieë in ons vakgebiede kan kyk.

Op dié wyse kan studente ook ʼn groter waardering kry vir waarom die dosent sommige aspekte van ʼn denker waardeer en ander krities uitwys. Om hierdie waardering en kritiese beoordeling te illustreer verwys ek na ʼn paar voorbeelde:

By John Dewey vind ons waardevolle insigte oor ervaring en betrokkenheid in leer. Hy help ons om raak te sien dat leer nie los staan van die lewe nie. Hierdie insig is belangrik. Tog rus sy pragmatistiese benadering op die idee dat waarheid verbind is aan wat werk. Waarheid word dus nie meer iets wat gegee is nie, maar iets wat gevorm word in ervaring. Vanuit ʼn Christelike perspektief skuif dit die anker van waarheid weg van God se orde na die mens se ervaring. Wanneer hierdie anker verskuif, verloor onderwys maklik sy rigting en word dit afhanklik van veranderende omstandighede.

In Paulo Freire se insigte kom ʼn ander spanning na vore. Hy help ons om raak te sien dat leer nie passief plaasvind nie, maar dat studente self aktief betrokke moet wees by hul eie leer deur gesprekke, deelname en nadenke oor die werklikheid. Hierdie insig bring ʼn belangrike bydrae tot die verstaan van onderrig. Terselfdertyd lees Freire die werklikheid hoofsaaklik deur ʼn Marxistiese lens van onderdrukker en onderdrukte, waarin bevryding sentraal staan. Hierdie raamwerk vereng die menslike bestaan, omdat dit die kernprobleem tot strukturele verhoudinge reduseer. Vanuit ʼn Christelike perspektief lê die gebrokenheid van die mens nie net in die samelewing nie, maar in die hart self. Ware bevryding kan daarom nie uit strukture spruit nie, maar uit die herstel van die mens se verhouding met God.

Lev Vygotsky bied weer ʼn ander invalshoek. Hy wys tereg dat leer nie ʼn individuele proses is nie. Kennis groei binne verhoudings, deur begeleiding en ondersteuning. Hierdie insig sluit mooi aan by die werklikheid van onderrig en leer. Tog lei sy konstruktivistiese benadering maklik tot die idee dat die werklikheid uiteindelik deur die mens gekonstrueer word. Hier moet ʼn duidelike onderskeid getref word. Die werklikheid is nie iets wat ons self skep nie. Dit is iets wat ons ontvang. Wat wel groei, is ons begrip daarvan. Ons bou nie die werklikheid nie. Ons leer dit ken.

Die onderskeid tussen teorie en die interpretasie van gepaardgaande insigte

Juis in die hantering van hierdie teorieë lê die kern van kritiese denke in die klas. Studente moet leer om te onderskei tussen wat ’n teorie raaksien en hoe daardie insig geïnterpreteer word. Hulle moet leer om te vra: Wat word raakgesien, en waar begin die verskraling of reduksie?

Elke teorie belig ʼn bepaalde aspek van die werklikheid. Die gevaar ontstaan wanneer daardie aspek die geheel begin vervang. Die proses van kritiese beoordeling van teorieë is nie afbrekend nie, dit is vormend. Hierdie vorming omvat onder meer:

  • kritiese denke;
  • die ingesteldheid om nie bloot net teorieë en standpunte te aanvaar nie, maar dit te oorweeg en te beoordeel; en
  • aan oop gesprekke deel te neem waarin hulle self vrae begin vra, afleidings maak en antwoorde formuleer.

Dit beteken nie dat studente die dosent se standpunt lukraak moet aanvaar nie. Christen-dosente dwing nie hul oortuigings op studente af nie. Studente word uitgenooi om saam met hul dosente oor konsepte en implikasies na te dink. Hulle leer die inhoud en die verskillende standpunte ken, terwyl hulle ook doelgerig leer om dit krities op te weeg. In hierdie proses begin hulle hul eie vertrekpunte vorm.

Die hoop van die Christen-dosent

Die hoop vir die Christen-dosent is sekerlik dat hierdie vertrekpunte van die student ook in ʼn Christelike rigting sal groei. Dit bly egter nie iets wat die dosent kan beheer nie. Die taak van die dosent bly eenvoudig: om getrou te wees, om eerlik te wees in sy eie vertrekpunte, om duidelik en helder te onderrig, en om ʼn ruimte te skep waarbinne denke kan groei, kritiese vra gestel kan word en teorieë krities beoordeel kan word.

In hierdie proses van kritiese beoordeling van teorieë kom die besondere betekenis van ʼn Christelike hoëronderwysinstelling duidelik na vore. Akademiese werk staan hier nie los van ʼn lewens- en wêreldbeskouing nie, maar word bewustelik vanuit ʼn bepaalde grondslag beoefen.

Studente word daarom nie bloot aan verskillende teorieë blootgestel nie, maar leer om die beginsels, aannames en metodes onderliggend aan hierdie teorieë raak te sien en krities te beoordeel. Hulle leer dat géén wetenskap neutraal is nie en dat elke benadering vanuit sekere oortuigings oor die waarheid, menswees en die werklikheid spruit. Kritiese denke beteken daarom nie om sonder vertrekpunte te dink nie, maar om eerlik rekenskap van hierdie vertrekpunte te gee en dit verantwoordelik te ondersoek. In so ʼn ruimte leer studente om met onderskeiding, verantwoordelikheid en oortuiging te dink. Om in so ʼn ruimte te doseer en saam te dink, bly ʼn besondere voorreg.

Dr. Morné Diedericks, senior dosent: Opvoedkundestudies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen die rol van ʼn Christelike-dosent is om ʼn leerruimte te skep waarbinne studente met onderskeiding, verantwoordelikheid en oortuiging toegerus kan word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 

Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.