*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia-merietebeurse: Matrikulant, bou vandag reeds die grondslag vir jou môre

Gepubliseer op:  14 Mei 2026

Vir die matriekklas van 2026 het die bouwerk aan hul naskoolse toekoms reeds in alle erns begin, en bevind dié leerders hulself nou in die pylvak van hul laaste skooljaar. Met studieaansoeke vir Akademia se 2027- akademiese jaar wat op 1 April 2026 geopen het, word voornemende Fonties* uitgenooi om vandag reeds die grondslag vir hul studieloopbaan neer te lê – een bousteen op ʼn slag.

As deel van Akademia se volgehoue verbintenis tot toeganklike, wêreldgehaltehoëronderwys, bied die instelling vanjaar weer akademiese merietebeurse aan goed presterende matrikulante ten einde hul in staat te stel om hul studiedrome na te streef. Hierdie beurse dien as ʼn hoeksteen vir studie aan die instelling en beloon harde werk, deursettingsvermoë en ʼn duidelike toekomsvisie met ʼn kontanttoekenning.

Akademiese merietebeurs bring verligting en toekomsmomentum

Volgens Liana van Rooy, registrateur van Akademia, het die instelling in die 2026- akademiese jaar altesaam R2 836 000 aan merietebeurse aan 466 eerstejaarstudente toegeken. Die grootste individuele toekenning het R36 000 beloop en is teen klas- en koshuisfooie gekrediteer.

Die akademiese merietebeurs, wat moontlik gemaak word deur bydraes tot die Akademia-skenkingsfonds, verteenwoordig ʼn belegging in jong mense se toekoms. Volgens Van Rooy verteenwoordig hoër onderwys ʼn belegging wat opwinding en uitdagings inhou. “Akademia se akademiese merietebeurs het dit ten doel om die finansiële verligting te bied en aan matrikulante hoop en toekomsmomentum te gee,” verduidelik Van Rooy.

Harde werk word beloon

Vir Like Bernard, ʼn oudleerder van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem en die ontvanger van ʼn R32 000-merietetoekenning, het haar goeie matriekresultate vlerke aan haar studiedroom gegee. “Danksy dié merietebeurs kon ek ongeveer 40% van my eerste jaar se klasgelde dek,” sê Bernard wat tans die BCom (Rekeningkunde)-program op die Pretoria-kampus by wyse van die voltydse kampusmodel volg.

“Ek is só dankbaar vir die geleentheid om die finansiële druk vir my ouers ligter te maak, en dat ek só die voorreg het om nie net te kan studeer nie, maar ook as ʼn goedgevormde mens verder te kan ontwikkel,” meen Bernard. Haar advies aan matrikulante wat daarvan droom om ná skool verder te studeer is om doelgerig te werk en verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem. “Doen jou deel, en vertrou dat die Here vir die res sal sorg. Jou punte is iets waaroor jy volle beheer het, en daarom is dit belangrik om elke dag hard te werk en jouself deeglik vir die eindeksamen voor te berei,” sê Bernard. Gedagtig aan die eindeksamen bemoedig sy matrikulante en voornemende Fonties aan by wyse van Galasiërs 6:9: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie verslap nie.”

Tot R50 000 se studiekorting

Voornemende studente kan ʼn merietetoekenning van tot R50 000 ontvang in die vorm van studiekorting wanneer hulle onderskeidings in sekere skoolvakke behaal. Dié korting word outomaties teen klas- of koshuisfooie gekrediteer vir die eerste jaar van studie en geld vir beide die instelling se onderrigleermodelle:

  • die voltydse kampusmodel; en
  • die nauurse afstandsmodel.

Met die opening van Akademia se Paarl-kampus in 2026, ontsluit hierdie beurse boonop nuwe en opwindende studiegeleenthede vir studente in die Wes-Kaap.

Só lyk die boustene van ʼn merietebeurs

  • Kategorie A-vakke | R8 000 per onderskeiding
    Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe
  • Kategorie B-vakke | R4 000 per onderskeiding
    Afrikaanse Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Rekeningkunde
  • Kategorie C-vakke | R2 000 per onderskeiding

    Alle ander vakke (Lewensoriëntering uitgesluit)

Die toekenning van merietebeurse is onderhewig aan spesifieke bepalings en voorwaardes.

Bou met ʼn doel, studeer met ʼn duidelike toekomsroeping

“Harde werk verdien erkenning,” sê Van Rooy en voeg by dat die instelling by wyse van hierdie merietebeurse matrikulante wil aanmoedig om met selfvertroue aan hul toekoms te bou en hul roepingsbesef só doelgerig uit te leef.

Akademia wens die matriekklas van 2026 alle sterkte toe met die aanloop tot die eindeksamen, en nooi elke matrikulant uit om hul toekoms op ʼn stewige grondslag te bou.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Die naam is afgelei van die instelling se leuse, ad futurum per fontes – vanuit die bronne na die toekoms.

Liké Bernard is ʼn eerstejaar-Fontie in die BCom (Rekeningkunde)-program. Haar studiedroom het stukrag gekry ná ʼn merietebeurstoekenning van R32 000.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.