*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Vele eerstes vir Akademia se Paarl-kampus

Gepubliseer op:  2 Maart 2026

Akademia se Paarl-kampus het vanjaar sy deure as studietuiste vir voltydse studente in die Wes-Kaap oopgeswaai en só ʼn opwindende nuwe hoofstuk vir die instelling ingelui.

Dié kampus het in die eerste twee maande van 2026 reeds ʼn aantal geskiedkundige en betekenisvolle eerstes beleef, en daar word met groot afwagting uitgesien na die res van die jaar se aktiwiteite. Gedagtig aan die instelling se jaartema, Boustene vir ons toekoms, getuig die volgende eerstes van die neerlegging van ʼn stewige grondslag vir dié kampus, sy studente, personeellede en die gemeenskap.

  • Nuwe personeellede word verwelkom

Die kampus het in Januarie ʼn splinternuwe personeelkorps verwelkom en só amptelik as ʼn Akademia-werkgemeenskap begin funksioneer. Hierdie gemeenskap bestaan uit 40 voltydse en twee deeltydse personeellede. Hierdie span, onder leiding van prof. Gawie du Toit, hoof: Paarl-kampus, doen én droom saam oor die daaglikse werking en toekomstige potensiaal van die kampus.

Tydens die eerste personeeloriënteringsessie het elke personeellid ʼn klein Akademia-beiteltjie as geskenk ontvang, ʼn simboliese verwysing na NP van Wyk Louw se gedig, “Die beiteltjie”. Hierdie gebaar dien as ʼn herinnering daaraan dat volhoubare werk (en impak) met klein, maar doelgerigte handelinge begin. Laasgenoemde is ook tekenend van die ontwikkelingswerk wat Akademia oor die laaste veertien jaar doen.

  • Eerstejaarskamp

Die eerste Paarl-Fonties het hul studiereis met ʼn opwindende eerstejaarskamp begin. Dié kamp, wat oor vier aksiebelaaide dae aan die einde van Januarie plaasgevind het, het vele nuwe vriendskappe en vormingsgeleenthede tot gevolg gehad.

  • Eerstejaarsverwelkoming

Op 31 Januarie is meer as 350 eerstejaars en hul ouers tot die Akademia-familie verwelkom tydens ʼn geleentheid wat by die Laborie-wynlandgoed plaasgevind het. Tydens hierdie geleentheid het die kampushoof nie nét ʼn oorsig van die jaar wat voorlê gebied nie, maar óók gefokus op die belangrikheid van akademiese verdieping, persoonlike groei en vorming binne die nuwe kampusomgewing.

  • Akademiese opening

Die akademiese jaar is op ʼn statige en gepaste wyse tydens die akademiese opening op Dinsdag 3 Februarie ingelui. Hierdie plegtige geleentheid is in die historiese Toringkerk in die Paarl gehou.

  • Eerstejaarskonsert

Op Vrydag 6 Februarie het die gesonde polsslag van die kampus se studentelewe duidelik na vore gekom tydens die eerstejaarskonsert. Die tonele het inspirasie geput uit geliefde en ikoniese Afrikaanse en Suid-Afrikaanse karakters soos Jan van Hunks, Jakkals en Wolf, asook Trompie en sy bekende (en soms berugte) boksombende. Hiermee saam het individuele talentitems, waaronder instrumentele verwerkings, sang- en kontemporêre dansoptredes vir verdere vermaak gesorg.

  • Spore-projek

Die Paarl-Fonties het op Saterdag 7 Februarie vir die eerste keer aan die instelling se gemeenskapsprojek, Spore, deelgeneem. Dié studenteinisiatief het dit ten doel om op ʼn praktiese en impakvolle manier gestalte te gee aan Akademia se vormingsideaal en gemeenskapsverbondenheid.

  • Eerstejaarsdinee

Nóg ʼn nuwe tradisie wat op die Paarl-kampus gevestig word, is die eerstejaarsdinee of Primus Chorum, soos dit by Akademia bekendstaan. Hierdie Latynse term beteken “eerste dans”. Die geleentheid is by die Laborie-wynlandgoed op 7 Februarie aangebied en het die eerstejaarsoriënteringstydperk op ʼn stylvolle wyse afgesluit.

  • Die aanvang van voltydse klasse

Paarl-Fonties het op 9 Februarie met hul voltydse klasse begin. ʼn Totaal van . Modules wat op die eerste dag van klas aangebied is, sluit onder meer in: Joernalistiek, Besigheid en Tegnologie, Programmeringkonsepte en Opvoedkunde.

  • Eerstejaarsport

Op Saterdag 14 Februarie het die studente hul tekkies aangetrek en in goeie sportmansgees aan die eerstejaarsportgeleentheid, Primus Ludo, deelgeneem. Tydens dié geleentheid, wat “eerste spel” beteken, is daar aan verskeie sportsoorte, soos onder meer padel, netbal, en raakrugby deelgeneem. Studente kon ook hul boeresportvaardighede op die proef stel. ʼn Hoogtepunt van die dag was toe personeel die studente uitgedaag het vir ʼn informele netbalwedstryd. Dié keer het die studente die oorhand gehad en as wenners uit die vriendskaplike stryd getree.

Gedagtig aan “Die beiteltjie” spreek bogenoemde eerstes tot die besef dat dit nie die grootte van jou werksinstrument is wat belangrik is nie, maar eerder die sorg waarmee daar geslyp en gebou word. Die eerste impaksgroewe is reeds sigbaar op die Paarl-kampus en getuig van diepte, ʼn bruisende energie en ʼn doelgerigte uitkyk na die toekoms.

Woon gerus die Akademia-opedag op 20 en 21 Maart by indien jy ʼn studiedroom koester en daarna uitsien om in 2027 voltyds op die Paarl-kampus te studeer. Registreer vandag nog om jou plek te verseker.

Die eerstejaarsverwelkomingsgeleentheid het op 31 Januarie by die Laborie-wynlandgoed plaasgevind.
Paarl-Fonties is talentvol en het geskitter tydens die eerstejaarskonsert.
Primus Chorum was ʼn spoggeleentheid en het die oriënteringsweek op ʼn glansryke wyse afgesluit.
Die eerste Primus Ludo was ʼn groot sukses en goeie sportmansgees en gesonde mededinging was aan die orde van die dag.

 

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.