*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Beveilig só jou digitale woonruimte – Akademia-kundige

Gepubliseer op:  15 Februarie 2026

Geskryf deur Jaco-Louis Kruger, analis: Kuberveiligheid by Akademia se Inligtings- en Kommunikasietegnologie-span

Wanneer jy met verlof gaan, doen jy moeite om jou woning te beveilig. Jy maak byvoorbeeld seker dat al die vensters en deure dig gesluit is, en jy aktiveer jou huisalarm. Dit sal nooit gebeur dat jy sommer net jou voordeursleutel in die deur los vir enige Jan Rap en sy maat om op dié manier toegang tot jou eiendom te verkry nie. Gedagtig hieraan word daar op Wêreldrekenaardag, 15 Februarie, gevra waarom daar nie met dieselfde paraatheid en omsigtigheid te werk gegaan word in die kuberruim nie?

Die dae toe die kuberruim net as ʼn vae inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT)-term bekend gestaan het, is lankal verby. Vandag dien die kuberruim onder meer as ʼn klaskamer, ʼn kommunikasiemiddel, ʼn manier om dienslewering te vergemaklik en om handel te dryf. Meer nog, dit het ʼn daadwerklike impak op die werklike lewe en kan, indien dit nie reg bestuur word nie, selfs omvattende gevolge vir gebruikers (digitale burgers) inhou.

Só tree verantwoordbare digitale burgers op

Digitale burgerskap verwys na die verantwoordelike, veilige en etiese gebruik van digitale tegnologie en is van kardinale belang vir elkeen wat hom- of haarself in die kuberruim besig. ʼn Onlangse studie het gevind dat 93,7% van alle Suid-Afrikaanse maatskappye ten minste een suksesvolle kuberaanval in 2025 beleef het.

Met bogenoemde skokstatistiek in gedagte is dit baie belangrik dat verantwoordelike digitale burgers alles moontlik sal doen om hulself in die kuberruim te beveilig. Die grootste risiko vir kuberaanvalle bly gebruikers wat onbewustelik die sleutels na hul aanlyn tuiste aan misdadigers oorhandig by wyse van onverskillige gebruike.

Hiermee ʼn paar nuttige en verantwoordbare wenke wat gebruikers kan volg om hulself te beveilig:

  • Gebruik ten alle tye sterk wagwoorde wat spesiale karakters en syfers bevat. Hoe langer jou wagwoord, hoe beter.
  • Gebruik unieke wagwoorde wat nie saamgestel is uit enige inligting oor jou as persoon nie. Moet dus nie verjaarsdae of name in wagwoorde insluit nie.
  • Aktiveer die veelvoudige verifikasiefunksie vir al jou aanlyn rekenings. Hierdie funksie vra van jou om bykomende inligting te verskaf wanneer jy op aanlyn stelsels inteken om só jou identiteit as gebruiker te bevestig. ʼn Voorbeeld hiervan is die kitskodes (eenmalige PIN) wat jy saam met jou wagwoord moet verskaf.
  • Waak daarteen om op onbekende skakels te klik wat jy via SMS, WhatsApp, e-pos of enige ander vorm van digitale kommunikasie ontvang.
  • Wees bewus daarvan dat aanloklike winskopies of geleenthede dikwels ʼn heuningstrik is. Vra jouself af: Is hierdie te goed om waar te wees? Indien die antwoord “ja” is, is die kans baie goed dat dit ʼn skelmstreek is en dat jy sonder twyfel uitgebuit gaan word.
  • Respekteer ander se privaatheid en moenie enige inligting van ʼn ander gebruiker sonder hulle toestemming deel nie.
  • Maak seker dat jou toestelle op datum bly deur die sagteware gereeld op te dateer as daar nuwe weergawes beskikbaar is.
  • Onthou altyd dat die internet die geheue van ʼn olifant Data wat op die internet geplaas word, verdwyn nie maklik nie en kan jou vir jare volg.

Verantwoordelike digitale burgerskap gaan oor die neem van ingeligte besluite wanneer dit kom by aanlyn aktiwiteite. Diesulke gebruikers dink krities voor hulle enige besluit deurvoer, net soos dit in die lewe ook behoort te wees.

Elkeen van ons het die geleentheid om by te dra tot ʼn veiliger en meer verrykende kuberruimte. Al wat jy moet doen is om jouself te vergewis van die gevare en jou dienooreenkomstig met kennis en inligting toe te rus en só jou verantwoordbare digitale burgerskap op te neem.

Jaco-Louis Kruger, analis: Kuberveiligheid by Akademia se Inligtings- en Kommunikasietegnologie-span, meen dat oningeligte en onverskillige digitale burgers die grootste risikofaktore vir kubersekuriteit verteenwoordig.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.