*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur

Akademia begin in 2026 met ʼn Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur

Gepubliseer op:  22 Januarie 2026

ʼn Splinternuwe program, die Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur, word vroeg in 2026 met groot opgewondenheid by Akademia bekendgestel. Dié dinamiese program is ʼn toevoeging tot die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se uitgebreide programverskeidenheid. Ná voltooiing van die program sal studente toegerus wees om nie nét uitdagings in ʼn globale besigheidsbestuurskonteks te kan oplos nie, maar óók om kreatiewe en inspirerende leiers in die bemarkingsveld te wees.

ʼn Suksesvolle loopbaan in die bemarkingsveld vereis ʼn stewige grondslag. Gedagtig aan die instelling se jaartema vir 2026 – Boustene vir ons toekoms – verteenwoordig dié program kernboublokke soos verdiepte strategiese insig, toepasbare vaardighede en die versterking van professionele oordeel. Dié program word via die nauurse afstandsmodel aangebied, wat beteken dat studente hulself steeds voltyds in die werksplek kan besig, ander belangstellings kan nastreef én boonop nie deur geografiese ligging – plaaslik of internasionaal, beperk word nie.

Meer oor die program

Die Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur het dit ten doel om studente toe te rus met huidige bemarkingsbestuursteorieë, toepaslike beginsels, kennis, vaardighede en bevoegdhede. Hiermee saam sal studente hulself ook met navorsing op die gebied van bemarkingsbestuur besig en krities met verskeie dataformate omgaan. Laasgenoemde navorsingsfokus sal hul in staat stel om ingeligte bemarkingstrategieë te kan ontwikkel.

Ten einde leiers in bemarkingsbestuur te word, sal studente voorts gelei word in self- en spanbestuur, inspirerende leierskap, kritiese, innoverende denke, kommunikasie en datageletterdheid. Die volgende modules maak deel uit van die programsamestelling:

  • Gevorderde Bemarkingsbestuur
  • Toegepaste Bemarkingsanalise
  • Bemarkingsleierskap
  • ʼn Toegepaste Bemarkingsnavorsingsprojek

Die program word op ʼn NKR-vlak 8 aangebied, terwyl die minimum tydsduur vir die program een jaar is, en die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing op twee jaar gestel is.

Só tel dié program in jou loopbaanguns

Ná die suksesvolle voltooiing van hierdie nagraadse diploma sal gegradueerdes hulself, by wyse van gevorderde bemarkingskennis-, bestuursvaardighede, en -leierskapsvermoë, in die werksplek kan onderskei. Hulle sal voorts goed kan funksioneer in bemarkingsafdelings en -spanne as onder meer bemarkingsbestuurders, handelsmerkbestuurders, projekbestuurders, sosialemediabemarkingsbestuurders asook besigheidsontleders.

Bogenoemde werkskontekste sluit klein en medium ondernemings, bemarkingsagentskappe, finansiële dienste asook die gasvryheidsektor in.

Die voltooiing van die program, met ʼn 65%-gemiddeld, sal ʼn student ook in staat stel om ʼn meestersgraad met spesialisering in Bemarking of verwante bestuursvelde te doen.

2026-studieaansoeke word reeds ingewag en sluit op 27 Februarie. Indien jy in dié program belangstel en meer wil uitvind, woon die aanlyn inligtingsessie op Donderdag 12 Februarie by. Besoek gerus die Akademia-webblad om jou aanlyn sitplek te bespreek.

ʼn Glasieklinkgeleentheid ter viering van die bekendstelling van Akademia se nuwe Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur is op Donderdag 22 Januarie by die instelling se Leriba-kampus in Pretoria gehou.
Die Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur berei studente voor om leiding te neem, te vernuwe, en om ingeligte bemarkingsbesluite te kan neem. Dr. Rachel Maritz (dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), Elize-Mari Coetzer (departementshoof: Bestuurswetenskappe), Marthinus Visser (besturende direkteur: Akademia), en Salomien Boshoff (programkoördineerder: Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur) is saam opgewonde oor die nuwe program.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.