*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 12 Desember 2025
In minder as ʼn jaar se tyd het lede van die Akademia-dansklub nie nét daarin geslaag om dans as ʼn gewilde studenteaktiwiteit op die instelling se Pretoria-kampus te vestig nie, maar óók om hulself op nasionale vlak te onderskei. Dié groep van tien Fontie*-dansers het vroeër vanjaar aan die gewilde nasionale Talent Africa-kompetisie deelgeneem en goud (80% en hoër) behaal in die Hip Hop-afdeling asook platinum (85% en hoër) in die kontemporêre en solo-afdelings.
Die dansers wat deel uitmaak van dié klub sluit in Abigail van Deventer, Ane Roos, Chantilize Nell, Elmé van der Merwe, Megan Smit, Monique Alberts, Roechante van Heerden, Tanita Pretorius, Tiffany Maree en Veronique le Roux. Al die lede studeer by wyse van die instelling se voltydse kampusmodel.
ʼn Jaar van danspassies en prestasie
Alberts, wat aan die stuur van die dansklub staan, verduidelik dat die klub een van die vele opwindende studenteaktiwiteite verteenwoordig wat deur die instelling se studenteraad (SR) gekoördineer word. Binne hierdie aktiwiteitsomgewing speel klubs en verenigings ʼn sleutelrol.
Sy vertel dat die klub aanvanklik aan Fonties ʼn platform gebied het om op ʼn prettige manier hul sokkie- en lyndansvaardighede te verbeter. As ʼn ywerige danser het sy egter gou besef dat dié klub die potensiaal het om ʼn veel groter impak te bewerkstellig. “Daar is soveel Fonties met ʼn talent én ʼn brandende passie vir dans, maar wat dit moeilik gevind het om in die omgewing ʼn geskikte ateljee te vind. Ons het dadelik koppe (en dansskoene) bymekaargesit en ʼn voorlegging aan die SR gemaak. Die res is soos hulle sê, geskiedenis,” sê Alberts en sy noem dat die klub sedertdien reeds verskeie oudisies, kompetisies, oefensessies en fondsinsamelingsprojekte die lig laat sien het.
Opgewonde oor die toekoms
Volgens Alberts heers daar nou reeds groot opgewondenheid oor die klub en sy aktiwiteite vir 2026. Nie nét sien die lede daarna uit om nuwe eerstejaar-Fonties te verwelkom nie, maar óók om hul goeie prestasies op die nasionale kompetisieverhoog voort te sit. “Dans is soveel meer as net ʼn stokperdjie of buitemuurse aktiwiteit, dit is ons passie en ons ag onsself baie bevoorreg om ook hierdie liefde as Fonties te mag uitleef,” sê Alberts.
Sy sluit af deur haar droom vir die klub soos volg op te som: “Die klublede is dit eens dat hierdie dansgemeenskap van krag tot krag sal groei, en só die instelling se vormingsideaal sal ondersteun. Binne hierdie gemeenskap vind persoonlike en sosiale groei plaas en word studente die geleentheid gebied om kreatief te verkeer, selfvertroue te ontwikkel en as Fonties die polsslag van Akademia se bruisende studentelewe te ervaar. Terselfdertyd word goeie leierskapsvaardighede, gemeenskapsbetrokkenheid en selfdissipline gekweek. Dit is ons wens dat nóg meer lede by ons sal aansluit en dat dans een van die instelling se voorkeuraktiwiteite sal word,” sê Alberts.
*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.