Hennops-manne gee met oorgawe en bou só voort op karakter, kameraadskap en Fontie-wees

Gepubliseer op:  21 Oktober 2025

Akademia se bruisende koshuislewe verteenwoordig soveel meer as net gesonde studentepret. Binne hierdie eiesoortige milieu en by wyse van aktiewe deelname, wedersydse meelewing en studente-eie tradisies word Fonties* gevorm ten einde ʼn roepingsgedrewe toekomsvisie en ʼn sin vir gemeenskap te huldig. Een só ʼn tradisie is Huis Hennops, een van die instelling se manskoshuise, se jaarlikse boksaand.

Dié geleentheid, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied is, is nie nét ʼn sporthoogtepunt op die koshuis se gebeurlikheidskalender nie, maar ook ʼn manier om fondse in te samel ter ondersteuning van verskeie onderskragingsaksies. Gedagtig hieraan, en in aanloop tot die ontwikkeling van Akademia se wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria, is ʼn gedeelte van vanjaar se opbrengs aan die instelling se skenkingsfonds oorhandig. Hierdie oorhandiging is op Maandag 20 Oktober 2025 tydens ʼn koshuisvergadering op die Leriba-kampus gemaak.

Volgens Conrad Prins, oudprimarius van Huis Hennops en die organiseerder van die boksaand, is dit vir die koshuis ʼn ongelooflike voorreg om ʼn bedrag van R7 000 tot die fonds by te dra. Hy verduidelik dat die skenking moontlik gemaak is deur ʼn gedeelte van die meer as 600 kaartjies wat vir die geleentheid verkoop is aan die fonds toe te wy. “Hierdie skenking is ʼn simboliese en tasbare bewys van die koshuis se verbintenis tot Akademia en die diensbaarheid van elke Hennops-man,” sê Prins.

Op sy beurt spreek Zander Botha, bestuurder van die Akademia-skenkingsfonds, sy opregte dank uit teenoor die koshuis vir hul onbaatsugtige skenking. Hy is dit eens dat dié gebaar ʼn lansie breek vir hierdie jong leiers se gees van diensbaarheid en verantwoordelikheid. “Hierdie jong manne bewys deur hul verbondenheid dat ware gemeenskap gekenmerk word deur omgee, betrokkenheid en die bereidwilligheid om terug te ploeg. Hulle is ʼn inspirasie vir ander en wys hierdeur dat hulle nie net vir hulself bou nie, maar vir die toekoms van die Afrikaanse universiteitswese,” sê Botha.

Meer oor die jaarlikse boksaand

Prins verduidelik dat die boksaand ʼn viering van moed, dissipline, karakter en kameraadskap is en dat deelnemers nie nét hul spiere en talent in die bokskryt beproef nie. “Tydens die boksaand word die Hennops-gees ten toon gestel en word die boodskap uitgedra dat wilskrag, respek en die vermoë om na elke hou weer op te staan jou sterker laat,” sê Prins. Hy voeg by dat die onderskraging wat deur die deelnemers en veral die koshuis gebied word voorts tot die krag spreek wat daar in gemeensaamheid ontsluit word. “Hier in die kryt, soos in die koshuis en ook in die lewe, is ons sterkter as ons saam staan, mekaar ondersteun en nie toelaat dat omstandighede ons van stryk bring nie,” som Prins die boksaandervaring op.

Nóg ʼn manier waarop die boksaand waarde toevoeg is deur fondse in te samel ter ondersteuning van die Huis Hennops-ondersteuningsfonds. Hierdie fonds maak dit vir die koshuisbestuur moontlik om ʼn helpende hand na mede-Hennops-manne uit te steek wat ʼn hupstootjie nodig het om hul studie, asook deelname aan studenteaksies, met ywer te kan aanpak.

“Die boksaandtradisie herinner elkeen van ons daaraan dat ons ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die instelling het. Deur heelhartig deel te neem maak ons nie net ʼn verskil in mede-Fonties se lewens nie, maar kan ons ook vanjaar bydra tot die ontwikkeling van die nuwe kampus waar toekomstige geslagte Hennops-manne hulself hoopvol vir die toekoms sal voorberei,” sê Prins.

Ter afsluiting noem Prins dat soos die Hennopsrivier, waaraan die koshuis sy naam ontleen, voortvloei en deur tyd gevorm word, elke Hennops-man deel van die lewenstroom is wat Akademia se pad uitkerf. “Elkeen voeg sy eie energie en idees tot die groter stroom van kennis, kultuur, karakter en kameraadskap. ʼn Rivier is selde stil, dit vind altyd ʼn pad – soms rustig kronkelend en soms by tye met onstuimige krag – en hierin lê die beeld van ware broederskap opgesluit. Die vloei herinner ons aan volharding, aan die belangrikheid van aanpasbaarheid en die besef dat die lewe uit gee en ontvang bestaan,” verduidelik Prins.

Klik hier om meer te wete te kom oor die Toekomsbouer-veldtog en hoe jy, soos die Hennops-manne, betrokke kan raak.

* Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Teenwoordig tydens die oorhandiging van die skenking was, van links Danie Jansen van Vuuren (hoof: Finansies en Infrastruktuur), Thinus Dodds (koshuisvader 2024-2025), Hendré Human (huiskomiteelid), Zander Botha (bestuurder: Akademia-skenkingsfonds) en Nadia Nel (senior bestuurder: Kommunikasie).
Huis Hennops se boksaand is vanjaar vir die tweede keer aangebied en verteenwoordig ʼn hoogtepunt op die instelling se koshuisgebeurlikheidskalender.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.