Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-student maak naam in liggaamsboukringe

Gepubliseer op: 25 Nobember 2021

Monique Swart, LLB -student by Akademia, is besig om vinnig naam te maak in liggaamsbou-kringe in Suid-Afrika. Sy het reeds aan die Liggaamsbou- Provinsiale Kampioenskappe in Gauteng (Wesrand/Ekurhuleni) 2021 deelgeneem waar sy derde plek behaal het. Sy het verder aan die Millennium Goudplaat (Millennium Gold Plate) deelgeneem en met ʼn eerste plek weggestap. Sy het onlangs ook aan Arnold Schwarzenegger se liggaamsbou- en fiksheid-geleentheid deelgeneem.

Swart se liefde vir liggaamsbou kom al van ʼn jong ouderdom af. Sy het in ʼn baie aktiewe en sportiewe familie groot geword en is al vanaf sestienjarige ouderdom by ʼn gimnasium aangesluit. “Dit was en is vir my ʼn soort terapie en dit is definitief een van my passies. Ek wou ook van hoërskool af aan liggaamsboukompetisies deelneem,” sê sy. Sy het egter vanjaar besluit dat dit nou die tyd is en het saam met haar afrigter, Stephany Delatour, haar droom begin verwesenlik toe sy in die Strandbikini bo 163 cm-kategorie deelgeneem het.

Sy het besluit om by Akademia te studeer aangesien sy aanklank by die instelling se waardes gevind het en nog altyd in haar moedertaal wou studeer het. “Dit is ʼn hoëronderwysinstelling wat vir elke student omgee en die studente self gee baie vir mekaar om, dit is ʼn plek van liefde en geluk. Die instelling is werklik ons studente se tweede huis.”

Haar keuse het op die LLB-kwalifikasie geval, aangesien sy ʼn passie het vir besigheid en om mense te help. Sy hoop om eendag haar eie regsfirma te begin en dan te spesialiseer in mediese reg met die hoop om mense daardeur te kan bystaan.

Swart noem dat sy baie selfdissipline aan die dag lê om haar studies en liggaamsbou te balanseer. “Die dissipline wat nodig is vir liggaamsbou is dieselfde wat nodig is vir studies. Die voorbereiding vir ʼn kompetisie is soos die leer vir ʼn toets en die kompetisie self is soos die eksamen.” Sy vertel verder dat dit maklik is om balans te vind wanneer jy mooi kan beplan en goeie keuses kan maak. Natuurlik help die nauurse onderrigleermodel met die gerieflike klasrooster ook dat sy op haar studies kan fokus, terwyl sy haar belangstellings nastreef.

Haar toekomsdroom wat liggaamsbou betref, is om volgende jaar aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem, asook in die toekoms aan die Fikse Model-kampioenskappe (Fit Model Championships) in Rusland. Sy wil ook graag haar Protea-kleure vir liggaamsbou en haar Pro Athlete-kaart ontvang. Akademia wens haar alle voorspoed toe en hou haar toekoms met afwagting dop.

Monique Swart is ʼn passievolle LLB-student met groot drome in die regswêreld sowel as in die liggaamsbou-arena.