Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-taalpraktisyn se kortverhaal deel van US Woordfees-bundel

Gepubliseer op: 25 Nobember 2021

Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia, se kortverhaal met die titel Lig is soos water is onlangs in die US Woordfees se kortverhaalbundel van 2021, Iets Anders, opgeneem. Dit was deel van die jaarlikse kompetisie wat die US Woordfees met die ondersteuning van Du Toitskloof Wyne aangebied het.

Haar inspirasie agter die kortverhaal het begin by haar liefde vir tale en die Spaanse verhaal, La luz es como el agua, van Gabriel García Márquez. “Ek het in ʼn hotelkamer ʼn bedkassie wat uit industriële pype gemaak is met ʼn gloeilampie aan die punt van die pyp gesien en dit het my aan hierdie verhaal laat dink.” Sy het toe begin dink aan wat alles in so ʼn hotelkamer in ʼn pandemietyd kan afspeel en dit is waar sy die verhaal begin skryf het.

Dit maak haar opgewonde dat hierdie storie verskillende wêrelde by mekaar kon uitbring: Daar is die (amper) apokaliptiese kwarantynhotel, Afrika en Europa wat in een verhaal ontmoet. “Die goue draad is die verhouding oor generasies heen. Daardie oordra van wie ons is na die volgende geslagte,” noem sy.

Brits glo dat skryfstukke in Afrikaans van kardinale belang is om die taal te laat voortleef. “Letterkunde is een van die groot lewensare van ʼn gesonde taal. As ons Afrikaans as taal wil laat gedy, moet ons dit op al die vlakke moontlik ontwikkel – veral die letterkunde.” Sy sê ook dat dit vir haar ʼn groot voorreg is om haarself in haar moedertaal te kan uitdruk en hopelik mense in haar hartstaal te inspireer.

Sy het in Augustus by Akademia aangesluit en geniet dit om haarself in haar moedertaal te kan uitleef. “Dit is heerlik om aan taal te skaaf en met woorde te kan speel. Ek wil graag met my woordgereedskap help bou aan ʼn instelling wat studente toerus om ʼn verskil in ons gemeenskappe te maak. Dit is ʼn groot voorreg om deel van die pionierswerk te mag wees.”

Haar pen se ink is beslis nog glad nie droog nie. “Ek skryf graag briewe aan my reistas met die naam Koos. Ek het seker al so by die tagtig briewe oor my reise plaaslik en anderkant die water geskryf. Ek sal dit graag op ʼn stadium wil voorlê aan ʼn uitgewer.” Sy noem ook dat daar ook nog ʼn kortverhaal of twee in haar laai lê en wag om uit te klim. “Ons almal loop met ʼn storie in ons rond. Moet dit nie vir jouself hou nie. Deel dit met die wêreld en inspireer mekaar,” sluit sy af.

Lig is soos water is as deel van die kortverhaalbundel, Iets Anders, van die US Woordfees opgeneem. Die boek is te koop by Exclusive Books.

Karien Brits is die talentvolle taalpraktisyn by Akademia wat ʼn liefde het om met woorde te woeker.