Gepubliseer op: 8 Augustus 2025
Juan Theron (35) is ʼn trotse Akademia-alumnus wat tydens vanjaar se kwalifikasieplegtigheid nie net die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys) met onderskeiding verwerf het nie, maar ook as die toppresteerder in dié program vir die 2024- akademiese jaar vereer is. Hierdie uitsonderlike prestasie span die kroon op Theron, ʼn geregistreerde en praktiserende biokinetikus, se jarelange passie vir die onderwys en stel hom in staat om sy roepingstaak in die klaskamer én op die sportveld uit te leef.
Volgens Theron het hy dit glad nie verwag om as toppresteerder aangewys te word nie, al het hy ywerig en pligsgetrou met sy studie omgegaan. “Ek het nie vir die applous van die gehoor gewerk nie, maar eerder vir myself en die leerders in my klaskamer,” sê Theron. As onderwyser (en biokinetikus) verbonde aan die Laerskool Hennopspark in Centurion, is Theron verantwoordelik vir Tegnologie vir die graad 7-leerders asook Persoonlike en Sosiale Welstand vir graad 6-leerders.
“Om as die toppresteerder in jou jaargroep aangewys te word, is voorwaar ʼn gróót eer en dit het dadelik al die laat aande en ander opofferings die moeite werd gemaak,” sê Theron. Gedagtig hieraan is hy voorts vol lof vir sy ondersteuningsnetwerk, waaronder sy vrou, Aletia, en die personeel van die Fakulteit Opvoedkunde. Laasgenoemde het hom veral beïndruk met hul deeglike voorbereiding, indieptekennis en passie vir die onderwys.
Die oomblik wanneer jou roepingsbesef aan die deur klop
Volgens Theron het hy nóg altyd ʼn voorliefde vir onderwys gekoester, ʼn besef wat reeds tydens sy voor- en nagraadse studie as biokineitika-student na vore getree het. In dié tyd het hy gereeld as tutor vir jonger studente opgetree, terwyl hy ook tydens sy internskapsjaar die rol van mentor vir honneurstudente aangeneem het. In hierdie tyd kon hy ingewikkelde vaktaal in modules soos Fisiologie vir dié studente oopbreek. Hy het ook ná afloop van sy studie vir ʼn tydperk aan ʼn plaaslike privaat onderwysinstelling gedoseer.
Dit was egter sy huidige skoolhoof, Jannie Raath, wat hom tot aksie laat oorgaan het en hom opnuut aan sy potensiaal as onderwyser herinner het. Ná ʼn waardevolle en besielende gesprek waartydens Raath opgemerk het dat Theron ʼn natuurlike aanvoeliing vir die onderwys het én dat sy interaksie met die leerders beïndruk, het Theron opnuut besef dat hy ook ʼn impak in die klaskamer kan maak.
Vir diegene wat meen dat onderwys nie ʼn volhoubare óf vervullende beroepsveld verteenwoordig nie, antwoord Theron dat dit vir hom grotendeels oor geroepenheid gaan. “Die oomblik as jy jou vonk verloor kan enigiets soos ʼn vonnis begin voel, maar as God jou oproep en vir ʼn taak verkwik, soos byvoorbeeld onderwys in my geval, sal alles uitwerk soos dit moet,” sê Theron.
Uitdagend, maar deurgaans die moeite werd
Theron het sy studie by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aangepak, en het van die e-leeropsie gebruik gemaak. Laasgenoemde het hom soos ʼn handskoen gepas, omdat hy vanuit die gerief van sy eie huis kon inskakel en só makliker die eise – professioneel en persoonlik, wat aan hom gestel is as ‘n student wat voltyds werk en studeer kon navigeer.
Hierdie uitdagings het onder meer die vorm aangeneem van nuwe en bykomende onderrigverantwoordelikhede, deurlopende assesserings, ʼn proeftydperk, toetse én eksamens. Hiermee saam het sy rol as biokinetikus ook onverpoosd voortgegaan en, asof dit nie reeds getuig van ʼn baie besige skedule nie, is die Theron-gesin in Februarie 2024 met ʼn babadogtertjie geseën. “Glo my as ek sê, dat dit nie altyd maklik is om al die verskillende balle in die lug te hou nie, maar sodra jy iets aanpak wat tot jou hart spreek, word opoffering ʼn trappie na iets veel groter as jyself,” meen Theron.
As hy terugdink aan sy studiereis, het hy die volgende brokkies raad vir ander wat dit oorweeg om nauurs te studeer:
Vier elke klein mylpaal. Trek ʼn streep deur elke assesseringsdoeldatum wat suksesvol afgehandel is en sien vir jouself hoe jou droom gestalte kry.
Akademia as ʼn trots-Afrikaanse studietuiste
Op die vraag of Theron sy alma mater aan ander toekomstige studente as ʼn studietuiste sal voorhou, kom die antwoord dadelik: Ja!
“Ek is ʼn trotse Akademia-ambassadeur en vertel vir almal, selfs diegene wat nóg nié weet dat hulle wil studeer nie, dat hierdie ʼn studietuiste sonder vergelyking is!” sê Theron. Hy skryf sy opgewondenheid oor sy alma mater toe aan verskeie faktore, onder meer die instelling se waardegedrewe benadering, die uiters toepaslikheid van die programme vir die werksmag asook die mate van uitnemendheidsverbondenheid wat by almal betrokke te bespeur is.
Dit is egter die instelling se bruisende Afrikaanse lewensaar wat Theron bly inspireer en motiveer. “Daar is nét iets só ongelooflik spesiaal aan moedertaalonderrig, en die manier waarop die taal daagliks by die instelling gelééf word. As student kan jy nie anders nie as om tuis te voel nie, en meer nóg: om op ʼn geroepe manier self moue op te rol en in jou taal die baan te weg vir diegene wat ná jou moet volg,” verduidelik Theron.
Wat homself betref wil Theron in die toekoms graag verder studeer in die area van skoolbestuur en lyk die instelling se Nagraadse Diploma in Skoolleierskap en -bestuur vir hom baie belowend. Hy sluit af deur sy alma mater alle sukses vir die toekoms toe te wens en hy spreek die vertroue uit dat die instelling ʼn voorkeurstudietuiste vir onderwyslui sal word. “Mag Akademia nooit sy roepingsbesef versaak nie, en steeds aanhou om hoër te vlieg in sy strewe om hoopvol vorm aan die toekoms te gee.” sê Theron.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.