Jean-mari skitter as Akademia se eerste Alumni-uitblinker

Gepubliseer op: 2 Julie 2025

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verwys na ʼn pionier as ʼn baanbreker wie se idees of voorbeeld later deur ander verder geneem word. In die geval van Akademia-alumnus, Jean-mari Cornelius (49) is dié beskrywing nommerpas en is sy op ʼn luisterryke wyse tydens vanjaar se prestigefunksie vereer met die instelling se eerste Alumni-uitblinkerstoekenning. Cornelius het haar BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie in 2024 verwerf via die instelling se nauurse afstandsmodel.

ʼn Viering van toewyding en impak

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Institusionele projekte en ondernemings, verteenwoordig die uitblinkerstoekenning ʼn viering van toewyding en impak – nie nét wat die onmiddellike Akademia-gemeenskap betref nie, maar óók op welke ander terreine. “Akademia is trots op elkeen van sy alumni en gedagtig aan die instelling se jaartema, Afrikaans en tuis, is dit ons strewe dat alumni nie nét tuis sal wees by hul alma mater nie, maar óók as ambassadeurs van hoop en vernuwing na vore sal tree,” sê Swanepoel.

Vir Cornelius was die nuus dat sy die toekenning ontvang heeltemal onverwags. En hoewel sy uit die veld geslaan was, is sy dankbaar omdat dié erkenning haar vul met ʼn hernude sin van doelgerigtheid om haarself steeds verder uit te daag en só aan te hou om ʼn positiewe verskil te bewerkstellig. “As ek terugkyk oor my tyd as ʼn Fontie besef ek dat dit ʼn groot voorreg was om nie net my studie in Afrikaans te kon aanpak nie, maar ook om eerstehands te kon ervaar hoe ek as persoon geag is en nooit as nét nóg ʼn studentenommer hanteer is nie,” vertel Cornelius. ʼn Hoogtepunt op haar studiereis was die gebaretaaltolk wat die instelling gereël het sodat sy die kwalifikasieplegtigheid saam met haar mede-Fonties kon volg. Sy beskryf dié geleentheid as ʼn hoendervleisoomblik wat sy vir altyd sal koester.

“Ek glo met my hele wese dat daar ʼn plekkie vir almal onder die son bestaan,” vertel Cornelius en voeg by dat Akademia haar die geleentheid gebied het om aktief aan ʼn nalatenskap te bou. Sy dra hierdie nalatenskap op aan diegene wat haar voorafgegaan het, asook diegene vir wie sy as voorganger iets kan beteken. 

Haar impak tref diep en wyd

Cornelius se suksesverhaal as die instelling se eerste dowe alumnus het vanuit alle oorde die belangstelling geprikkel. Haar Akademia-storie het by wyse van die instelling se Facebook-bladsy om en by 90 000 mense bereik, terwyl méér as 1 300 belangstellendes op die plasing gereageer het. Dit is veral haar deursettingsvermoë, positiewe ingesteldheid en roepingsgedrewe verbondenheid tot veral die dowe gemeenskap, wat die verbeelding aangegryp het.

Sy is al vir langer as tien jaar deel van die Deaf Federation of South Africa (DeafSA)-span, waar sy sedert 2018 die posisie van finansiële bestuurder beklee. Dit is dan ook binne hierdie professionele milieu waar sy haarself toespits op die maatskaplike ontwikkeling van persone in die dowe gemeenskap. Hierdie ontwikkeling lê haar na aan die hart en Cornelius vervul dié roeping met oorgawe en passie. Sy vertel dat dit haar gróót droom is om in die toekoms haar eie finansiële en regshulpkliniek op die been te bring en by wyse van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) advies en opleiding vir ander gehoorgestremdes te bied.

En as dit kom by toekomstige Fonties, watter brokkie raad het Cornelius vir die volgende geslag pioniers? “Om te kan studeer is ʼn groot voorreg wat jy met albei hande moet aangryp. Moenie dat vrees in jou pad staan nie, want jou roepingsbesef sal gestalte kry dáár waar jy voluit aan jou menswees slyp. Skryf dapper en opgewonde aan jou eie storie, jy is immers die outeur daarvan,” sluit Cornelius af.

Indien jy, soos Cornelius, as ʼn Akademia-alumnus jou suksesverhaal wil deel en só huidige en toekomstige Fonties wil inspireer, stuur ʼn e-pos na alumni@akademia.ac.za. Onthou ook om jou besonderhede by te werk en te registreer vir die Akademia-nuusbrief.

Jean-mari Cornelius, die ontvanger van Akademia se eerste Alumni-uitblinkerstoekenning, en Monica Mynhardt, voorsitter van die instelling se alumni-komitee, tydens vanjaar se prestigefunksie.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.