Gepubliseer op: 6 Mei 2025
Ouers, Fonties, personeel, vriende en alumni het van heinde en verre gereis om Akademia se jaarlikse prestigefunksie op Maandag 5 Mei 2025 by die Fairtree Atterbury Teater in Pretoria by te woon. Tydens hierdie geleentheid is die instelling se bestaansrede as Afrikaanse studietuiste gevier deur akademiese én leierskapsprestasies te vereer. Die prestigefunksie is sedert 2019 ʼn jaarlikse hoogtepunt op die instelling se gebeurlikheidskalender.
Volgens Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, is dit vir die instelling ʼn groot voorreg om by wyse van hierdie prestige toekenningsgeleentheid hulde te bring aan uitnemendheid. “Ons as hoëronderwysgemeenskap staan vanaand vir ʼn oomblik stil en gee erkenning aan uitsonderlike uitblinkers wat gedurende die akademiese jaar verwerf is. Hierdie prestasies is die gevolg van toegewydheid, harde werk en deursettingsvermoë,” sê Visser. Hy het voorts te kenne gegee dat goeie skoolonderwys en vorming, opvoeding en ondersteuning in en deur die ouerhuis asook ander gemeenskapsinstellings die grondslag vir dié prestasies gelê het.
Akademia in sy aard en wese as roepingsgedrewe studietuiste rus volgens Visser studente vir uitnemendheid toe by wyse van die ontwikkeling van gehalte programme, studiemateriaal, onderrig- en leerpraktyke, assessering, studieondersteuning en doeltreffende administrasie. Hierdie insette tesame met elke student se entoesiastiese medewerking, dek gevolglik die tafel vir hoë prestasie. “Vanaand vereer ons nie net ons topstudente en uitblinkers nie, maar gee ons ook erkenning aan almal wat deel was en is van hierdie akademiese waardeketting,” meen Visser.
Gedagtig aan die toekennings wat aan studenteleiers gemaak is, verduidelik Visser dat Akademia se studentelewe uitsluitlik bedryf word ter ondersteuning van die instelling se verbintenis tot die vorming van al sy studente. Hierdie studentelewe word moontlik gemaak deur studente wat hulself as leiers beskikbaar stel om só diensbaar tot die groter studentegemeenskap te wees.
Akademiese toekennings
Tydens die geleentheid is toekennings binne elk van die vyf fakulteite gemaak. Hiermee ʼn uiteensetting van die verskillende akademiese toekennings wat by die spoggeleentheid oorhandig is.
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Anika de Jager – Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
Ernice Kleyn – Nagraadse Diploma in Belasting
Vian de Blanche – BCom (Finansiële Beplanning) | nauurse afstandsmodel
Fakulteit Geesteswetenskappe
Frederik Robert Beyer – BA (Kommunikasie en Joernalistiek)
Matthew Olivier – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) | nauurse afstandsmodel
Sias Hoffmann – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) | beste: Filosofie
Fakulteit Natuurwetenskappe
Paul Christiaan Johannes Potgieter – BSc (Wiskundige Wetenskappe)
Louis van der Walt – BSc (Rekenaarwetenskappe)
Phillip van Staden – BSc (Rekenaarwetenskappe) | Sagteware-ontwikkeling
Fakulteit Opvoedkunde
Juan Theron – Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
Marnie van der Westhuizen – BEd (Intermediêre Fase-onderwys) | algehele toppresteerder en beste Werkgeïntegreerde-onderwysstudent
Petri van Wyk – Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)
Wynand Blomkamp
Fakulteit Regsgeleerdheid
Jessy McCarthy | voltydse kampusmodel
Leierskapstoekennings
Die volgende studente ontvang elk ʼn leierskapserkenningsertifikaat asook ʼn prestasiebeurs:
Studenteraad (SR)
Wilani Alberts – Bemarking en Kommunikasie
Uitvoerende komitee (UK)
Zabeth Breytenbach – Verenigings
Hoofleiers: Koshuise en daghuise
Ruan van der Vyver – Huis Karoo: Onderprimarius
Alumni-uitblinkerstoekenning 2024
Hierdie toekenning is vanjaar vir die eerste keer gemaak en bied erkenning aan ʼn Akademia-alumnus wie se verhaal ʼn blywende impak maak terwyl dié alumnus voorts ʼn voorbeeld van toewyding, sukses en pionierskap is. Die kriteria vir die toekenning is toegewys deur ʼn drieledige kriteria: personeelstemme vir die beste alumni-suksesverhaal, die suksesverhaal wat die beste op sosiale media ten opsigte van interaksie gevaar het, en die suksesverhaal wat die meeste webbladlesers gehad het. Die toekenning is gemaak aan Jean-mari Cornelius wat haar BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie in 2024 verwerf het. Cornelius is die eerste dowe graduandi wat hierdie kwalifikasie aan Akademia behaal het.
Futurum-toekennings 2025
In Akademia se strewe om uitnemendheid aan te moedig én te vier erken die Futurum-toekenning personeel wat hul doktorsgrade verwerf. Die oorkoepelende doel van hierdie toekenning is om akademiese uitnemendheid en vakwetenskaplike uitsette te erken.
Dr. Heleen Coetzee is vereer vir die voltooiing van haar DPhil-kwalifikasie met spesialisering in Kindersielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Dr. André Gouws het ook erkenning ontvang vir die verwerwing van sy DPhil-kwalifikasie in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.
Hartlik geluk aan elke alumnus, Fontie en personeellid wat vir hul uitnemendheid erken is. Dit is die instelling se wens dat hierdie sukses elkeen se pad vorentoe sal verlig sodat ʼn hoopvolle en mooi toekoms binne elkeen se bereik mag wees. Besoek gerus Akademia se sosialemediaplatforms vir foto’s van die geleentheid.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.