Fontie tree aan vir internasionale marathon én hartsaak

Gepubliseer op: 3 Maart 2025

Diederik du Toit (21) is ʼn Fontie op ʼn missie. Nie net maak hy gereed om op 16 Maart vanjaar die Rome Marathon aan te durf nie, maar óók om deur sy deelname bewustheid aan te wakker oor outisme en neurodiversiteit* in Suid-Afrika. Dié saak lê Du Toit, ʼn LLB– vierdejaarstudent, baie na aan die hart en hy dra sy deelname aan die opkomende marathon op aan sy nefie, Peter Rhys (6), wie voluit lewe ten spyte van sy nieverbale outisme.

Die marathon in Rome strek oor 42,195 km en die roete sluit van dié wêreldstad se mees bekende landmerke soos die Colosseum, Circo Massimo, Basilica di San Paolo en die Ponte Milvio in.

Deelname is ʼn hartsaak

Volgens Du Toit inspireer Rhys hom om die vaandel van bewusmaking op te neem en só ʼn lansie te breek vir diegene wat deur outisme en neurodiversiteit geraak word. Du Toit meen voorts dat daar nie genoeg in daaglikse gesprekke aan hierdie aspekte aandag gegee word nie, en dat met die aanloop tot Outismemaand in April, hy graag as ʼn fakkeldraer hiervoor wil optree soos die Olimpiese-atleet Caragh McMurty vir wie hy ʼn hoë agting het.

Omdat outisme selde op die oog af sigbaar is vir mense wat nie bewus is van die kenmerkende eienskappe nie, is daar nie altyd begrip vir die uitdagings wat neurodiverse gesinne in die gesig staar nie. Du Toit verduidelik voorts dat hierdie onkunde dikwels die vorm van wanopvattings en selfs stereotipiese stigmas aanneem. “Daar is ook baie ruimte vir verbetering wat ondersteuning aan dié gesinne betref, veral uit ʼn staatsondersteuningsoogpunt. Gelukkig is daar wel ook diepgewortelde gemeenskappe wat hard werk om ʼn verskil te bewerkstellig,” sê Du Toit. Een só ʼn gemeenskap word gelei deur dr. Emile Gouws, wat ook Suid-Afrika se neurodiversiteitsverteenwoordiger op die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir persone met gestremdhede is. Gouws gaan op 29 Maart vanjaar ʼn memorandum ter bewusmaking en bevordering van die regte van lede van die plaaslike outismegemeenskappe aan president Cyril Ramaphosa by die Uniegebou oorhandig. Hierdie oorhandiging verteenwoordig ʼn geskiedkundige eerste vir die neurodiversiteitsgemeenskap.

Ter voorbereiding vir die marathon publiseer Du Toit sy oefensessies tesame met kort inligtingsbrokkies oor outisme op die Strava-toepassing. Hierdie inligting sluit in antwoorde op wanpersepsies, interessante feite, en positiewe verwikkelinge in terme van ondersteuning – medies asook sosio-ekonomies van aard. “Hierdie sessies help my om selfs nog méér te leer en in die proses ʼn vlammetjie van hoop vir ander aan te steek. Ek is baie opgewonde oor die impak van hierdie sessies, want ek kom agter uit gesprekke met vriende dat hulle ʼn groter begrip begin toon en hul denkwyse positief aanpas,” sê Du Toit.

Meer oor Fontie-Diederik

Du Toit, ʼn oud-leerder van die Hoërskool Menlopark in Pretoria, pak sy studie aan Akademia via die instelling se nauurse afstandsmodel aan. Hy vertel dat dié model, en die e-leeropsie, dit vir hom moontlik maak om sy liefde vir reis uit te lééf. Du Toit bevind homself juis op die oomblik in die Franse platteland as deel van ʼn internasionale uitruilprogram.

Volgens Du Toit wou hy aanvanklik na skool oorsee studeer, maar ná ʼn matriekvakansie in die mooie Kaap het hy besluit om eerder sy studiereis in Suid-Afrika te onderneem. Hy het homself egter in ʼn doodloopstraat bevind wat aansoeke by openbare universiteite betref het. In dié tyd het Akademia as onafhanklike hoëronderwysinstelling egter nóg studieaansoeke aanvaar en hy is binne agt uur na sy aansoek ingedien is, met ope arms verwelkom.

“Ek het op die LLB-program besluit omdat ek ʼn voorliefde vir taal het én die waarde van die regte in welke loopbaanrigting besef,” verduidelik Du Toit wat naas Afrikaans en Engels ook Frans magtig is en homself tans leer om Mandaryns, Russies en Hindi onder die knie te kry. Hierdie liefde vir taal en breë begripsgrondslag van sy gekose studierigting rus Du Toit toe om sy belangstelling in internasionale ruimtereg, ondernemingsreg, intellektuele goederereg en tegnologiereg na te jaag.

As aktiewe Fontie het Du Toit op die studenteraad (SR) se uitvoerende subkomitee vir Verenigings gedien en is hy medevoorsitter van Akademia se eerste fakulteitsvereniging vir regstudente, Pontium. Hy is óók die medestigter en voorsitter van die fakulteit se Skynhofklub.

* Die term neurodiversiteit het dit ten doel om die voorkoms van onder meer aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), outisme, serebrale parese en kinders met leer- en denkverskille te verduidelik en só bestaande verskille in breinkapasiteit en -funksionering op die voorgrond te plaas.

Akademia-student, Diederik du Toit, se liefde vir sy nieverbale outistiese nefie, Peter Rhys (6), motiveer hom om vanjaar se Rome Marathon aan te durf. Du Toit sal dié marathon ter bewusmaking van outisme en neurodiversiteit aanpak.
Diederik du Toit, ʼn LLB-vierdejaarstudent aan Akademia bevind homself op die oomblik in Frankryk as deel van ʼn internasionale uitruilprogram. Hy voltooi sy studie via die instelling se nauurse afstandsmodel.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.