Gepubliseer op: 8 Januarie 2025
Geskryf deur dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling.
As naskoolse studie jou deel is in 2025, baie geluk! Jy staan op die drumpel van ʼn opwindende avontuur, met lewensverrykende potensiaal. Ja, die sprong vanaf die skoolbanke na die lesinglokaal en universiteitskampus is gróót, maar jy is nie alleen op dié ontdekkingstog nie. En voor jy jou oë uitvee, het jy jou voete gevind. Méér nog, jy sal eerstehands ervaar hoe jou studiereis jou ook in terme van karakter- en identiteitsontwikkeling na nuwe hoogtes voer.
Wanneer matrikulante en hul ouers besluit oor waar om te studeer en in watter spesialisrigting, word die keuse dikwels gegrond op die toekomstige loopbaan wat in die vooruitsig gestel word. Alhoewel hierdie ʼn baie belangrike oorweging is, moet daar ook met erns gelet word na geleenthede vir karakterontwikkeling omdat ʼn suksesvolle loopbaan op veel méér as net teoretiese kennis berus.
Vir jou, as skoolverlater en 2025-eerstejaarstudent, wink ʼn baie opwindende nuwe lewensfase. Nie net het jy die geleentheid om jouself professioneel – by wyse van akademiese en beroepsvaardighede – te onderskei nie, maar ook om as goed gevormde en toekomsgerigte individu ʼn positiewe impak te maak. Hierdie nuwe fase kan egter vreesaanjaend wees, omdat jy dit wat bekend is (jou skoolloopbaan, jou ouerhuis, vriende en selfs jou dorp of provinsie) vaarwel moet roep. Hierbenewens moet jy nuwe uitdagings die hoof bied terwyl jy jou identiteit binne ʼn nuwe studentemilieu ontwikkel en vestig. Laasgenoemde vra van jou ʼn dapper en eerlike selfontdekking wat jou in staat sal stel om binne die konteks van die groter studentegemeenskap jou regmatige plek uit te kerf en só jou studentweeservaring heelhartig te omarm.
Akademia se studentelewe het dit ten doel om ʼn tuiste te skep waar *Fonties se hart en denke geïntegreerd kan ontwikkel, hetsy ʼn student van die nauurse afstandsmodel of die voltydse kampusmodel gebruik maak. Dit word gedoen deur ʼn veilige ruimte te skep waar studente aan ʼn verskeidenheid studenteleweaktiwiteite kan deelneem. Verder bied die Studentesake-afdeling onderskraging en leiding by wyse van goed gestruktureerde ondersteuningsprogramme. Vanaf die eerste dag wat ʼn nuwe Fontie sy/haar voete op een van die kampusse in Centurion sit óf via die sentrumnetwerk of e-leeropsie aansluit, vind karaktervorming aktief plaas. Hierdie vorming geskied by wyse van aktiwiteite en programme wat pasgemaak is vir nuwe eerstejaarstudente en wat spreek tot die instelling se waardes as ʼn klassieke hoëronderwysinstelling. Dié waardes sluit in die strewe na die ware, die goeie en die skone; geloof, hoop en liefde; verbondenheid; rentmeesterskap en pionierskap.
Die programme en gepaardgaande aktiwiteite is nie net aanvullend tot studente se akademiese opleiding nie, maar dien ook as ʼn waardevolle platform vanwaar praktiese lewensvaardighede aangeleer word. Ander fokusareas sluit in voorbereiding vir die werksmark asook ʼn roepingsgedrewe toekomsvisie. Hierdie visie word gevorm deur ʼn deeglike begronding oor waar elke Fontie vandaan kom, en waarheen hy/sy op pad is.
In ʼn neutedop, omvat dié ondersteuningsprogramme, die volgende aspekte:
ʼn Bruisende studentelewe wat ook ʼn betekenisvolle koshuiservaring insluit.
Om nuwe eerstejaarstudente verder te laat welkom voel én om hul verbondenheid tot die Akademia-gemeenskap te versterk, speel senior studente ʼn belangrike begeleidende rol. Die studenteraad (SR) neem hier, in samewerking met die Studentesake-afdeling, die voortou. Hierdie studentenetwerk het nie net aanvaarding en meelewing ten doel nie, maar bevorder ook die smee van hegte vriendskappe. Deur jouself oop te stel vir nuwe ervaringe en kennis, neem jy doelbewus die eerste stap om jouself nie net beter te leer ken nie, maar om die beste moontlike weergawe van jouself te word.
Die instelling is opgewonde om die eerstejaarsgroep van 2025 te verwelkom, en om eerstehands te ervaar hoe hierdie studente hulself voorberei om ʼn betekenisvolle bydrae tot hul onderskeie gemeenskappe te maak.
*Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem. Dié eienaam is afgelei van die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.