Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Moet nie dat jou ‘vir nou’ ʼn ‘vir altyd’ probleem raak nie

Gepubliseer op: 12 Julie 2022

Geskryf deur Monique Brasler, deeltydse dosent in BCom (Finansiële Beplanning) by Akademia

In beleggings sê ons altyd dat saamgestelde rente jou grootste vriend is wanneer jy belê. In die geval van skuld is dit een van jou enkele grootste vyande. Dit is hoekom die opbou van ʼn noodfonds een van die belangrikste eerste stappe na finansiële vryheid is. Daar is niks wat jou finansiële plan of strategie so in die wiele kan ry soos ʼn noodgeval nie.

Ons was al almal op ʼn stadium in die knyp – ʼn wasmasjien wat breek of ʼn band wat stukkend gery word in ʼn slaggat. Almal het onvoorsiene uitgawes en noodgevalle. Dit is maklik om in die versoeking te kom om hierdie uitgawes te dek uit die bietjie ekstra wat mens in jou verband beskikbaar het of op ʼn kredietkaart.

Die laaste ding wat ons wil doen, is om uit ons beleggings te trek wanneer die nood druk. Soos die noodlot dit wil hê, sal die wasmasjien breek wanneer die markte op ʼn laagtepunt is. Hierdie is ʼn paar maklike stappe om te verseker dat ʼn noodgeval nie jou planne in die wiele ry nie:

  1. Kyk watter noodfonds vir jou gepas is. Vir baie mense is dit ʼn aparte spaarrekening wat aan hulle bankrekening gekoppel is of ʼn ander tipe geldmarkrekening by ʼn batebestuurder. Die belangrikste oorweging is likwiditeit en koste – maak seker dat die kapitaal binne vyf besigheidsdae in jou bankrekening kan wees en dat daar nie enige boetes vir ʼn onttrekking is nie.
  2. Maak seker wat deur jou versekering, mediese fonds en gapingsdekking gedek word. Kyk ook wat die verskillende bybetalings is.
  3. Besluit watter bedrag vir jou reg is. Dit is ʼn baie persoonlike besluit en sal wissel van persoon tot persoon. ʼn Goeie maatstaf is gewoonlik drie tot ses maande se uitgawes.
  4. Dra ʼn maandelikse bedrag tot hierdie rekening by tot jy ʼn bedrag opgebou het waarmee jy gemaklik is.
  5. Betaal so gou moontlik alle onproduktiewe skuld (klererekeninge, kredietkaarte en motorskuld) af. Dit sal kontantvloei bevry om makliker kleiner bedrae te dek.
  6. Vul jou noodfonds aan soos die kontant uitgekeer word. Soos jy die fondse in jou noodfonds gebruik, is dit belangrik om die fondse weer aan te vul wanneer daar ʼn geldjie beskikbaar raak.

 

Mens kan ongelukkig nie altyd vir ʼn noodgeval beplan nie, maar die bogenoemde stappe behoort te help dat dit nie ʼn permanente terugslag op jou pad na finansiële vryheid is nie.

Monique Brasler is ʼn deeltydse dosent in Finansiële Beplanning by Akademia en vier vandeesmaand saam met die instelling Spaarmaand.