Gepubliseer op: 22 November 2024
Die bou van goeie verhoudings staan sentraal tot die effektiewe gebruik van sosiale media, en daarom kan dié kommunikasiemedium net soveel van ʼn positiewe as ʼn negatiewe impak hê, veral wat besigheid betref. Gedagtig hieraan het akademici vanuit die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program by Akademia onlangs ʼn dinamiese sosialemediawerkswinkel aan verskeie nieregeringsorganisasies (NRO’s) aangebied.
Die Social Savvy-werkswinkel is op 19 November 2024 by die instelling se sentrum in die Moot in Pretoria aangebied en is bygewoon deur verteenwoordigers van Huis Herfsblaar, Uitkoms Versorgingsentrum en Dynamic Women for Children. Die fokus was op beste praktyke soos van toepassing op die gebruik van sosiale media vir bemarking-, handelsmerkbewustheid en fondsinsamelingsdoeleindes.
Volgens dr. Annerie Geyer, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe, staar die NRO-omgewing baie spesifieke uitdagings in die gesig, veral as dit kom by spesialisvaardighede soos kommunikasie en bemarking. “Akademia, as ʼn gemeenskapsinstelling, kan op ʼn sinvolle wyse help om hierdie uitdagings aan te pak en só die gemeenskap se hande te versterk. Natuurlik bied hierdie samewerking ook aan ons studente die geleentheid om praktykgerigte ervaring op te doen terwyl hulle ook die waarde van roepingsgedrewe gemeenskapsontwikkeling eerstehands kan ervaar,” verduidelik Geyer. Sy voeg by dat dit dan ook die Departement Tale en Kultuurwetenskappe se hoop is dat hierdie ervaring en blootstelling studente sal aanspoor om self ʼn passie vir gemeenskapsbetrokkenheid te ontwikkel. Laasgenoemde spreek direk tot die instelling se vormingsideaal wat daarop toegespits is om die denke én hart van studente te vorm met die oog op ʼn vrye toekoms.
Die deelnemende NRO’s is deur finalejaarstudente in die program geïdentifiseer as deel van ʼn oorkoepelende projek waarin hulle getaak was om ʼn geïntegreerde kommunikasieplan vir diesulke organisasies te ontwikkel. “Ons studente en hierdie NRO’s onderneem in wese ʼn jaarlange leersame en ontwikkelingsreis met mekaar as reisgenote. Deur saam te werk word oplossings gevind vir uitdagings, en derhalwe vir die wedersydse leerervaring word die gemeenskap as geheel óók positief geraak,” sê Geyer.
Tydens die werkswinkel is daar krities gekyk na die NRO’s se huidige sosialemediagebruik waarna Anria Leeuwner, direkteur van Impactful Media Mentors, die klem op beste praktyke laat val het. Die deelnemers kon gevolglik saam met die Akademia-kundiges werk om hul nuutgevonde kennis en vaardighede prakties in hul bestaande planne en beleidsdokumente toe te pas.
Volgens dr. Hélanie Jonker, dosent: Tale en Kultuurwetenskappe, heers daar groot opgewondheid in die departement oor dié gemeenskapswerk en word ʼn reeks Savvy-werkswinkels vir 2025 in die vooruitsig gestel. Ná gespreksvoering met verskeie NRO’s kon die departement ʼn behoeftebepaling doen ten einde verdere temas te ontsluit. Hierdie temas sluit onder meer in reputasiebestuur, werwing, kommunikasie met vrywilligers en die fondsinsamelingsproses. “Dit is vir ons belangrik om nie net eenmalig met hierdie organisasies te skakel nie maar om diepgaande en betekenisvolle langtermynverhoudings te kweek,” meen Jonker.
Aansoeke vir die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag. Vir meer inligting besoek die Akademia-webblad.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.