Search
Close this search box.

Ivanké Myburgh se volsirkel-reis: Van Fontie tot alumnus en nou ook entrepreneur

Gepubliseer op: 28 Oktober 2024

Dit is jakaranda-tyd en Pretoria is geklee in sy bekende en pragtige pers baadjie. En vir Ivanké Myburgh (25), of Vankie soos haar vriende haar noem, is dit die mooiste tyd van die jaar. Om die waarheid te sê, die verloop van die seisoene tesame met die uitbundige vertoon van groei, is vir dié Akademia-alumnus ʼn soete herinnering aan haar eie volsirkel-reis.

Sy vertel dat hierdie reis reeds begin vorm aanneem het op die speelgronde van Laerskool Stephanus Roos en die Ekonomie-klas van juffrou Liza van Niekerk by die Hoërskool Montana. Dit het verder momentum gekry by Akademia en ná die verwerwing van die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie in 2021 het haar passie vir entrepreneurskap behoorlik ontvlam. Sedertdien het sy nie net haar eie baie suksesvolle kantoorbenodighedebesigheid, ARKE Creative Solutions, op die been gebring nie, maar ook na vore getree as ʼn borg vir haar alma mater se gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Sy het ook in 2023 aan AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie deelgeneem en ʼn toptienplek met haar besigheidsvernuf behaal.

“Ek is ʼn trotse oud-Fontie en dit is vir my só lekker om as borg iets tot die instelling by te dra,” sê Myburgh. Sy voeg by dat sy opgewonde is oor die toekomstige rol wat Fontie-preneurs het om te speel. “Entrepreneurs hou die sleutels na ʼn volhoubare toekoms in hul hande, en daarom ondersteun ek Akademia ten volle in sy roepingstaak om studente aan te moedig en toe te rus vir die dag van more,” meen Myburgh.

My studiereis aan Akademia

Myburgh se studiereis het in 2018 begin, en sy het via die instelling se nauurse afstandsmodel studeer. Sy vertel dat sy aanvanklik by die sentrum in die Moot ingeskakel was en dat die aanvang van die Covid-19-pandemie haar genoop het om na e-leer oor te skakel. “As ek terugdink aan daardie tyd, is dit met groot lof vir Akademia se dosente en ondersteuningspersoneel. Hulle het onverskrokke daaraan gewerk om te verseker dat alle Fonties se studie naatloos voortgaan te midde van die pandemie,” sê Myburgh. Sy ag haarself ook as bevoorreg om, te midde van streng Covid-19-protokolle, tydens die 2021-kwalifikasieplegtigheid oor die verhoog te kon stap.

Haar gunstelingmodule was Ondernemingsbestuur. Myburgh is dit eens dat Monique Visser, ʼn bewese dosent in dié vakgebied, se passie en kundigheid haar, en menige ander studente, geïnspireer het om te presteer. Nóg ʼn eertydse dosent wat ʼn groot rol in Myburgh se studiereis gespeel het, is Mareli Bothma.

“Ek sal Akademia 110% aan ander persone voorhou as ʼn voorkeurstudietuiste,” sê Myburgh en voeg by dat die instelling waarlik vir oud én jonk, en verskillende lewensfases, voorsiening maak. “Óf jy nou ʼn skoolverlater is, voltyds werk, gesinsverpligtinge het óf op ʼn latere ouderdom studie as ʼn item op jou emmerskoplysie wil aftik, jy sal méér as net ʼn akademiese tuiste by Akademia vind,” verseker Myburgh.

Die waarde van ʼn ondersteuningsnetwerk

As Myburgh één belangrike brokkie advies aan huidige Fonties kan gee, is dit om nóóit die waarde van ʼn ondersteuningsnetwerk te onderskat nie. “As jy in die lewe regtig iets met jou hele hart en wese nastreef, moet jy bereid wees om hard daarvoor te werk. In hierdie strewe, gaan jy beslis ondersteuning nodig hê. Koester diégene wat die pad saam met jou stap en maak gebruik van bestaande hulp en onderskraging,” sê Myburgh.

In haar geval lig sy haar hoed vir haar ouers, Pieter en Corlea Myburgh, wat haar tydens haar studiejare ondersteun het. Haar sielsgenoot, Shane Smith, is volgens Myburgh haar grootste ondersteuner en motiveer haar daagliks om steeds hoër hoogtes te bereik.

Wat ondersteuning by Akademia betref, meen Myburgh dat studente hulself in baie bekwame hande bevind. “Die verskillende ondersteuningsdienste funksioneer soos ʼn goed geoliede masjien, en óf jy nou ʼn akademiese, tegniese óf persoonlike uitdaging beleef, daar is altyd iemand wat gewillig is om die ekstra myl te loop,” sê Myburgh. “As ek weer moet kies, sal dit sonder twyfel weer Akademia wees. Akademia is soos ʼn hegte familie en dit is ʼn band wat vir altyd bly.”

Ten opsigte van haar loopbaan as entrepreneur, meen Myburgh dat sy baie dankbaar is vir die rol wat haar boetie, Arno Myburgh, speel. Arno is self ʼn suksesvolle entrepreneur en tree ook op as Myburgh se besigheidsmentor en -vennoot. Die naam van Myburgh se besigheid verteenwoordig juis ʼn simboliese samevoeging van dié sibbes se name: ARno en IvanKE

“Ek jubel en juig in my seisoen van groei, en dit is ʼn groot voorreg! Ek is voorts dankbaar vir die Here se genade oor my besigheid en dit is my hartsgebed om ook deur my volgehoue betrokkenheid by my alma mater, sy guns aan elkeen sal oordra waarmee ek paaie kruis,” sluit Myburgh af.

Is jy ʼn Akademia-alumnus? Wil jy graag by jou alma mater betrokke raak? Klik hier om meer te wete te kom oor die instelling se alumnivereniging.

Ivanke Myburgh, is ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-alumnus, en het in 2021 dié kwalifikasie met lof verwerf.
Myburgh tree reeds vir die afgelope twee jaar as ʼn borg op vir Akademia se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Monique Visser, programkoördineerder van die BCom (Ondernemingsbestuur)-program verskyn saam met haar op dié foto.