Search
Close this search box.

Akademia ontvang Amerikaanse denkgenoot-instelling vir besoek

Gepubliseer op: 23 Augustus 2024

Akademia het vanaf 19 tot 23 Augustus 2024 as gasheer opgetree vir ʼn afvaardiging vanaf Hillsdale College in Michigan in die Verenigde State. Dié instelling word as een van die mees vooraanstaande Christelike en klassieke universiteite in Amerika gereken en sy oorsprong kan sover terug as 1844 nagespoor word.

Die afvaardiging het bestaan uit dr. David Whalen, medevisepresident vir Kurrikulumontwikkeling, dr. Mark Kalthoff, bekleër van die Henry Salvatori-ereleerstoel vir Geskiedenis en Tradisionele Waardes, en Mark Maier, medeprovost.

Volgens prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, verteenwoordig die besoek ʼn hoogtepunt op die gebeurlikheidskalender van die NP van Wyk Louw-sentrum. Hy voeg by dat gesprekke oor hierdie besoek reeds in 2016 posgevat het tydens ʼn akademiese toer wat Akademia na die VSA onderneem het. Die doel van dié toer was om kers op te steek by universiteite wat spesifiek ʼn samehang van opleiding én vorming nastreef. Dit is toe reeds bevind dat Hillsdale College en Akademia denkgenoot-eweknieë is wat die aard en wese van die klassieke universiteitswese betref.

Die weeklange besoek het uit verskillende lesings en informele gespreksessies bestaan waartydens die klassieke universiteitsidee van die vrye kunste (liberal arts) as ʼn omvattende vormingspraktyk (van denke en karakter) met personeel en studente bespreek is. Volgens Goosen is waardevolle lesse geleer terwyl verskeie beste praktyke ook tydens die gesprekke ontgin is. Goosen is veral opgewonde oor die praktiese implementering van die vrye kunste as ʼn onderbou in bestaande dissiplines ten einde vakkennis te verbreed. Hiermee saam is kennis ook opgedoen oor maniere waarop Akademia sy studentelewe verder kan ontwikkel en uitbrei om selfs méér fokus op vorming te verseker.

Die twee instellings kon voorts ervaringe uitruil oor gedeelde praktyke soos byvoorbeeld die Groot Boeke-program. Laasgenoemde het dit ten doel om studente, by wyse van die bestudering van klassieke en noemenswaardige publikasies, ʼn breë raamwerk op die werklikheid en menslikheidskonsep te bied. Hierdie groter bewustheid en breër denkraamwerk in samehang met die onderskeie vakspesifieke inhoude dra verder tot die ontwikkeling van studente as volronde spesialiste by.

Op die vraag waarom die vrye kunste só ʼn belangrike rol speel, veral gegewe die Suid-Afrikaanse konteks, verduidelik Goosen dat dit ʼn werkbare oplossing kan bied vir die enorme krisisse wat die land in die gesig staar. “Bykans elke aspek van ons werklikheid word deur die een of ander krisis bedreig. Hierdie uitdagings spreek van aspekte soos byvoorbeeld die voorsiening van noodsaaklike dienste, die instandhouding van infrastruktuur, ʼn diepgaande struikeling van die onderwysstelsel en etiese kwessies soos omvattende vlakke van korrupsie en bedrog,” verduidelik Goosen. Hy voeg by dat hoogs gespesialiseerde kundiges in elke dissipline nodig is om hierdie uitdagings met selfvertroue aan te pak en wesenlike verandering te bewerkstellig. “Die vrye kunste stel studente bloot aan ʼn dieperliggende denkpatroon wat voortdurend die groter geheelbeeld en ewige beginsels van menswees vooropstel en op hierdie wyse kyk studente, as die spesialiste van die toekoms, verder en met groter insig na uitdagings,” sê Goosen.

Goosen sluit af deur te sê dat Akademia, soos ook die geval is met Hillsdale College, geanker is in die strewe om toenemend aan studente ʼn geïntegreerde beeld op die werklikheid te bied. Hierdie beeld word in navolging van die denkskool wat vorming (as interdissiplinêre begrip vir hoe die werklikheid inmekaarsteek) én opleiding (as vakspesifieke kennis en kundigheid) vooropstel.

Op hul beurt het die besoekers die Akademia-gemeenskap bedank vir die hartlikheid waarmee hulle ontvang is, die diepte van die oop gesprekke en die passievolle leergierigheid wat deur personeel en studente geopenbaar is. “Ons het soveel méér uit hierdie besoek gekry, as wat ons ooit voor kon hoop. Ons koester Akademia as denkgenoot-eweknie en bowenal as gewaardeerde vriend,” sê Whalen. Kyk hier na ʼn videogreep waarin Maier sy ervaring by Akademia opsom.

Akademia het onlangs gasheer gespeel vir ʼn afvaardiging van die Hillsdale College in die VSA. Van links is prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, dr. David Whalen, medevisepresident vir Kurrikulumontwikkeling, dr. Mark Kalthoff, bekleër van die Henry Salvatori-ereleerstoel vir Geskiedenis en Tradisionele Waardes, Mark Maier, medeprovost, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.
Gedurende die weeklange besoek is verskeie gespreksessies aangebied waartydens Akademia-personeel meer oor die werksaamhede van hul Amerikaanse eweknieë kon leer.
Akademia se studenteleiers het ook die geleentheid gehad om meer oor die Hillsdale College se studentelewe-ervaring te leer.