Search
Close this search box.

Nuwe leierskapshorison wink vir Johannes as SR-voorsitter

Gepubliseer op: 15 Augustus 2024

Johannes van Jaarsveld (20) is op 14 Augustus 2024 as Akademia se nuwe voorsitter van die studenteraad (SR) vir die termyn 2024/2025 ingehuldig. Hy volg in die voetspore van Myrtle Endley, wat vir die 2022/2023- asook die 2023/2024-termyn as voorsitter gedien het.

Van Jaarsveld, ʼn oudonderhoofseun en graadleier van Hoërskool Menlopark in Pretoria, is tans ʼn tweedejaarstudent in die BCom (Ekonomie en Regte)-program wat hy via die instelling se voltydse kampusmodel aanpak. As Fontie het Van Jaarsveld ook al reeds op verskeie studenteleierskapstrukture gedien, waaronder dié van SR-adjunkvoorsitter gedurende die 2023/2024-ampstermyn sowel as ondervoorsitter van die sosiale komitee in 2023.

Vir Van Jaarsveld is leierskap, en méér nog dienende leierskap, ʼn manier waarop gemeenskappe gevoed word met die deugde van die ware, die skone en die goeie. “Gemeenskappe is die sleutel tot sukses, en die vrugbare grond waarin ons geloofsoortuigings en -dade tot vrug kom,” verduidelik Van Jaarsveld. Hy voeg by dat daar nie ʼn beter plek is as juis Akademia se bruisende studentelewe om hierdie roeping uit te lééf en sy leierskapsvaardighede toekomsgerig te slyp nie.

“Soos ek my nuwe leierskapsavontuur aanpak, hou ek vas aan Akademia se vormingsideaal as my kompas,” sê Van Jaarsveld en voeg by dat dit vir hom belangrik is om te help bou aan ʼn omgewing waarbinne hierdie karaktervorming van denke én die hart naatloos kan plaasvind. Dit is binne hierdie omgewing waarin hy homself daarop wil toespits om mede-Fonties te help om hul roepingsgedrewe identiteit ten volle te ontwikkel en só ʼn waardevolle bydrae tot hul onderskeie gemeenskappe te kan lewer. In hierdie verband rig Galasiërs 6: 9-10 sy strewe: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges”.

Volgens Van Jaarsveld is dit ook vir hom belangrik dat studente die vrymoedigheid sal hê om hom en die ander nuutverkose leiers met verwagting te kan nader. “Die studenteraad is ʼn spreekbuis vir studente en het daarom alle Fonties se beste belange op die hart. Ek nooi elke student om in gedurende dié nuwe ampstermyn hande te vat en Akademia se studentelewe na nóg hoër hoogtes te voer,” sê Van Jaarsveld.

Op die vraag wie hy as rolmodelle beskou, antwoord Van Jaarsveld dat sy ouers veral ʼn groot rol in sy lewe speel. Danksy hulle het hy nie net ʼn goeie voorbeeld van hoe Christenskap in aksie lyk nie, maar het hy ook die deugde van deursettingsvermoë en volharding geleer. Op dieselfde manier kyk hy ook met groot agting op na veral twee Akademia-rolmodelle: dr. Heleen Coetzee, hoof van Studentesake, en Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe en koshuise. “Danksy hul voortdurende ondersteuning, wysheid en bereidwilligheid om hul ervaring en kennis te deel, is ek opgewonde oor my toekomsreis. Ek weet dat ek by Akademia is vir ʼn doel, en dat ek ʼn toekomsverantwoordelikheid het,” verduidelik Van Jaarsveld.

“Ek is só opgewonde oor die termyn wat voorlê en kan nie wag om aan die werk te spring nie. Ek en die res van my leierskapskomitee is diensgereed!,” sê Van Jaarsveld. Hy nooi voornemende Fonties uit om die instelling te besoek en eerstehands te ervaar hoe dié studietuiste lewensveranderend is.

“Johannes is ʼn leier wat moue oprol en raakvat,” sê D’Assonville. Hy voeg by dat dit vir hom en sy kollegas in die Studentelewe-afdeling lekker is om te sien hoe Van Jaarsveld as ʼn leier ontwikkel. D’Assonville wens Van Jaarsveld ʼn impakvolle termyn toe en het die hoop uitgespreek dat dit ʼn blomtyd vir die instelling se studentelewe sal wees. “Akademia bied al vir langer as ʼn dekade ʼn veilige tuiste vir studente en het reeds verskeie gevestigde studenteaksies en dinamiese koshuise met gepaardgaande tradisies. Nou is die tyd om die instelling se volhoubare studentelewe na selfs groter hoogtes te neem!” sê D’Assonville.

Johannes van Jaarsveld is die nuutverkose voorsitter van Akademia se studenteraad vir die 2024/2025-termyn.