Search
Close this search box.

Seënbede en vonkelwyn vir nuutverkose Akademia-SR

Gepubliseer op: 15 Augustus 2024

Op Woensdag 14 Augustus is Akademia se nuutverkose studenteraad (SR) vir die 2024/2025-termyn op luisterryke wyse ingehuldig op die instelling se Gerhardstraat-kampus in Centurion. Tydens die geleentheid is die uittredende SR-lede ook vereer vir hul bydrae tot die instelling se dinamiese studentelewe.

In haar openingsrede het dr. Heleen Coetzee, hoof van Studentesake by Akademia, gesê dat dié inhuldigingsgeleentheid jaarliks ʼn hoofletterdag in die instelling se studentelewekalender verteenwoordig. Sy het die studenteleiers, uittredend sowel as die nuutverkose groep, geloof vir hul verbintenis tot die uitbouing van Akademia se bruisende studentelewe en hul toewyding tot die kernwaardes van rentmeesterskap, pionierskap en verbondenheid. “As ek aan ons studenteleiers dink, dan is daar veral drie karaktereienskappe wat vir my uitstaan, naamlik voorlopers, dienaars en verskilmakers,” sê Coetzee en voeg by dat dit ook hierdie eienskappe is wat Fontie-leiers onmisbaar maak.

Volgens Marthinus Visser, die instelling se besturende direkteur, was dit ʼn voorreg om eerstehands te kon ervaar hoe die uittredende leierskapsgroep gestalte gegee het aan hul ampstermyn. Volgens Visser het dié groep hulself as dienende leiers onderskei. “Dienende leierskap verwys nie daarna om ander mense te dien nie, maar eerder om die saak waarvoor jy aangestel is met oortuiging en onderskeiding te dien,” verduidelik Visser en voeg by dat die groei en dinamika van die instelling se studentelewe as gevolg van hierdie diensbaarheid gedy.

Gedagtig aan Akademia se visie, naamlik om ʼn akademiese tuiste te wees waar denke én hart gevorm word, meen Visser dat die verantwoordelikheid van studenteleierskap steeds verder tot dié vorming bydra. Volgens hom het die uittredende leierskapsgroep die volgende vormingsaspekte omhels, en is dit ook sy wens dat die nuwe leierskapsgroep dieselfde lesse sal leer:

  • Die vaardigheid om by wyse van beïnvloeding mense aan te spoor, te motiveer en te mobiliseer.
  • Om take nie net met ʼn verantwoordelikheidsin aan te pak nie, maar ook om hierdie take reg, goed en met smaak af te handel.
  • Om ʼn balans te handhaaf ten spyte van ʼn veelheid van verantwoordelikhede.
  • Druk te omhels en selfs te verwelkom as ʼn geleentheid om te groei, nie net in kennis en ervaring nie, maar ook in terme van karakterontwikkeling.
  • Die sowel as-denkpatroon te begryp en toe te pas. Dit sluit byvoorbeeld in die vestiging van nuwe tradisies sowel as die herbesinning van bestaande tradisies.

Vir Myrtle Endley, die uittredende SR-voorsitter, het die aand haar die geleentheid gebied om terug te kyk en te besin oor haar tyd in die voorsitterstoel. Endley het vir twee agtereenvolgende termyne – in 2022/2023 en 2023/2024 as voorsitter gedien. Volgens Endley is studenteleierskap gelykstaande aan rentmeesterskap en daarom moet die verantwoordelikhede wat hiermee gepaard gaan met erns en groot omsigtigheid aangepak word. “As ʼn studenteleier het ek dit as my plig gesien om deurgaans op só ʼn wyse op te tree dat ek ander Fonties kon help om tot die besef te kom dat hulle werklik tot enigiets in staat is, en dat hulle potensiaal onbegrens en onbeperk is,” sê Endley. Sy voeg by dat haar leierskapservaring haar lewe ten goede verander het en dat sy met nuwe oë na haar leefwêreld kyk as ʼn geleentheid om te dien en ʼn verskil te maak.

Sy wens die nuwe leierskapsgroep alle sterkte toe en het die volgende leierskapslesse met hul gedeel:

  • Openbaar ten alle tye ʼn leerbare gees.
  • Bly altyd nederig en wees eerlik.
  • Handhaaf integriteit in alles wat jy doen.

Johannes van Jaarsveld, Akademia se nuwe SR-voorsitter, het die geleentheid afgesluit deur te sê dat hy en sy raad diensgereed is. Hy het die uittredende studenteraad geloof vir die grondslag wat hulle gelê het, asook die mentorskap waarby die nuwe leiers kon baat. Hy het dit onomwonde gestel dat hy sy taak as voorsitter as ʼn Goddelike roeping sien en dat hy daarna uitsien om die Fontie-gemeenskap na selfs hoër hoogtes te help voer.

Die geleentheid is afgesluit deur die opdra van Psalm 134 vers 4 aan die nuwe leierskorps: “Laat, Heer, u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal! U wat beveel en dit geskied, wil Heer, u seën oor hul gebied!”

Die SR vir 2024/2025 en hul portefeuljes is as volg toegeken:

  • SR-voorsitter: Johannes van Jaarsveld
  • Adjunkvoorsitter: Matthew Luës
  • Koshuisraad: Marzé Becker
  • Gemeenskap: Annemé Kriel
  • Verenigings: Martin Munro
  • Finansies: Maarten van Aswegen
  • Sport: Corné Boer
  • Bemarking en Kommunikasie: Wilani Alberts
  • Kuns en Kultuur: Elsomé Thuynsma
  • Bemarking (nauurs): Gerda Saunders
  • Studenteaktiwiteite (nauurs): Chanté-Marié Espach

Akademia wens elke nuwe studenteraadslid voorspoed toe vir die termyn wat voorlê. Mag elkeen ʼn ware verskil maak in mekaar, in hul medestudente en in Akademia. Die instelling sien uit na alles wat hulle as span in die termyn gaan bereik.

Die Akademia-SR vir die 2024/2025-termyn is, van links voor: Chanté-Marié Espach, Johannes van Jaarsveld (voorsitter), Matthew Luës en Annemé Kriel. Agter van links is Wilani Alberts, Maarten van Aswegen, Elsomé Thuynsma, Marzé Becker, Martin Munro, Gerda Saunders en Corné Boer.
Myrtle Endley, die uittredende SR-voorsitter,het belangrike leierskapslesse met die nuutverkose leierskapsgroep gedeel.
Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, en dr. Heleen Coetzee, hoof Studentesake, het die uittredende leierskapsgroep vir hul toewyding en impak bedank.